Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dít het Kriek geknak

Die bykans onmoontlike taak om boere se vrese oor onteiening sonder vergoeding by te lê terwyl hy by ’n hardkoppige ANC-regering pleit vir toegewings en begrip, het Dan Kriek tot by die rand van die afgrond gestoot.

In gemoedelike luim nadat ’n samewerkingsooreenkoms geteken is. Voor van links: Pitso Sekhoto, adjunkvoorsitter van Asuf, en Japie Grobler, voorsitter. Agter van links: dr. Vuyo Mahlati, president van Afasa, Dan Kriek, president van Agri SA, adj.pres. David Mabuza, Motsepe Matlala, president van Nafu SA, en Louis Meintjes, president van TLU SA. Foto: Deaan Vivier

Hy moes kies: Óf hy bly aan as president van Agri SA – en brand uit – óf hy bedank en vind ’n pad na herstel.

Ook sy huwelik het verbrokkel sedert Kriek in Oktober 2017 op die vooraand van die ANC se beleidsbesluit oor onteiening sonder vergoeding verkies is as Agri SA-baas.

Vrydag het Kriek die pad na herstel gekies en bedank.

In ’n verklaring het Agri SA gesê Kriek (50) het “ná lang en deeglike oorweging besluit om weens gesondheids- en stresverwante redes uit te tree”.

Die besluit het skokgolwe gestuur deur ’n landbougemeenskap wat gery word deur onstabiliteit, angstigheid oor die beleidsomgewing, droogte en ’n peperduur uitbreking van bek-en-klouseer.

Toekoms glad nie eens op agenda.

Dinsdag nog, toe Agri SA se direksie vir ’n strategiesessie ontmoet het, was Kriek se toekoms glad nie eens op die agenda nie, het Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende hoof, by navraag bevestig.

Pierre Vercueil, adjunkpresident van Agri SA, neem nou waar as president tot Oktober 2020. Hy is ’n groot boer van die Stella-omgewing in Noordwes.

Vercueil sê “dit gaan die laaste ruk nie goed met Dan nie”.

“Ek is voor die aankondiging van sy bedanking vertel dat hy die besluit geneem het, en dit het as groot skok gekom. Hierdie goed is stresvol. Dis maar ’n moeilike tyd (vir Kriek), en sy gesondheid het ’n hou gevat.”

Leanne George . . . Dan Kriek se nuwe liefde.

Die feit dat Kriek “orals moes wees” het ook sy stoetbeesboerdery op sy plaas van 2 500 hektaar naby Tweeling in die Noordoos-Vrystaat begin affekteer.

“Die vergoeding (as president van Agri SA) is nie genoeg om hom vir die verliese van sy boerdery te vergoed nie. Die impak op hom persoonlik was groot.”

Van Zyl het enige sprake verwerp dat daar “sinistere politiek” agter Kriek se vertrek sit.

“Sy gesondheid het ingegee, sy rug het ingegee. Hy kon nie meer die pas volhou nie en moes kies tussen sy gesondheid en die werk wat hy doen,” sê Van Zyl.

Dis ’n reuseverlies vir die hele land.  
SK Makinana

Jannie de Villiers, president van Graan SA, het aan Rapport gesê Kriek se vertrek is baie slegte nuus.

“Sy leierskap het gehelp dat ons klomp veranderinge gemaak het. Baie is ook in die ou belê.”

Hy sê te midde van die debat oor onteiening sonder vergoeding, “klimaatsverandering wat ons jaag” en ander krisisse in die landbou, het Kriek “ ’n wonderlike rol gespeel”.

“Dit is vir ons sleg in die landbou in terme van tydsberekening. Dan het die teenstand teen die verandering van die Grondwet gedryf. Boere is in ’n baie slegte posisie. Dit (sy bedanking) dra by tot die onstabiliteit wat mense net nog meer onseker laat voel.

“Daar is werk wat Dan sou klaar maak. Die stres het ’n enorme impak op ’n mens se gesin, op persoonlike verhoudings,” sê De Villiers.

“Dis hartseer as leiers moet terugstaan of gevra word om terug te staan. Ek is jammer vir Dan en sou graag met hom gaan gesels om sy kant van die storie te hoor.”

Rapport verneem Kriek is besig om te skei van sy vrou, Hannelie (41), met wie hy sedert 2007 getroud is.

Hy is al geruime tyd in ’n verhouding met die voormalige kommuni­kasiebestuurder van Agri SA, Leanne George (31), wat van Oktober tot Desember 2017 vir die organisasie gewerk het voordat sy met haar mediese studie aan die Universiteit Stellenbosch begin het.

Van Zyl het haar destyds aangestel.

’n Senior leier in die landbou het aan Rapport gesê hy was “verras” toe hy by Agri SA se kongres in Oktober van Kriek se verhouding met George bewus geraak het.

George was Kriek se metgesel.

“Daar was in die gange ’n oproerigheid oor Dan se herverkiesing. Sommiges het gesê daar is ’n morele issue ook betrokke en dat Dan iets sou moes sê. Dis mooi toegehou. Ander het weer oor die verhouding gevra: What’s the big deal? Dit hang af van die hoek waaruit jy kyk.”

Hy het bygevoeg: “Jy moet jou huis in orde kry as jy ander wil lei.”

Hannelie Kriek het volgens landboubronne selde deelgeneem aan Agri SA se geleenthede. “Selfs al het al die ouens hul vroue saamgebring, het sy nie saamgekom nie.”

Kriek se verhouding met George was in Agri SA geen geheim nie, verstaan Rapport.

Toe Rapport Van Zyl daaroor vra, het hy gesê: “Ek het te veel respek vir Dan om kommentaar te lewer oor sy persoonlike lewe. Dit het niks met my te doen nie.”

Die skaapboer SK Makinana, Agri SA se verteenwoordiger van die kommoditeitskamer, het by navraag gesê Kriek se bedanking was ’n massiewe skok.

“Dis ’n reuseverlies vir die hele land. Ek was veral beïndruk met hoe hy nooit geskroom het om transformasie te dryf nie,” sê Makinana.

Vercueil sê Kriek se leierskap het Agri SA in ’n “besonderse goeie posisie geplaas om met die regering oor sekere sake te kan beding oor landboukwessies. Dan het baie hard gewerk,” voeg hy by.

In Kriek se pogings om te bemiddel tussen boere en die regering het hy dikwels koppe gestamp met AfriForum, wat deurgeloop het onder Kriek se kritiek toe hulle in Augustus 2018 ’n ongeverifieerde lys plase gepubliseer het wat glo vir onteiening bestem was.

Die volgende maand het Kriek ’n lid geword van Ramaphosa se adviespaneel oor grondhervorming.

Sy kritici het gevoel hy is te naby aan ’n fundamenteel gekompromitteerde proses.

In Maart 2019 het Gabriel Crouse van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) vir Kriek in ’n meningstuk beskuldig dat sy voorstelle vir grondonteiening sou beteken dat megaboere se grond onaangeraak bly, terwyl kleinboere boet.

Kriek het heftig ontken dat hy dit ooit gesê het.

Kriek het kort daarna só ontnugter geword met Ramaphosa se paneel, wat weerstand gebied het teen sy insette, asook dié van die megaboer Nick Serfontein, dat hy en Serfontein in ’n minderheidsverslag losgetrek het en gewaarsku het die adviespaneel se aanbevelings kan “rampspoedige” gevolge vir die land hê.

Rapport het Kriek om kommentaar genader. Hy het gesê hy volstaan by die mediaverklaring wat Vrydag uitgereik is.

Meer oor:  Dan Kriek  |  Agri Sa  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.