Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Krisis in ANC: Veg terug of vergaan

Daar is ’n baie sterk terugdrukpoging van lede in die ANC wat van wandade verdink word omdat die kans groot is dat hulle hul lewensbestaan en lewenstyl kan verloor.

Vir hulle gaan dit nou om oorlewing en daarom sal hulle alles moontlik doen om hul poste te behou, sê dr. Somadoda Fikeni, ’n politieke en beleidskenner van Unisa.

Kwessie kan Cyril maak of breek

Op sy beurt waarsku prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige verbonde aan die Hugenote Kollege in Wellington, die hele kwessie kan pres. Cyril Ramaphosa maak of breek.

Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC het einde verlede maand provinsiale leiers van die party opdrag gegee om ouditverslae aan die ANC se hoofkwartier te verskaf oor ANC-lede wat van wandade verdink word.

Dié lede moet van hul poste opsy staan en voor die party se integriteitskommissie verskyn.

Sondagkoerante berig daar is ’n sterk terugdrukpoging onder die ANC-lede wat van wandade verdink word.

Hulle beweer die versoek om opsy te staan, is onregverdig, die regte prosedure word nie gevolg nie en die Grondwet maak dit duidelik iemand is onskuldig totdat hy of sy deur ’n hof skuldig bevind word.

Oudminister Bongani Bongo, wat tans teregstaan op ’n aanklag van omkopery, het volgens City Press gesê hy sal nie opsy staan voordat hy nie ’n skriftelike opdrag kry om dit te doen nie.

Supra dreig met regstappe

Supra Mahumapelo, die vorige premier van Noordwes, het met regstappe gedreig omdat sy naam verskyn op die ANC in Noordwes se lys van lede wat gevra word om opsy te staan.

Fikeni sê die ANC staan voor een van sy grootste krisisse nog in sy poging om homself van korrupte lede te reinig.

“Onthou, ’n baie groot getal van die ANC-kaders het nog geen ander werk gehad nie. Hulle is nog altyd net deur die ANC ontplooi,” sê Fikeni.

“As hulle hul poste sou verloor, kan hul lewensbestaan en leefstyl daarmee heen wees.

Rede vir terugdrukpoging

“Dit is waarom daar so ’n groot en kragdadige terugdrukpoging is. Dit is ook hoekom daar van hul kant ’n poging is om ’n politieke oplossing te vind, pleks daarvan dat die reg toegelaat word om sy gang te gaan,” meen Fikeni.

“Die feit dat Andile Lungisa (voormalige metroraadslid van Nelson Mandelabaai) nou agter tralies is, het baie van die verdagtes waarskynlik laat besef dit kan met hulle ook gebeur.”

Fikeni sê die feit dat die strafregstelsel in die land stadig beweeg, bemoeilik sake. Boonop kan dié wat geld het, die regsproses vertraag.

Etiese leierskap

Die ANC se vernaamste dilemma is dat hy aandag moet gee aan die belangrikheid van etiese leierskap.

Die strafregkenner dr. Llewelyn Curlewis sê die ANC-lede wat met regstappe dreig en sê hulle is nog nie deur enige hof skuldig bevind nie, verwar die administratiewe reg en die arbeidsreg met die strafreg.

“Dis maar ’n powere poging van hulle om aanspreeklikheid solank as moontlik uit te stel in die hoop dat hulle uiteindelik onskuldig bevind sal word.”

Schwella sê Ramaphosa se gesag sal ondermyn wees as die ANC die besluit om die party te reinig, nie tot uitvoer bring nie.

Hy sal dan moet aanvaar hy is nie meer in beheer van die party nie en bedank.

Die president bevind hom spreekwoordelik tussen die duiwel en die diep blou see.

Gee Ramaphosa toe aan die druk (om nie voort te gaan met die skoonmaakproses nie) verloor hy sy geloofwaardigheid as staatshoof. Weier hy om toe te gee aan dié druk, kan hy die spanning binne die ANC verhoog.

“Kies hy in landsbelang en dit pas nie die meerderheid van die ANC nie, word die party van binne vernietig.”

ANC in Gauteng praat oor drie lede

Die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC in Gauteng het in die naweek oor die lot van drie senior ANC-lede in dié provinsie vergader nadat bewerings oor hul beweerde aandeel in Covid-19-bedrog aan die lig gekom het.

Die drie lede is Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, en dié se vrou, Loyiso Lugayeni-Masuku, ’n burgemeesterskomiteelid van die Johannesburgse metroraad.

Die drie is voor die party se integriteitskomitee gedaag nadat bewerings oor hul betrokkenheid by korrupsie met tenders vir persoonlike beskermende toerusting bekend geword het.

Die Gautengse departement van gesondheid het glo ’n tender van R125 miljoen toegeken aan Diko se man, Thandisizwe Diko, se onderneming Royal Bhaca Projects, maar Kaizer Kganyago, woordvoerder van die Spesiale Ondersoekeenheid wat die voorval ondersoek, het bevestig geen geld is ooit oorbetaal nie.

Dit is nog nie bekend wat op die PUK-vergadering beslis is nie. – Arisa Janse van Rensburg


Meer oor:  Leefstyl  |  Korrupsie  |  Presidentskap  |  Anc  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.