Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Duarte sê ANC is rassisties

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het Donderdag haar eie party as “stamgebonde en rassisties” beskryf.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Jabu Kumalo

In haar toespraak vir die jaarlikse Albertina Sisulu-gedenklesing in Soweto het Duarte gesê die ANC marginaliseer lede wat nie swart Afrikane is nie. “Ons het amper stamgebonde geword in die manier waarop ons onsself voorhou,” het Duarte gesê in ’n toespraak waaroor IOL gister berig het.

Duarte het ’n afskrif van die toespraak aan Rapport verskaf.

“Ons is rassisties in die ANC, want ons marginaliseer mense wat nie swart Afrikane is nie; ons hou hulle ten alle koste uit die ANC. (En) sit een of twee kwotas daar om te kan sê Jessie verteenwoordig ons.

“Ons kan nie aanvaar dat nierassigheid een van die kernwaardes van die ANC is nie. Ons wil dit nie aanvaar nie, selfs al hou ons aan om mites daaroor te skep.”

Tensy ons bereid is om die nasie te verenig, sal die ANC nie die toekoms oor 100 jaar sien nie.

Sy het bygevoeg dat party ANC-lede volhou met die retoriek dat bruin mense baat gevind het by apartheid.

“Dan vra ek vir diegene wat dit sê: Was jy al ooit in Westbury? Ek twyfel. Was jy al ooit in Riverlea Extension of Newclare? Ek twyfel sterk,” het Duarte gesê en bygevoeg dat ANC-lede dit ’n gewoonte gemaak het om stellings te maak sonder kennis oor die werklik situasie.

Volgens Duarte vra ANC-lede gereeld wie bruin mense kwansuis gedurende apartheid gemarginaliseer het. Hulle sê dat bruin mense niks nodig het van die demokratiese staat nie.

“So, wat ons nou het, is ’n groep mense in hierdie land wat nie vir die ANC stem nie, hulle stem eenvoudig nie, hulle bly by die huis. Hulle sien nie meer die ANC as hul tuiste nie, en tog in die 1980’s, en selfs voor die 1980’s, het ons almal saamgewerk.”

Duarte het gewaarsku dat die ANC moet besef dat “eenheid” net ’n verkiesingsfoefie op hul vorige leierskonferensie was.

“Tensy ons bereid is om die nasie te verenig, sal die ANC nie die toekoms oor 100 jaar sien nie.”

Sy het ook verwys na ANC-Whats­App-groepe waar daar rassistiese terme gebruik word as daar verwys word na bruin en Indiërmense.

Rapport het gister vir Duarte gevra of sy staan by die kritiek wat sy Donderdag uitgespreek het. In reaksie het sy gesê dat die ANC se waardes hernuwing kort.

“Die vertrekpunt van my toespraak was die idee om die nasie te verenig en die ANC op te bou,” sê Duarte.

Sy het bygevoeg dat sy nie “gatvol” vir die ANC is nie, maar debat wil aanwakker sodat die party homself kan korrigeer. “Ek dink egter nie jy sal verstaan hoe om ’n nasie te bou nie, gegewe die oriëntasie van jou koerant en sy eienaars. Ek dink julle soek individue om te blameer. Ek is nie (te blameer nie), ek het gepraat by ’n interne politieke skool.”

Die ANC het nie op navrae gereageer nie.

Duarte was in 2017 ’n uitgesproke ondersteuner van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se veldtog om ANC-president te word. Sy het ook in Junie vanjaar vir Zindzi Mandela, ambassadeur in Denemarke, verdedig nadat Mandela op Twitter na wit Suid-Afrikaners as “gronddiewe” en “apartheidsapologete” verwys het.

“Los vir Zindzi Mandela uit. Sy is nie ons land se vyand nie, sy is ook nie die argitek van grondonteiening nie, en sy hou ook nie die groei van ons ekonomie terug nie,” het Duarte oor Mandela se twiets gesê.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het op Twitter oor Duarte se toespraak gesê: “Hoekom is jy nou verras, wanneer jou party vir die laaste 25 jaar niks anders as ’n rasgedrewe agenda gedryf het nie?”

Meer oor:  Jessie Duarte  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.