Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Dr.’ jok oor graad, regering aanvaar verskoning
Tswelopele Manabile, jeugadviseur van die Vrystaatse premier, het erken sy het nie ’n doktorsgraad soos sy voorgehou het nie. Foto: Facebook

Tswelopele Manabile, jeugadviseur van Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het nie ’n doktorsgraad behaal soos wat sy voorgegee het nie.

Nadat Manabile twee weke lank volgehou het dat sy ’n doktorsgraad in politieke wetenskap verwerf het, het sy erken dit is nie die geval nie. Verlede Vrydag het sy gesê sy het spesiaal na Pretoria gereis om die sertifikaat by Unisa te gaan haal, waar sy dit volgens haar in 2017 verwerf het.

Die provinsie sê hy “ondersteun Manabile en haar familie in hierdie moeilike tyd” en oorweeg nie tugstappe teen haar nie.

Ntombela en Tiisetso Makhele, Ntombela se woordvoerder, het Manabile tot dusver as doktor aangespreek.

Manabile het in ’n verklaring gesê: “Ek neem volle verantwoordelikheid vir die disinformasie dat ek ’n doktorsgraad het, terwyl dit nie waar is nie. Ek wil dus verskoning vra dat ek toegelaat het dat die persepsie bestaan en hoe ek opgetree het om die persepsie aan te blaas.”

’n Facebook-inskrywing waarin Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, na “dr.” Tswelopele Manabile verwys. Foto: Facebook

Benewens Ntombela en Makhele, verwys ander mense op Facebook na haar as dr. Manabile. Op van die inskrywings waar sy as doktor aangespreek word, het sy die inskrywing “gelike”.

In die verklaring sê Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaat, die provinsie sal haar aanmoedig om haar PhD te voltooi, “aangesien ons vertroue in haar vermoë het. Ons het haar verskoning aanvaar en versoek dat almal dit ook sal doen.”

Makhele het Donderdagoggend erken Manabile het nie ’n doktorsgraad nie.

“Ons wil dit duidelik stel Manabile het nie ten tyde van haar aanstelling haar kwalifikasies verkeerdelik voorgehou nie. Sy het die departement korrek ingelig dat sy ’n BA honneurs (kommunikasiekunde) en MA (regering en politieke transformasie) aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het.

Tswelopele Manabile Foto: Facebook

“Sy het ook aangedui sy het vir ’n PhD in regering en politieke transformasie by die UV geregistreer. Sy het aan al die vereistes vir die pos van jeugadviseur voldoen.

“Ons verstaan sy het haar studie weens werk en persoonlike kwessies opgeskort.”

Manabile is op 1 April 2017 as Ace Magashule, voormalige premier, se jeugadviseur aangestel.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Verskoning  |  Doktorsgraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.