
Oudpres. Jacob Zuma het Woensdagaand sosiale media aan die gons gehad nadat hy na bewering die foto van homself met ’n geweer langs ’n vierwielmotorfiets op Twitter geplaas het. Foto: Jacob Zuma Twitter-blad
Oudpres. Jacob Zuma het Woensdagaand sosiale media aan die gons gehad nadat hy ’n foto op Twitter geplaas het waar hy met ’n geweer dooierus neem op ’n vierwielmotorfiets.
Dié twiet volg te midde van bespiegelinge oor sy gesondheid en waar hy homself bevind.
Zuma lyk op die foto, wat sonder enige inligting gepubliseer is, heel ontspanne.
Dit is onduidelik waar of wanneer die foto geneem is en of Zuma self die foto getwiet het en of iemand dit gedoen het wat toegang het tot sy rekening.
Mense het op Twitter gereageer deur Zuma se siekte te bevraagteken, omdat hy nie ongesteld lyk op die foto nie.
Die reaksies volg op omstredenheid oor ’n doktersbrief wat Zuma se regspan Dinsdag aan regter Dhaya Pillay verskaf het nadat die voormalige staatshoof nie by die hof in Pietermaritzburg opgedaag het vir sy korrupsiesaak nie.
Daar is vroeër die week bespiegel dat Zuma in Kuba was, terwyl ander mense op sosiale media gesê het dat hy by sy huis in Nkandla was.
Twiets in reaksie op Zuma se foto: