Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DLS-man erken beleid is omseil sodat VR Laser kontrak kry
Stephan Burger, voormalige uitvoerende hoof van Denel Land Systems, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

Hy was destyds vas oortuig daarvan dat dit in die beste belang van Denel is om die beleid te oortree en ’n staatskontrak aan ’n Gupta-verwante maatskappy te gee.

So het Stephan Burger, ’n voormalige hoof van Denel Land Systems (DLS), Dinsdag op ’n sitting van die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping gesê.

Hy het erken hy het ’n rol gespeel in die omseiling van Denel se eie verkrygingsbeleid om ’n memorandum van verstandhouding van krag te maak.

Dié memorandum het aanleiding gegee tot die kontrak vir die verskaffing van staalkomponente wat in 2015 aan VR Laser toegeken is.

Volgens Burger het die moontlikheid dat Denel se beeld skade berokken kon word deur sake met die Gupta-familie te doen hom ook nie veel gepla nie.

Hy het Dinsdag op ’n sitting van die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping erken dat hy destyds gewaarsku is om nie voort te gaan met die kontrak nie omdat dit die verkrygingsbeleid sou oortree.

Daar is afgewyk van gewone mededingende tenderprosesse en daarvoor moes Dennis Mlambo, uitvoerende groephoof van verkrygingsbestuur, sy toestemming gee.

Celia Malahlela, voormalige hoof van verkryging van DLS, wat gedurende haar getuienis voor die kommissie in trane uitgebars het, het op ’n uitvoerende vergadering in 2015 oor die kwessie gewaarsku.

Burger het erken hy was teenwoordig en dat Malahlela daarop gewys het dat Mlambo nog nie sy toestemming gegee het nie en dat die kontrak daarom onreëlmatig was.

Steeds het Burger die groen lig vir die kontrak gegee omdat dit, volgens hom, die goedkeuring van Zwelakhe Ntshepe, voormalige uitvoerende hoof van Denel, weggedra het.

“Ek het gedink dat dit sakesin maak en daarom was daar goeie redes vir die uitvoerende hoof om die beleid kragteloos te maak,” het Burger gesê.

Adv. Paul Kennedy, getuienisleier van die kommissie, het gesê Burger se verduideliking maak nie sin nie omdat die beleid wel ruimte laat vir uitsonderings mits Mlambo sy goedkeuring gee.

Kennedy het later ’n brief van Burger aan Mlambo voorgelees waarin Burger klousules van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies aanhaal in ’n poging om Mlambo te oortuig om die kontrak goed te keur. Dit was reeds nadat Ntshepe dit onderteken het.

Mlambo het geweier om sy goedkeuring te gee onder meer omdat Denel se interne diensteverskaffers ’n beter werk kon lewer.

Burger het voorts erken hy het gevoel die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies is “beperkend” vir Denel omrede “daar vinnig besluite geneem moet word”.

Zondo wou later weet of hy nie bekommerd was dat Denel ’n kontrak beklink met ’n Gupta-verwante maatskappy en dat dit Denel se beeld skade sou berokken nie.

In reaksie hierop het Burger gesê dat sy besluite nooit op politieke oorwegings berus het nie.

“Ek het my kop in die sand gesteek wanneer dit by hierdie soort dinge kom. Terugskouend moes ek dit gekeer het, maar destyds het ek gedink dit is die beste maatskappy vir die werk,” het hy gesê.

Meer oor:  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.