Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Koronavirus op tuisbodem: Só reageer politici

Verhoogde openbare bewusmaking en opvoeding en deursigtigheid van regeringskant was die hoofboodskap van politieke partye nadat dit bekend geword het dat die gevreesde Covid-19 nou ook op plaaslike bodem kop uitgesteek het.

Die nuus is Donderdagmiddag tydens ’n debat oor die dodelike virus in die parlement bevestig dat ’n man in KwaZulu-Natal die eerste Suid-Afrikaner geword het wat positief daarvoor in die land getoets het.

Onder volg ’n opsomming oor wat van die partye in hul toesprake tydens die debat daaroor gesê het:

ANC:

Dr. Sibongiseni Dhlomo, ANC-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid: “Dit moet nie die land in ’n staat van paniek plaas nie.”

Hy het Mkhize geloof dat hy die land in sy vertroue geneem en dit onmiddellik aangekondig het. Hy meen die gesondheidstelsel is gereed om dit doeltreffend te kan beveg.

“Die regering moet net sy kommunikasie daaroor versterk om enige paniek en angstigheid onder Suid-Afrikaners te besweer.”

DA:

Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, het gesê weens die stand van die openbare gesondheidstelsel moet daar vir die ergste voorberei word.

“Dit is nie onredelik om skepties te wees oor ons vermoë om in die afwesigheid van konkrete planne ’n moontlike openbare gesondheidskrisis te hanteer nie.”

Sy meen die tyd van geheimsinnigheid is verby. “Dit is nou tyd vir beslissende en verenigde leierskap. As ons dit verkeerd doen, sal daar voorkombare sterftes wees.”

EFF:

Naledi Chirwa, EFF-LP, het gesê almal moet bekommerd wees oor die bedreiging wat die virus vir die armstes inhou.

Sy meen die gesondheidsdepartement is nie gereed daarvoor nie omdat tussen 6 000 en 11 000 Suid-Afrikaners jaarliks net weens die gewone verkoue-virus sterf.

“Hoe gaan die departement mense teen dié virus beskerm wat reeds van die sterkste gesondheidstelsels in die wêreld gedestabiliseer het?”

IVP:

Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, het gesê die regering moet nou deursigtig wees en inligting toeganklik maak om landsburgers in te lig oor die risiko’s en nodige voorsorgmaatreëls om paniek te vermy.

“Die gebrek aan betroubare inligting kan tot ongegronde skinderstories en fopnuus lei.”

Dit is van kritieke belang om Suid-Afrikaners deeglik voor te berei, meen hy.

VF Plus:

Philip van Staden, VF Plus-woordvoerder oor gesondheid, het gesê Suid-Afrika sal vinnig soos ander lande sy grense moet sluit en beskerm omdat die oop grense met buurlande ’n groot gevaar skep vir die uitgebreide plaaslike verspreiding van dié dodelike virus.

Hy meen die veiligheid van Suid-Afrika se burgers moet voorrang geniet.

Good:

Shaun August, Good-LP, het gesê dit is angswekkend dat hy as LP met toegang tot alle beskikbare inligting nie ’n idee het oor hoe hy sy familie teen die virus moet beskerm of wat om te doen as hulle daarmee besmet word nie.

“Watter kans het Suid-Afrikaners as die virus in hul gemeenskappe uitbreek? Opvoeding is uiters belangrik in enige gesondheidskrisis.”

Meer oor:  Parlement  |  Kaapstad  |  Debat  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.