Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Drama by Zondo toe Jiba getuienis wou keer
Mxolisi Nxasana, ’n voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging. Foto: Skermgreep

In ’n dag van hoogdrama by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het adv. Nomgcobo Jiba daarop aangedring dat Mxolisi Nxasana, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, se getuienis oor haar gestaak moet word.

Jiba was in 2013 die nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging totdat Nxasana, ’n prokureur van Durban, op 1 Oktober 2013 by haar oorgeneem het.

Midde in sy getuienis oor sy aanstelling en die gebeure daarna is die verrigtinge onderbreek toe adv. Vuyani Ngwalana namens Jiba beswaar gemaak het sy is nie behoorlik in kennis gestel dat haar naam in Nxasana se getuienis genoem sal word nie. Die getuienis moes dus gestaak word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsittende beampte van die kommissie, het daarop gewys dat die getuienis oor die gebeure toe Nxasana die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) was asook die omstandighede rondom sy aanstelling en afdanking belangrik is. Nxasana het op sy bevel kom getuig.

Adv. Paul Pretorius SC.Foto: Skermgreep

Die NVG is ’n baie belangrike instansie in die land om misdaad te beveg. As daar bewyse is dat NVG-beamptes mense aangekla het sonder dat daar enige gronde daarvoor was, moet daar daaroor voor die kommissie getuig word, het Zondo gesê.

Ngwalana het namens Jiba aangevoer as ’n getuie toegelaat word om te getuig en iemand impliseer, is die skade gedoen. Wat ook al gesê word – veral voor dié kommissie – aanvaar die gemeenskap dit as die waarheid.

Hy het bygevoeg dit gaan oor die tydsberekening van die getuienis. Pres. Cyril Ramaphosa het Jiba afgedank, maar dit moet nog deur die Nasionale Vergadering oorweeg word. Enige getuienis wat nou voor die kommissie gelewer word, kan die mening van lede van die NV “inkleur”.

Adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier, het op sy beurt gesê Zondo het Nxasana gevra om te getuig en die kommissie het besluit wanneer dit moet gebeur. Dit het niks te doen met enige tydsberekening om Jiba te benadeel nie.

Pretorius het gesê getuies word gevra om te kom getuig. Mense sal geïmpliseer word; dit is die beginsel van ’n kommissie van ondersoek. Daardie beginsel sal nie ondermyn kan word met enige bevel nie.

Zondo het toe bevind Nxasana kan met sy getuienis voortgaan, maar dít waaroor hy getuig, moet inligting wees wat reeds deur regsuitsprake in die openbare domein is.

Dit gee dan aan Jiba ’n regverdige kans om haar voor te berei vir ingeval sy getuienis haar impliseer. Daardie dele van sy getuienis kan later aangehoor word.

Nxasana het getuig oudpres. Jacob Zuma het hom uit die bloute genader om dié pos permanent te vul. Hy het nie aansoek gedoen daarvoor nie.

Mxolisi NxasanaFoto: Skermgreep

Zuma het ook later probeer om van hom ontslae te raak. Die oudpresident het selfs ’n “oop tjek” vir hom gegee waarop hy self die bedrag kon invul as hy sou bedank.

Nxasana het getuig Jiba en adv. Lawrence Mrwebi, voorheen hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid van die NVG, het hom stief behandel toe hy as NDOV aangestel is.

Pretorius het gevra of daar ’n formele oorgangsproses was tussen Jiba en Nxasana.

Nxasana het gesê hy het daarvoor gevra, maar sy het nie gereageer nie.

Pretorius het uitgewys volgens inligting wat bekend is, was daar ondersoeke oor genl.maj. Johan Booysen, voormalige Valke-hoof in KwaZulu-Natal, toe hy valslik by die sogenaamde Cato Manor-moordbende betrek is.

Nxasana het getuig hy het besef dat hy meer van die saak moet weet en hy het Jiba gevra om meer inligting te gee, omdat sy die een was wat goedgekeur het dat Booysen van rampokkery aangekla word.

Die hof het later, ná ’n aansoek deur Booysen, dié saak teen hom uitgegooi.

Nxasana het getuig hy het met Jiba gepraat oor haar besluit en sy het gesê sy het staatgemaak op kundiges oor rampokkery in die NVG.

Nxasana het getuig die verklarings wat gebruik is as grondslag om Booysen aan te kla, was nie net hoorsê nie, maar die hoorsê van twee persone verwyder.

Hy het gesê ’n ongetekende verklaring van ene mnr. Danikus is aan hom gewys. Daar was ook ’n persoon wat ’n veiligheidswag by die Stanger-taxistaanplek was en dat daar aan hom gesê is hulle moet geld invorder vir die “generaal”. Niemand is by name in die verklaring genoem nie.

Die kommissie se sittings gaan Donderdag om 9:30 voort.

Meer oor:  Ndov  |  Nomgcobo Jiba  |  Mxolisi Nxasana  |  Getuienis  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.