Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe kabinet: Dlamini-Zuma ‘goed geplaas vir haar nuwe taak’

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se senioriteit asook haar vorige portefeulje as minister in die presidensie belas met beplanning, monitering en evaluering sal haar goed te staan kom in haar nuwe pos.

Dr. Nkosazana Dlamini-ZumaFoto: Felix Dlangamandla

Pres. Cyril Ramaphosa het Dlamini-Zuma (70) verlede week as Suid-Afrika se nuwe minister van samewerkende regering en tradisionele sake aangestel.

Wanfunksionele munisipaliteite is een van die uitdagings wat op haar wag.

Municipal IQ, ’n webgebaseerde data- en intelligensie- diens wat die land se 278 munisipaliteite monitor en ontleed, meen Dlamini-Zuma het vier groot prioriteite.

Karen Heese, ekonoom van Municipal IQ, sê hieronder tel wanfunksionele munisipaliteite wat hanteer moet word. Aandag moet gegee word aan munisipaliteite wat onder administrasie is of behoort te wees.

Ook die hoë skuldvlakke van munisipaliteite aan Eskom en waterrade vereis volgens Heese aandag.

Dr. Zweli Mkhize, Dlamini-Zuma se voorganger, het in Maart in antwoord op ’n parlementêre vraag gesê munisipaliteite se skuld aan Eskom het van R17,7 miljard middel 2018 tot R24,3 miljard teen Desember 2018 gestyg.

Nóg ’n prioriteit vir Dlamini-Zuma is om te verseker dat die Back to Basics-program wat daarop gemik is om te verseker dat munisipaliteite kritieke dienste lewer, in alle munisipaliteite van toepassing word.

’n Verdere uitdaging is om te verseker dat die omvang en die intensiteit van die diensleweringsbetogings wat landwyd voorkom, gestuit word.

“Baie van dié take is omvattend en vereis die konsolidasie van die werk van dr. Dlamini-Zuma se voorganger. Haar prestasierekord dui daarop dat sy goed behoort te vaar hiermee, met die ondersteuning van haar ervare adjunkte. Die vierde uitdaging (diensleweringsbetogings) sal gekoördineerde werk vereis, waarmee haar ondervinding in die presidensie behoort te kan help,” sê Heese.

Volgens Municipal IQ se Municipal Hotspots Monitor was daar verlede jaar ’n rekordgetal diensleweringsbetogings.

Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder aan Unisa, sê Dlamini-Zuma se belangrikste prioriteit is hoe om samewerkende regering te laat werk, want dié portefeulje beteken dat die drie regeringsfere met mekaar moet saamwerk en dat daar ’n mate van integrasie in hul werk moet wees.

Sy weet wat die interne probleme en haakplekke is en hoe hulle met mekaar kan saamwerk en met mekaar in verband kan staan. Sy is eintlik nou in ’n baie goeie posisie.

Goeie samewerking tussen al die vlakke is kardinaal belangrik. Die minister is verantwoordelik daarvoor om die oorhoofse beleidsraamwerk byeen te bring. As munisipaliteite platval, moet provinsiale regerings daarby betrokke raak en hulle moet dit probeer red of onder administrasie plaas. Die minister het egter ’n oorhoofse verantwoordelikheid.

Kotze sê dié portefeulje is ’n “enorme uitdaging”.

“Wat tot Dlamini-Zuma se voordeel strek, is dat sy die minister van beplanning, monitering en evaluering was en die binnewerking van alle departemente gesien het. Sy weet wat die interne probleme en haakplekke is en hoe hulle met mekaar kan saamwerk en met mekaar in verband kan staan. Sy is eintlik nou in ’n baie goeie posisie. Haar ingesteldheid is om te konsentreer op dié tipe van goed.”

Haar sterkpunt is volgens Kotze haar vaardigheid ten opsigte van tegniese aspekte. Sy bring ook saam met haar die gravitas en senioriteit wat die komplekse portefeulje vereis.

Sy begin egter oud word. “Jy het iemand nodig met baie stamina – eintlik ook met nuwe denke en idees. Haar opleiding is in gesondheid – sy het nie ’n agtergrond in openbare administrasie nie.”

’n Ander swakpunt is haar onmiddellike politieke geskiedenis in die ANC. “Sy moet goed kan werk met die verskillende provinsies en ’n mens sal moet sien hoe dit gaan werk met die faksionele politiek. Haar senioriteit gaan baie vir haar tel – net soos met die minister van finansies gaan dit van haar vereis word om soms premiers en burgemeesters te kan vasvat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.