Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dit voorspel moeilikheid, meen kenners oor Ace
Ace Magashule Foto: Daily Sun

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se moontlike vervolging kan nie net die ANC nie, maar die hele Suid-Afrika omvergooi.

Politieke ontleders het Dinsdagmiddag hieroor saamgestem kort nadat die nuus bekend geword het dat ’n lasbrief vir Magashule se inhegtenisneming uitgereik is.

Hy verskyn Vrydag op korrupsieverwante klagte in die hof in Bloemfontein.

Kenners meen dit kan ook die “faksieoorlog” in die ANC vererger en dat dienslewering aan gewone Suid-Afrikaners in die slag kan bly.

Dit omdat talle ministers en ANC-ampsdraers in regeringsfere aan die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie- (RET) faksie van Magashule en oudpres. Jacob Zuma behoort.

Prof. Bheki Mngomezulu van die Universiteit van Wes-Kaapland meen dit gaan ’n toets vir pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se geloofwaardigheid wees omdat alle oë Vrydag op hulle gerig sal wees sodra Magashule in die hof verskyn en aangekla word.

Daar gaan ’n terugvegpoging van Magashule se ondersteuners wees wat sy vervolging as ’n aanval op hul RET-mantra sal beskou. Dit kan lelik raak.

Dit nadat Ramaphosa onlangs as ANC-president namens die party se nasionale uitvoerende komitee aangekondig het dat alle ANC-leiers en -lede wat van korrupsie en ander ernstige misdade aangekla word, onmiddellik van hul staats- en partyposte afstand moet doen.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Dinsdagmiddag in reaksie gesê dat die party die Magashule-verwikkelinge sal dophou.

Mngomezulu sê die faksiegevegte kan die ANC verlam veral omdat Magashule se ondersteuners sy vervolging as ’n “politieke heksejag” en teikening van alle Zuma-ondersteuners sal beskou.

Dr. Ntsikelelo Breakfast van die Nelson Mandela-Universiteit stem saam dat dit die konflik en spanning in die ANC kan verhoog.

“Daar gaan ’n terugvegpoging van Magashule se ondersteuners wees wat sy vervolging as ’n aanval op hul RET-mantra sal beskou. Dit kan lelik raak.”

Tekens hiervan het reeds Dinsdagmiddag gewys toe die uMkhonto weSizwe-veteranevereniging (MKMVA), stoere Magashule-ondersteuners, deur middel van Carl Niehaus, hul woordvoerder, hul woede oor die lasbrief te kenne gegee het.

“Dit is ’n uiters belangrike verwikkeling vir die ANC en die hele Suid-Afrikaanse samelewing. Ons het al verskeie kere gewaarsku teen die selektiewe gebruik van korrupsieklagte en wetstoepassingsagentskappe as instrumente in politieke binnegevegte wat tot onenigheid in die ANC en die land kan lei. Dit is disrespekvol teenoor ons Grondwet en die oppergesag van die reg,” het Niehaus gesê.

Dit kan selfs ’n negatiewe uitwerking op die regering en dienslewering hê omdat talle kabinetsministers en ander politieke ampsdraers deel van die RET-faksie is.

Volgens Breakfast kan die verdeeldheid in die ANC ook die party in die aanloop tot Woensdag se tussenverkiesings en volgende jaar se plaaslike verkiesing nadelig raak.

Dit omdat Magashule as sekretaris-generaal die enjin van die ANC is en hul verkiesingsveldtogte dryf. Hy was juis Dinsdag aan die stemme werf in Soweto toe die nuus van die lasbrief bekend geword het.

“Dit kan selfs ’n negatiewe uitwerking op die regering en dienslewering hê omdat talle kabinetsministers en ander politieke ampsdraers deel van die RET-faksie is,” sê Breakfast.

Prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit meen Magashule gaan ’n massiewe regsgeveg begin en nie net uit sy pos bedank soos die ANC vereis nie. Hy sal vir die regsproses dieselfde Stalingrad-strategie as Zuma gebruik en die regsprosesse teen hom so lank moontlik uitrek.

Magashule sal nie net politiek gesproke “gaan lê nie”.

“Hy en sy ondersteuners sal mobiliseer en ’n politieke strategie van stapel stuur in ’n poging om die land, die regbank en die Zondo-kommissie te ontwrig.

“Dit voorspel moeilikheid. Die ding kan genoeg vonk verskaf om die hele Suid-Afrika te ontwrig,” het Duvenhage gesê.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Bloemfontein  |  Inhegtenisneming  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.