Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DKD erken paroolstelsel skiet tekort, werk aan plan

Die onlangse ontvoering van en grusame moord op Tazne van Wyk (8) van Kaapstad deur iemand wat op parool uit was, is die jongste aanduiding daarvan dat Suid-Afrika se bestaande paroolstelsel vir seksoortreders en gewelddadige misdadigers nie doeltreffend werk nie.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het dít Vrydag in die parlement erken toe hy oor die gebrekkige paroolstelsel voor die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste verslag moes doen.

Vroeër is berig hoe Van Wyk, van Elsiesrivier, op 7 Februarie vanjaar van ’n snoepwinkel reg oorkant haar ouerhuis ontvoer is. Haar lyk is 12 dae later in ’n stormwaterpyp by die N1 buite Worcester gevind. Die man wat vir haar ontvoering en moord in hegtenis geneem is, Moyhdine Pangarker (55), was uit op parool.

Op 29 Februarie vanjaar is Reagan Gertse (8) in Tulbagh in die Boland ontvoer, verkrag en vermoor. Sy lyk is ’n dag later gevind.

In Januarie is die lyk van Michaela Williams (12) in Pelican Park, Kaapstad, gevind.

Dié twee kinders se vermeende moordenaars was ook uit op parool.

Veliswa Mvandaba, adjunkkommissaris van maatskaplike herintegrasie by die DKD, het erken dat Van Wyk se moord veral die sukses van hul rehabilitasieprogramme en die paroolstelsel in twyfel trek. Wat dit erger maak is dat Pangarker ook nog sy paroolvoorwaardes verbreek en op die vlug was.

Volgens Mvandaba ervaar die DKD verder ook nog erge kapasiteitsprobleme om mense wat op parool is, doeltreffend te kan monitor. “Ons het net een paroolbeampte vir elke 40 oortreders.”

Dit terwyl daar ook nie genoeg maatskaplike werkers en psigiaters vir rehabilitasieprogramme is nie.

Die komitee het ook gehoor daar word probleme ervaar met die elektroniese moniteringstelsel vir diegene wat op parool uit is.

Arthur Fraser. Foto: City Press

Mvandaba sê ’n taakspan is egter deur Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, onder leiding van regter Siraj Desai (van die hooggeregshof in Kaapstad) aangestel om die paroolstelsel te hersien.

“In reaksie op die euwel van geslagsgeweld bestaan die moontlikheid ook dat die minimum tronkstraf vir oortreders van seks- en geweldsmisdade ook gewysig kan word.”

Mvandaba het bygevoeg dat kriminoloë in die Wes-Kaap – wat as loodsprojek gebruik word – gekontrakteer is om profiele van alle oortreders van misdade soos geslagsgeweld, moord, verkragting, ontvoering en kindermishandeling op te stel.

“Daar word ook met die polisie in die Wes-Kaap saamgewerk om alle inligting in dossiere van alle gevangenes wat binne die volgende ses maande op parool vrygelaat sal word, aan paroolrade beskikbaar te stel sodat laasgenoemde die vlak van risiko wat sulke oortreders vir die gemeenskap inhou, kan assesseer voordat daar op parool besluit word.”

Volgens Mvandaba win die DKD ook regsadvies in oor verpligte DNS-toetse vir alle oortreders wat tronke binnegaan.

Arthur Fraser, DKD-kommissaris, sê Desai sal oor drie weke ook ’n simposium oor die paroolstelsel hou.

“Dit gaan ons help om die kwessies oor parool te bespoedig. Ons het kennis geneem van die kommer oor die stelsel, maar ons werk onverpoos as ’n span om dit aan te spreek.”

Richard Dyanti, komiteevoorsitter, sê dit is duidelik dat die probleme in die paroolstelsel sistemies van aard is. “Ons soek egter ’n duidelike plan en tydlyn vir die hersieningsproses.”

Meer oor:  Parlement  |  Plan  |  Paroolstelsel  |  Tekort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.