Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dít was Solly Msimanga se ‘groot sonde’
Solly Msimanga. Foto: Elisabeth Sejake

Solly Msimanga, die DA-burgemeester van die Tshwane-metroraad in Pretoria, se “grootste sonde” met sy besoek aan Taiwan was die ereburgerskap wat hy van Taipei, die Taiwannese hoofstad, ontvang het.

Want, sê Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, Msimanga se aanvaarding van die ereburgerskap van Taipei het ’n politieke ondertoon gehad omdat hy as ’n politieke ampsdraer (en nie as ’n amptelike regeringsverteenwoordiger nie) die eer ontvang het.

Dít, en nie sy poging om nuwe handel- en beleggingsmoontlikhede te ondersoek nie, was strydig met Suid-Afrika se “een China”-beleid.

Indien Msimanga se besoek suiwer ’n handels- en beleggingsbesoek was, was dit nie ’n oortreding van Suid-Afrika se beleid jeens China nie, het Monyela gesê.

China beskou Taiwan, wat uitgebreide handelsbande met die VSA en Japan het, as ’n wegbreek-provinsie.

Japan het soos die VSA en Suid-Afrika net amptelike diplomatieke bande met China, maar het wel skakelkantore in Taiwan.

Die Suid-Afrikaanse skakelkantoor in Taipei het geen politieke mandaat nie. Daarom word interaksie tussen politieke ampsdraers van die twee lande nie toegelaat nie.

Clayson Monyela

’n Groot storm het die afgelope week rondom die Tshwane-burgemeester se kop losgebars.

Die ANC se koukus in die Tshwane-metroraad het Msimanga onder meer van “verraad” beskuldig.

Hy is ook daarvoor uitgekryt dat hy Suid-Afrika se verhoudinge met China, sy grootse handelsvennoot, en die Brics-groepering (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) ondermyn.

Msimanga is ook daarvan beskuldig dat hy belastingbetalers se geld gemors het, maar die Tshwane-metro hou vol die besoek het die stad se inwoners niks gekos nie omdat hy die stad op uitnodiging van die burgemeester van Taipei besoek het. Sy hoofdoel was om handels- en beleggingsmoontlikhede te ondersoek en geld te kry om die armes in Tshwane te help ophef.

Taipei het in 1983 in die ou politieke bedeling ’n susterstad van Pretoria geword.

Msimanga, wat terug is in Suid-Afrika, het op Twitter gesê onder die ANC-bewind is ’n susterstad-ooreenkoms met die stad Taichung in Taiwan onderteken.

Msimanga het Dinsdagmiddag in ’n verklaring teruggekap en gesê die ANC en die regering se klagte teen sy besoek is niks anders nie “as ’n kinderlike poging” om die vordering wat hy sedert die plaaslike verkiesing gemaak het, ongedaan te maak.

Monyela het by navraag gesê daar is geen verbod op enige handel tussen Suid-Afrika en Taiwan nie.

“Ons verhouding met China laat toe dat ons (Suid-Afrika en Taiwan) skakelkantore in mekaar se lande het. Die handel tussen Suid-Afrika en Taiwan is nog heelwat,” het Monyela gesê.

Dié handel beloop miljarde rande per jaar.

Drie jaar gelede het dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, ’n afvaardiging van 18 sakelui op ’n sakebesoek na Taiwan en Thailand gelei.

Volgens die DA se Dean Macpherson, ’n woordvoerder van dié party oor buitelandse sake, het die DA geen beswaar teen die besoek gehad nie omdat Taiwan Suid-Afrika se naasgrootste handelsvennoot in Asië is.

Macpherson het Dinsdagmiddag in ’n verklaring gesê hy het intussen ’n brief aan Davies gestuur waarin hy hom vra om die werk wat Msimanga gedoen het om handel en beleggings na Pretoria te lok, te bekragtig.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het vroeër gesê amptelike buitelandse besoeke moet deur dié departement gekoördineer word. Daar is op kabinetsvlak besluit dat verteenwoordigers van al drie regeringsvlakke hul buitelandse besoeke met dié departement moet koördineer.

Die departement sê hy was bewus van Msimanga se planne om Taiwan te besoek en het hom aangeraai om nie daarmee voort te gaan nie.

Die presidensie het in ’n verklaring gesê hy neem kennis van die debat en die saak sal in die presidensiële koördineringskomitee, waar pres. Jacob Zuma met die leierskap van provinsiale en plaaslike regerings vergader, bespreek word.

Meer oor:  Clayson ­Monyela  |  Solly Msimanga  |  Taiwan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.