Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Duduzane ‘hoop om Zondo nooit weer te sien’

Duduzane Zuma het Dinsdag voor die Zondo-kommissie gesê hy hoop hy hoef adjunkhoofregter Raymond Zondo nooit weer te sien nie, maar as hy moet, sal hy dit doen.

Duduzane Zuma getuig voor die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Zondo het hierop laggend gesê hy besef dat Zuma hom nie weer wil sien nie.

Hy het voor die kommissie verskyn om vrae te beantwoord oor die moontlike rol wat hy in staatskaping gespeel het.

Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, het Dinsdag sy getuienis voor die kommissie afgesluit en gesê mense bluf hulself as hulle dink daar is nie politiekery betrokke by dit wat met hom gebeur het nie.

“Dit is duidelik. Ek dink ek is ongelukkig vasgevang in ’n politieke storm,” het Zuma, ’n oud-sakevennoot van die Guptas, getuig.

Hy het ook gesê dat hy gesien word as die gesig van korrupsie. “Ek is nie korrup nie. Ek het nog nooit geld van enigiemand gevat nie. Ek wil dit duidelik maak. As jy my sien rondloop, dit is nie ek nie,” het Zuma getuig.

Hy het aangevoer dat hy voor die Zondo-kommissie sit om oor allerlei bewerings te antwoord, maar dit kon gedoen gewees het met die destydse ondersoek van die openbare beskermer (OB) – in daardie stadium adv. Thuli Madonsela.

Madonsela het ondersoek ingestel na Zuma se betrokkenheid daarby om ’n vergadering tussen Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, en die Guptas te reël.

Hy het, soos Maandag, gekla dat hy nie die geleentheid gekry het om sy kant van die saak aan die OB te stel nie. Adv. Phillip Mokoena SC, getuienisleier van die kommissie, het gesê hy het ’n aantal vrae hieroor aan Zuma. Mokoena het gevra of hy reg verstaan dat Zuma ’n uitnodiging van die vorige OB gekry het om deel te neem aan die verrigtinge (in haar ondersoek).

Duduzane het geantwoord in ’n sekere stadium, ja.

Moekoena het daarop gesê dat Zuma ook gedagvaar is om sy saak te stel; dus het hy die geleentheid gekry.

Duduzane het dit bevestig, maar gesê hy meen die prosedure wat die OB gevolg het, kan bevraagteken word. Al wat hy sê is dat sy weergawe nie in die OB-verslag vervat is nie.

Zuma het ook getuig alles het begin met die bewering van Mcebisi Jonas, toe hy adjunk-minister van finansies was, wat aangevoer het hy (Zuma) het hom doelbewus na die Guptas se huis geneem waar hy ook toegekyk het hoe daar gepoog is om Jonas om te koop.

Hy het getuig as gevolg van die ondersoeke teen hom moes hy sedertdien “in en uit hof” wees. Hy is ook verlede jaar deur die handelsmisdaadeenheid in hegtenis geneem toe hy in Suid-Afrika aangekom het vir die begrafnis van sy jonger broer.

Zondo het gesê indien die polisie nie gronde het om iemand in hegtenis te neem nie, mag hulle dit nie doen nie, ongeag wie of wat die persoon is.

Adv. Piet Louw SC, wat Dinsdag Zuma se kruisondervraging behartig het, het aan hom gevra of dié klagte die uiteinde van Jonas se bewering was, waarop Zuma gesê het dit is korrek. Die klagte is intussen teruggetrek omdat daar gewag word vir die Zondo-kommissie om sy ondersoek te voltooi.

Zuma het getuig dat daar geen vrae voor sy inhegtenisneming aan hom gestel is nie.

Zondo het gesê indien die polisie nie gronde het om iemand in hegtenis te neem nie, mag hulle dit nie doen nie, ongeag wie of wat die persoon is. Dit kan wees dat daar behoorlike gronde was, dit kan ook ’n eerlike uitvoering van mag wees, maar hy wil oor sulke gevalle ingelig word.

Louw het gesê Zuma is bloot in hegtenis geneem op gronde daarvan dat hy na bewering teenwoordig was waar omkoopgeld deur die Guptas aangebied is, en hy toe nie ’n klag by die polisie daaroor gaan indien het nie.

Louw sê dit is ironies dat Jonas tot vandag toe self nie ’n strafregtelike klag hieroor ingedien het nie.

Zuma het aan die einde van sy getuienis op Dinsdag se sitting dankie gesê vir die geleentheid en dat dit ’n eer en voorreg was om voor die kommissie te getuig. Hy het Zondo ook vir sy regverdigheid bedank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.