Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dit gaan beter in Noordwes, hoor NRP

Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het Donderdagmiddag gehoor dinge gaan beter in Noordwes sedert die kabinet in Mei 2018 besluit het ’n interministeriële komitee en nasionale staatsdepartemente moet ingryp om dié provinsie reg te ruk.

Die kabinet het destyds op die ingryping besluit omdat daar groot onstabiliteit in dié provinsie was, gewelddadige protesoptrede weens swak dienslewering voorgekom en die provinsie se gesondheidstelsel in duie gestort het.

Baie munisipaliteite was ook op die randjie van ineenstorting.

Supra Mahumapelo, die eertydse premier, is kort ná die ingryping deur die interministeriële komitee as premier vervang deur prof. Job Mokgoro, terwyl die ANC ook die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC in dié provinsie ontbind het.

Jonathan Timm, ’n direkteur van die Universiteit van Kaapstad se departement van beplanning, monitering en evaluasie, wat met die interministeriële komitee saamgewerk het, sê stabiliteit het grotendeels na Noordwes teruggekeer.

Prof. Job Mokgoro, premier van Noordwes.

Hy sê die kabinet hoop om die ingryping teen die einde van die huidige finansiële jaar af te skaal.

Timm het die voorlegging gedoen namens dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat die voorsitter van die interministeriële komitee is.

Dlamini-Zuma sê sy hoop amptenare van die 11 provinsiale departemente kan teen die einde van die finansiële jaar weer die beheer van hul onderskeie departemente terugneem.

Opposisiepartye het egter langtand gebyt aan die voorlegging en sê die situasie in die provinsie is steeds nie na wens nie.

Hulle wou onder meer weet waarom die verslag nie eers aan Noordwes se provinsiale wetgewer voorgelê is nie.

Ook Aaron Motswana, ’n ANC-voorsitter van die Noordwes-wetgewer se portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê hy stem nie met die verslag saam nie.

Motswana sê van die administrateurs wat deur die interministeriële komitee aangestel is, weier om voor die provinsiale wetgewer te verskyn. Hul verweer is hulle is net verantwoordelik aan lede van die interministeriële komitee.

Tshepo Mohlala, administrateur van die departement van onderwys in Noordwes, het dit ontken.

Timm sê volgens statistieke van die polisie is daar al hoe minder onrus oor swak dienslewering. Die weermag het ingegryp om in sommige munisipaliteite met dienslewering te help.

Voorts is die waterkrisis in die provinsie geïdentifiseer as ’n belangrike kwessie wat nou aandag geniet.

Daar is ook beter beplanning en werk wat vroeër na die kantoor van die premier gesentraliseer is, is terug by hul provinsiale departemente. Verskeie kontrakte wat spandabelrig was en swak bestuur is, is beëindig.

’n Instandhoudingsplan vir hospitale is in plek gestel, meer medisyne is beskikbaar en daar word strafregtelik en dissiplinêr opgetree teen verskeie mense in senior posisies.

Die feit dat verlede jaar se algemene en provinsiale verkiesing, asook vanjaar se tussenverkiesings, op plaaslike vlak sonder probleme verloop, is ’n bewys dat die mense van Noordwes steeds groot vertroue in die demokratiese proses het.

Timm sê een van die ander positiewe aspekte is dat die aantal munisipaliteite en departemente in die provinsie wat ongekwalifiseerde ouditverslae ontvang het volgens die ouditeur-generaal se jongste verslag van vier tot sewe toegeneem het. Dit sluit in die kantoor van die premier, wat die eerste keer in vyf jaar ’n ongekwalifiseerde verslag gekry het.

“Ons weet daar is nog groot uitdagings in Noordwes, ondanks die feit dat groot vordering die laaste twee jaar gemaak is,” het Timm gesê.

Mokgoro het saamgestem vordering is op provinsiale vlak gemaak. “Ons beweeg in die regte rigting. Dit is net jammer daar is nog nie ooreenstemmende verbetering in plaaslike munisipaliteite nie.”

Die premier sê sy regering en die Noordwes-Universiteit het pas ooreengekom om saam ’n skool vir regeerkunde te begin.

“Dit is nou belangrik om kapasiteit in ons departemente te bou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.