Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Doktor Ace’ ’n bedrogspul – Jankielsohn
Dr. Roy Jankielsohn Foto: Internet

Die Demokratiese Alliansie (DA) het daarvan kennis geneem dat die Universiteit van Bahcesehir in Istanbul in Turkye om die bos gelei is deurdat hulle ’n ere-doktorsgraad aan die Vrystaatse premier, Ace Magashule, oorhandig het.

Só het dr. Roy Jankielsohn, leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, Woensdag in die wetgewer gesê.

“Magashule moet daarvan kennis neem dat titels wat deur ere-doktorandi gedra word, meestal in formele korrespondensie gebruik word met die toepaslike universiteit en dat dit nie vir algemene gebruik is nie. Hy beskik nie oor ’n Ph D nie,” het Jankielsohn gesê.

Die ere-doktorsgraad is volgens hom net nog ’n voorbeeld van hoe Magashule staatshulpbronne gebruik om voordele vir homself te bekom.

Die Universiteit van Bahcesehir is ’n verlengstuk van Magashule se begunstigde-netwerk waarvoor die Vrystaatse regering se geld gebruik word.

“Dit is algemene kennis dat die provinsiale regering vir ’n aantal studente betaal om aan daardie universiteit te studeer.

“Universiteite ken dikwels ere-doktorsgrade toe aan individue wat groot geldelike bydraes tot sulke universiteite lewer. In dié geval is dit die Suid-Afrikaanse belastingbetaler en nie Magashule nie.”

Jankielsohn het gesê as die universiteit vooraf behoorlik ondersoek ingestel het, sou hy vasgestel het dat Magashule se bydraes in die Vrystaat hoofsaaklik oor korrupsie en begunstiging gaan.

Ace Magashule, Vrystaatse premier, ontvang 'n eredoktorsgraad van die Bahçesehir-Universiteit in Turkye. Foto: Verskaf

Jankielsohn het as voorbeelde genoem:

* Dat ’n vorige premier van die Vrystaat, Mosiou Lekota, Magashule as LUR in die pad gesteek het vanweë klagtes oor korrupsie teen hom.

* Magashule was geïmpliseer in ’n skandaal rondom pogings van ’n maatskappy om goedkeuring te verkry vir dobbellisensies van die dobbel- en drankraad van die Vrystaat. Versoeke is na bewering gerig vir omkoopgeld onder die voorwendsel van fasiliteringsgeld. Dit was deel van hofstukke.

* Eiendomsagente het by die DA gekla dat kontrakte toegeken word wat gegrond is op politieke voorkeure en ’n gewilligheid om sogenaamde geskenke te gee voordat ’n huurooreenkoms met die regering beklink word.

Dit word gedoen onder die vaandel van swart ekonomiese bemagtiging.

* Onder Magashule se wakende oog is R120 miljoen aan kontrakteurs betaal vir die Ramkraal-projek terwyl die plan blykbaar nooit was dat die projek afgehandel sou word nie.

* Die omstrede Vrede-suiwelprojek van R185 miljoen met Gupta-bande is in Magashule se kantoor onderteken. Die projek beteken steeds openbare geld van sowat R20 miljoen per jaar vir begunstigdes, terwyl Magashule se familie voordele uit die Gupta-verbintenis kry.

* ’n Behuisingskandaal waarby honderdmiljoene rande betrokke is en waarby Magashule se nouste vriende betrokke is, moet nog deeglik ondersoek word.

Jankielsohn sê geen ere-doktorsgrade wat met openbare geld gekoop is, sal Magashule se nalatenskap verberg wat inwoners sonder werk, basiese dienste en in armoede gelaat het nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Roy Jankielsohn  |  Istanbul
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.