Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Dit gaan elke jaar slegter met munisipaliteite’ – Cyril

Dit is kommerwekkend dat al meer munisipaliteite se bestuur jaarliks verswak pleks van verbeter, het pres. Cyril Ramaphosa Donderdagoggend op die Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga) se kongres gesê.

Salga, wat vanjaar 20 jaar oud is, se kongres van Donderdag tot Vrydag word vanjaar weens die Covid-19-pandemie aanlyn gehou.

Ramaphosa het aan die burgemeesters, raadslede, munisipale amptenare en tradisionele leiers, wat lede van Salga is, gesê hoewel baie vooruitgang die laaste 20 jaar op plaaslike regeringsvlak gemaak is en die lewensgehalte van miljoene Suid-Afrikaners verbeter is, kom dié vlak van regering voor baie ernstige uitdagings te staan.

“Die jongste verslag van die ouditeur-generaal wys op ’n ernstige verval op die vlak van regerings- en finansiële bestuur in ons munisipaliteite.

“In die finansiële jaar 2018-’19 het net 20 van die land se 257 munisipaliteite skoon ouditverslae ontvang. Dit is minder as 8%.

“Wat dit erger maak, is die feit dat die situasie jaarliks versleg,” het die president gesê.

Dit is so dat munisipaliteite baie van hul uitdagings oorgeërf het. Dit sluit in ’n grootskaalse agterstand in dienslewering, ongelykheid, swak inkomste en al hoe meer eise vir dienste en die afwenteling van verskeie nuwe magte en funksies aan plaaslike regerings, sê Ramaphosa.

“Ongelukkig is dit ook so dat baie munisipaliteite nie die kapasiteit het om dit te kan doen wat van hulle verwag word nie.

“Van die munisipaliteite het hulself wel taamlik tot baie goed toegerus om beter dienste te lewer as vroeër. Ongelukkig is dit ook so dat van die munisipaliteite nie eens die mees basiese dienste kan lewer nie. Om nie eens te praat van die ontwikkelingsrol wat hulle veronderstel is om te speel nie,” het hy bygevoeg.

pres. Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa toe hy verlede maand die beleggingskonferensie in Sandton, Johannesburg geopen het. Foto: Reuters

Tesame met institusionele swakplekke soos korrupsie en nepotisme bevind talle munisipaliteite hulle tans in ’n geloofwaardigheidskrisis.

“Ons kan nie toelaat dat die wydverspreide regeringsmislukkings in munisipaliteite voortduur nie. Ons kan nie munisipaliteite hê wat só wanfunksioneel is dat mense hulle tot geweld moet wend om gehoor te word nie.

“Ons kan nie toelaat dat regerings op plaaslike vlak misluk nie. Gebeur dít, misluk regering ook op provinsiale vlak en uiteindelik op nasionale vlak.

“Munisipaliteite is eenvoudig te belangrik om te misluk. Dit is te belangrik vir ons mense, ons ontwikkelingsdoelwitte en die toekoms van die land.

“Plaaslike regerings is die middelpunt van dienslewering, van maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling en die regering se pogings om ’n ware demokratiese, geïntegreerde, voorspoedige, nieseksistiese en nierassige gemeenskap te bou.

“Salga is op die voorgrond om plaaslike regerings te hervorm om doelmatig te wees, die land se mense te dien en in hul behoeftes te voldoen.”

Ramaphosa het gesê hy glo die distriksontwikkelingsmodel wat die regering verlede jaar aanvaar het, kan in die toekoms die swakhede in dienslewering, beplanning, begrotings en inwerkingstelling op plaaslike regeringsvlak verbeter.

Dit is omdat daar met dié model ten nouste op al drie regeringsvlakke – plaaslik, provinsiaal en nasionaal – saamgewerk word om toe te sien dat bronne nie vermors word nie en die behoeftes van gemeenskappe aandag geniet.

Die nuwe model word reeds in die eThekwini-metro in Durban, in die Waterberg-distriksmunisipaliteit in Limpopo en die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap op die proef gestel.

Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika is as die inwerkingstellingsagent van die projek aangestel.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het aan die kongres gesê dit is belangrik dat Salga bepaal wat die vernaamste uitdagings is.

“Daar lê baie harde werk voor om doeltreffende regering te verseker. Die kultuur in munisipaliteite moet verander om ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling moontlik te maak.”

Meer oor:  Politiek  |  Munisipaliteite  |  Cyril Ramaphosa  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.