Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Drama om Zuma sal Zondo nie keer om werk af te handel

Die regering glo die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sal sy werk kan afhandel ondanks die drama waarin hy gewikkel is rondom oudpres. Jacob Zuma, sê Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste.

Hy het joernaliste Donderdagmiddag toegespreek oor die besluite op Woensdag se kabinetsvergadering.

Hy is onder meer uitgevra oor Zuma wat die oggend die kommissie se verrigtinge verlaat het sonder toestemming van adjunkhoofregter Raymond Zondo, en wat dit kan beteken rakende respek vir die oppergesag van die reg in die land.

Jacob Zuma
Oudpres. Jacob Zuma Donderdagoggend tydens die sitting van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto Melinda Stuurman

Lamola het gesê alle Suid-Afrikaners moet die kommissie se werk ondersteun en verseker dat dit so gou as moontlik afgehandel word.

“Dit is in almal se belang dat die kommissie se verslag afgehandel word sodat ons kan weet wat in daardie tydperk (van staatskaping) gebeur het.

“Ons glo die regter wat aangestel is om die ondersoek te lei, kan enige regskwessies voor die kommissie hanteer. Dit sluit in Zuma se aansoek dat Zondo hom aan die kommissie moet onttrek, asook ander kwessies.

“Die regter het tot dusver die kommissie goed hanteer. Hy het ons nog nie ingelig dat dinge vir hom te moeilik geword het en dat hy dit nie langer kan doen nie.

“Die kommissie se bedrywighede verloop glad.

“Ons laat dus alle regskwessies in regter Zondo se bekwame hande. Ons glo hy kan die Zuma-kwessie hanteer.”

Zondo-kommissie
Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Melinda Stuurman

Oor die oppergesag van die reg in Suid-Afrika, het Lamola gesê dit is wat die land tot dusver gehelp het.

“Dit is oor ’n tydperk bewys dat al ons instelling politieke, sake-, burgerlike of enige ander invloede of druk kan weerstaan as hul besluite op grond van regsbeginsels geneem word – of dit nou die nasionale vervolgingsgesag, ons howe of kommissies is.

“Ons verwag die Zondo-kommissie sal sy verslag kan afhandel en aan die president oorhandig vir implementering op grond van die aanbevelings daarin.

“Dit is in belang van die mense van die land dat dit gedoen word sodat ons weet wat gebeur het en ons dringend ingevolge die aanbevelings kan optree.

“Ek wil dit benadruk dat ons almal ons samewerking aan die kommissie moet gee,” het Lamola gesê.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Ronald Lamola  |  Werk  |  Kommissie  |  Afhandel  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.