Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Druk laai op teen Ace in ANC-geledere
Ace Magashule
Ace Magashule

’n Politieke veldtog om die beleërde Ace Magashule as die ANC se sekretaris-generaal te verwyder, gaan in die komende weke uit sy tuisprovinsie verskerp word.

Deon Leeuw, ’n senior ANC-lid van die Xhariep-distrik en mede-organiseerder van die veldtog teen Magashule, het dít Sondag gesê nadat hulle verlede Maandag Magashule se kop tydens ’n protesoptog voor Luthuli-huis, die ANC-hoofkwartier, geëis het.

“Daardie optog was net die begin,” het Leeuw Sondag beloof.

Sondag het City Press berig dat ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa in KwaZulu-Natal en die Vrystaat glo eis dat Zuma en Magashule uit die ANC geskop word omdat hulle na bewering Ramaphosa se leierskap ondermyn.

Die koerant het verder berig dat sommige ANC-lede in KwaZulu-Natal meen dat die ANC se gebrek aan optrede teen Zuma, wat van korrupsie aangekla en deur die Zondo-kommissie by staatskaping geïmpliseer word, daartoe bydra dat ander ANC-leiers wat tans ook beskuldig word, weier om van hul party- of staatsposte afstand te doen soos die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vroeër beveel het.

Ons sê nou genoeg is genoeg. Ons het vir te lank onder Magashule gely.

Leeuw het Sondag gesê dat hul veldtog teen Magashule binnekort met die samewerking van burgerlike organisasies verskerp sal word.“Ons veldtog is om van Magashule ontslae te raak as sekretaris-generaal weens die skrikbewind wat hy as Vrystaatse premier gevoer het én die feit dat hy tans steeds as de facto-premier die Vrystaat uit Luthuli-huis regeer.

“Ons wil met die veldtog korrupsie in die Vrystaat uitroei en seker maak dat die ANC ’n regte sekretaris-generaal kry. Magashule is ’n verleentheid en nie sy sout as sekretaris-generaal werd nie.

“Hy het hom as premier verhewe bo die reg beskou en het self besluit wie LUR, departementshoof, burgemeester of munisipale bestuurder geword het en het net sy lakeie in daardie poste aangestel.

“Ons sê nou genoeg is genoeg. Ons het vir te lank onder Magashule gely. Ons het dié aangeleentheid al met verskeie NUK-lede bespreek.”

Magashule self het egter Saterdagmiddag in Ekurhuleni, Gauteng, tydens ’n deur-tot-deur-veldtog van die ANC vir komende tussenverkiesings oor die beweringe teen hom aan eNCA gesê: “Ek is oor niks bekommerd nie omdat ek ’n wetsgehoorsame Suid-Afrikaanse burger is. Ek het niks verkeerds gedoen nie. As jy weet jy het niks verkeerds gedoen nie, stap jy met trots en selfvertroue.”

Op die vraag of hy van sy pos afstand sal doen as hy in hegtenis geneem word, het Magashule gesê: “ANC-aangeleenthede is ANC-aangeleenthede. Dit is nie vir die media om die pas en tempo daarvan te bepaal en vir ons voor te sê wat om te doen nie. Los ANC-aangeleenthede om deur die ANC bespreek te word.”

Ons veldtog is om van Magashule ontslae te raak as sekretaris-generaal weens die skrikbewind wat hy as Vrystaatse premier gevoer het én die feit dat hy tans steeds as de facto-premier die Vrystaat uit Luthuli-huis regeer.

Nhlakanipho Ntombela, ANC-woordvoerder in KwaZulu-Natal, het Sondag gesê hy weet nie waar gerugte vandaan kom dat daar pogings in die party is om Zuma te laat uitskop nie.

Volgens hom glo die ANC in die provinsie dat die party hernu en verenig moet word.

Hy sê die ANC in KwaZulu-Natal het al herhaaldelik gesê dat individue wat in ’n hof moet verduidelik oor beweerde wandade, dit moet doen en nie agter bewerings van politieke inmengery moet skuil om die regsprosesse teen hulle te ontwrig nie.

Sihle Zikalala, KwaZulu-Natal se premier en provinsiale ANC-voorsitter, het Sondag in Umgababa, suid van Durban, op ’n herdenkingsaamtrek vir mense wat weens politieke geweld in dié provinsie gesterf het, gesê “ons het leiers in die ANC en die samelewing nodig wat die mense en nie hulself verteenwoordig”.

“Ons moet onsself nooit verhef nie. Hierdie stryd gaan nie oor ons nie. Dit was lank aan die gang voordat ons ons by die party aangesluit het.”

Meer oor:  Deon Leeuw  |  Sihle Zikalala  |  Ace Maga­Shule  |  Politiek  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.