Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dom om boere se damme te vat, sê kenner
Die Theewaterskloofdam in die Wes-Kaap. ’n Kenner meen die regering moet eerder op die instandhouding van sy eie damme fokus as op boere se private damme. Foto: ADRIAN DE KOCK

Fokus eerder daarop om die 300 damme in staatsbesit meer doeltreffend te bestuur en in stand te hou as om water in die private besit, veral van boere, te wil nasionaliseer.

Die was Vrydag Helgard Muller, onafhanklike waterbeleidskonsultant en voormalige hoofdirekteur in die departement van water en sanitasie, se reaksie op Patrick Chauke, ’n senior ANC-LP, se dreigement dat die ANC gaan “kom vir (boere) se water”.

Hy het dié stelling Donderdagmiddag in ’n debat oor die waterkrisis in Kaapstad en die droogte in die res van Suid-Afrika in die parlement gemaak.

Chauke het bygevoeg dat grond en water nie van mekaar geskei kan word nie en dat die ANC ná die Paasreses die eienaarskap van water en waterregte in die parlement sal laat debatteer.

Hy wou ook weet waarom “wit mense” steeds meer as 3 000 damme in die land beheer en die staat net 300.

Muller sê dit is “ ’n dom idee” om boere se damme te wil vat.

Daar is reeds geweldige kommer oor die stand van die 300 grootste damme in die land, wat almal deur die staat besit word.

“Navorsing deur die Instituut van Siviele Ingenieurs wys dat dit nie onderhou word nie, dat dit agteruit gaan en vervalle is. Dít moet die regering se fokus wees omdat dit dié damme is wat die land se ekonomie dra.”

Volgens Muller beheer die regering reeds alle water omdat die waterwet lui dat die minister van water en sanitasie die trustee van alle water is wat met lisensies en permitte aan byvoorbeeld boere toegeken word.

“En daardie boere het hul damme uit hul eie sak gebou. Die staat se 300 damme gaar daarbenewens ook die grootste hoeveelheid water op. Hul redenasie is soos om 3 000 kruiwaens met 300 vragmotors te vergelyk.”

Louis Meintjes, president van die TLU SA, beskryf die uitlating as “absurd”.

Hy meen daar moet eerder gefokus word op die gehalte van Suid-Afrika se water, wat “erg besoedel is en die landbou en voedselproduksie onder geweldige druk plaas”.

“Ons sit met kritieke vlakke van voedselsekerheid en as jy met die water ook wil karring, gaan daar groter probleme wees. Hulle wil eers die grond vat en nou die water. Ons gaan bars. Hulle rig groot skade aan.”

Die laaste ding wat nou moet gebeur, is dat die staat meer beheer oor water moet kry – dit sal rampspoedige gevolge hê.

Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by AgriSA, sê Nomvula Mokonyane, voormalige minister van water en sanitasie, het reeds die onteiening van water in Januarie vanjaar geopper.

“AgriSA het haar toe gevra wat sy daarmee bedoel. Ons wou weet of daar van die hulpbron self of van die infrastruktuur soos damme en pypleidings gepraat word. Daar is steeds onduidelikheid daaroor.”

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, sê ANC-LP’s erken met hul “jaloerse” uitlatings dat “private waterbeplanning veel beter geskied as sentrale beplanning deur die staat”.

“Die laaste ding wat nou moet gebeur, is dat die staat meer beheer oor water moet kry – dit sal rampspoedige gevolge hê. Kyk maar net na die stand van elektrisiteitsvoorsiening.”

Volgens hom win AfriSake reeds regsmenings hieroor in.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê die uitlatings oor water pas in by die ANC se ideologiese raamwerk van radikale ekonomiese transformasie.

Volgens Duvenhage moet dit egter in die Wes-Kaapse politieke konteks gesien word waar die ANC met die waterkrisis bloed geruik het en glo dat hy dié provinsie in die 2019-verkiesing van die DA kan terugwen.

“Om egter die droogte as grondslag daarvoor te gebruik, is ’n bietjie verregaande omdat dit uiteindelik net oor die strewe na politieke mag en beheer gaan.”

Meer oor:  Droogte  |  Water  |  Damme  |  Grondonteiening  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.