Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dokumente by Zondo ingedien oor Transnet-betalings
Helen Walsh, Zondo
Helen Walsh, Zondo

Dokumente van Transnet-betalings te bedrae van R42,5 miljard ten opsigte van omstrede tenders, is Woensdag by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ingedien.

Helen Walsh, ’n geoktrooieerde rekenmeester en waarnemende risiko-bestuurshoof van Transnet, het getuig hoe Transnet se betaalstelsel werk en watter bedrae geld sedert 2013 betaal is ten opsigte van dié omstrede tenders.

Dit sluit in drie verskillende tenders om lokomotiewe aan te koop, betalings aan raadgewers, asook uitgawes ten opsigte van die verskuiwing van twee lokomotief-monteringsaanlegte.

Dit sluit in ’n betaling van R1,5 miljard vir een faktuur nog voordat enige lokomotiewe afgelewer is.

Die totale betalings per jaar vir die lokomotiewe, verskuiwing en raadgewers lyk so:

  • R306 miljoen in 2013;
  • R50 miljoen in 2014;
  • R11,8 miljard in 2015;
  • R10,4 miljard in 2016;
  • R6,2 miljard in 2017;
  • R8,8 miljard in 2018; en
  • R4,7 miljard tot nou in 2019.

Walsh het getuig sy kan nie sê watter bedrae nog in die toekoms betaal moet word nie.

Sy het getuig die totale betaling aan raadgewers tussen 2014 en 2016 was R316 miljoen. Dit was aan Regiments (R305 miljoen) en McKinsey (R11 miljoen).

Die betalings aan Regiments was R25 miljoen in 2014, R90 miljoen in 2015 en R189 miljoen in 2016.

McKinsey se betaling van R11 miljoen is in 2014 gedoen.

Een van die fakture wat Woensdag by die Zondo-kommissie ingehandig is. Dit bevat besonderhede van ’n bedrag van R1,5 miljard wat deur China South Rail van Transnet geëis is alvorens daar begin is om 100 nuwe lokomotiewe te bou. Foto: Zondo-kommissie

Oor die betalings vir die verskuiwing van twee lokomotief-monteringsaanlegte na Durban, het Walsh getuig in 2016 is R368 miljoen aan China South Rail (CSR) en R249 miljoen aan Bombardier betaal.

Daar is voorheen voor die Zondo-kommissie getuig die verskuiwing van die aanlegte is nagejaag deur ’n groepie onderhandelaars onder leiding van Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet. Die koste daarvan was R634 miljoen.

Die prokureursfirma MNS het die verskuiwing ondersoek as deel van ’n groter ondersoek na ongerymdhede by Transnet.

Thobani Mnyandu, hoofregskenner vir konstruksie en ingenieurswese by MNS, het vroeër die jaar in sy getuienis voor die kommissie aanbeveel dat vasgestel word hoeveel geld Transnet reeds aan die twee diensverskaffers, Bombardier en CSR, betaal het.

Hy het ook aanbeveel dat Transnet geen verdere betalings vir die verskuiwings doen nie en dat Transnet strafregtelike klagte aanhangig maak sodat moontlike bedrog en korrupsie ondersoek kan word.

Mnyandu het getuig die verskuiwingskoste was onredelik en uitermatig hoog en dat die Transnet-onderhandelingspan wat betrokke was by die plan om die aanlegte te verskuif, waarskynlik die Maatskappywet oortree het.

Woensdag se sitting van die kommissie het vroeg verdaag nadat adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, gesê het hy voel siek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.