Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Dít sal DA in sy eerste 100 dae doen’ – Mmusi

Die ANC het nie die vermoë om enige beleid in werking te stel nie, sê Mmusi Maimane, leier van die DA.

Mmusi Maimane (links op die foto), DA-leier, praat Maandagoggend langs die standbeeld van oudpres. Nelson Mandela by die Uniegebou in Pretoria met die media.Foto: Sarel van der Walt

Hy het Maandagoggend op ’n mediakonferensie langs die standbeeld van oudpres. Nelson Mandela by die Uniegebou in Pretoria gesê die ANC sal nie hervorm nie.

Korrupsie sal onder die ANC-bewind eerder versnel as stopgesit word.

Die party gaan nie hervorm nie en hy gebruik pres. Cyril Ramaphosa slegs om met die algemene verkiesing op 8 Mei meer stemme te werf, het Maimane gesê.

Hy was vergesel van Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, en John Moodey, DA-leier in Gauteng.

Maimane het ’n tienpuntplan bekend gestel wat hy sê die DA binne die eerste 100 dae in werking sal stel as hy die verkiesing sou wen.

Die tienpuntplan is:

* Eskom sal in sakeredding geplaas word;

* Wette oor arbeid, fiskale verantwoordelikheid en dié oor ’n onafhanklike stelsel- en markoperateur (Ismo) sal ter tafel gelê word;

* Begin met ’n program vir vrywillige diens in die staatsdiens;

* Die herinstelling van gespesialiseerder onderwyskolleges en ’n nasionale onderwysinspektoraat om seker te maak daar word aan standaarde voldoen;

* Verhoog kindertoelae vir die armes tot R547 per maand;

* Begin met die inwerkingstelling van die party se sespuntplan vir kleinsakeontwikkeling;

* Die vermindering van ministeries en kabinetsposte tot 15;

* Begin met ingryping in die polisiediens om dit meer professioneel te maak. Dit sluit in dat provinsiale regerings beheer kry oor die polisie;

* Die desentralisasie van die beheer oor hawens en Metro Rail en hul begrotings. Metrorade moet dié beheer oorneem.

Maimane sê werkloosheid is die grootste enkele bedreiging vir die land se toekoms. Sowat 10 miljoen Suid-Afrikaners is werkloos.

“ ’n DA-geleide regering sal werkskepping in sy eerste 100 dae ’n belangrike fokuspunt maak.

“Met die nuwe arbeidswet wat ons voorstel, sal daar belastingvoordele wees vir mense wat nuwe ondernemings begin en werkgeleenthede skep.”

Die DA-leier sê Eskom se monopolie op kragopwekking en -verspreiding is ’n tydbom wat die land duur te staan gaan kom.

“Eskom hou die land as gyselaar. Energie moet volhoubaar wees. Die eerste stap sal wees om Eskom in twee te deel (kragopwekking en -verspreiding). Kragopwekking kan geprivatiseer word, terwyl die verspreiding die verantwoordelikheid van die staat sal wees. Beleggings deur die private sektor sal aangemoedig word,” sê Maimane.

“Hoe ’n mens ook al na die SAL kyk, hy is bankrot en sy bestuursmodel aan flarde. Hy het die land die afgelope paar jaar honderde miljarde rande gekos.

“ ’n DA-geleide regering sal die SAL in die eerste 100 dae in sakeredding plaas. Dit sal die lugdiens stabiliseer en ’n buffer wees vir die finansiële risiko wat dit vir die regering se besteding en die ekonomie inhou,” het Maimane gesê.

Oor die polisiediens het die DA-leier gesê dié party sal die polisie in sy totaliteit opknap. Korrupsie sal bekamp word, en mense wat ’n passie vir polisiëring het, sal aangestel word.

“Alle polisiebeamptes sal heropgelei word om seker te maak die polisiediens is eerlik, professioneel en een wat dien en beskerm,” sê Maimane.

Die regering faal tans in sy mandaat om wet en orde in die land te handhaaf, en grensbeheer is baie swak. Onder die korrupte departement van binnelandse sake het die immigrasiestelsel in duie gestort. Dit het gelei tot geweld en onstabiliteit, sê hy.

“In ons eerste 100 dae sal ons die getal weermagkompanies wat op die grense ontplooi is, van 15 tot 22 verhoog. Ons sal ook seker maak dat die soldate behoorlik opgelei is en oor die nodige toerusting beskik,” het die DA-leier gesê.

“Dit is belangrik dat diegene wat die land wil binnekom, dit op ’n wettige wyse doen.”

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Verkiesing2019  |  Da-Leier  |  Verkiesing  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.