Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dlamini-Zuma begin beplan vir Noordwes

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, sameroeper van die interministeriële taakspan wat wydverspreide onrus in Noordwes ondersoek, het Woensdag in Lichtenburg die nasionale regering se plan uiteengesit om sake in die provinsie reg te ruk.

Dlamini-Zuma, ook minister in die presidensie, het nie veel verklap oor wat presies haar taakspan se indrukke was sedert hulle sowat twee weke gelede met hul ondersoek begin het nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie: beplanning, evaluering en monitering.Foto: Dulile Sowaga

Sy gee egter toe die regering is duidelik “bekommerd” oor Noordwes, in die lig van die kabinet se besluit verlede week om die hele provinsie onder administrasie te plaas. Bepaalde regeringsprosesse moet egter nog plaasvind voordat dit in werking gestel sal word.

“Ons kyk ook na ander kwessies soos beweerde korrupsie en bedrog. Strafregtelike klagte kan moontlik hieruit voortspruit,” sê Dlamini-Zuma.

Sy het Woensdag verduidelik die ministers in die interministeriële taakspan het ná die aankondiging dat hulle met ’n ondersoek sou begin, ’n tegniese span saamgestel om ondersoek in te stel na die stand van sake in die hele provinsie, maar veral die departement van gesondheid. Nehawu-werkers in Noordwes se gesondheidsektor staak sedert einde Februarie en dit het gesondheidsdienste in die provinsie verlam.

Nehawu-lede het Woensdag ’n optog in Mmabatho gehou en daarna ’n griefskrif met eise aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, oorhandig.

Zuma sê die ministers in die taakspan het ook met verskeie rolspelers in die provinsie vergader, nadat die tegniese span hulle eerste ondervra het. Dit het gesprekke ingesluit met premier Supra Mahumapelo, LUR’e en departementshoofde.

“Die ministers het ’n tussentydse verslag hieroor aan die kabinet voorgelê, op grond waarvan daar verlede week besluit is om die hele provinsie onder administrasie te plaas.”

Dlamini-Zuma sê die ministers moet nou verskeie departemente besoek om te besluit hoe die administrasieproses benader gaan word. “Ons besoek ook ten minste twee munisipaliteite. Dit was vandag Ditsobotla (Lichtenburg- en Coligny-omgewing) se beurt. Ons raadpleeg ook ander aandeelhouers soos Sanco en Salga.”

’n Saamgestelde verslag van die verskillende ministers se bevindinge sal binnekort aan die kabinet voorgelê word, waarna daar besluit sal word presies hoe die administrasieproses vir die hele provinsie benader sal word.

Dit is die eerste keer tot dusver dat ’n hele provinsie onder administrasie geplaas is.

  • Die ander ministers wat in die interministeriële taakspan dien, is Nhlanhla Nene (minister van finansies), dr. Zweli Mkhize (samewerkende regering en tradisionele sake), Thulas Nxesi (openbare werke), Senzeni Zokwana (landbou, bosbou en visserye), Nosiviwe Mapisa-Nqakula (verdediging en militêre veterane), Bheki Cele (polisie), Dipuo Letsatsi-Duba (staatsveiligheid) en adv. Michael Masutha (justisie en korrektiewe dienste).
Meer oor:  Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Noordwes  |  Ondersoek  |  Onrus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.