Duduzane Zuma, een van die vermeende sleutelfigure in die Gupta-familie se staatskapingsprojek, wil nou voor die Zondo-kommissie getuig nadat hy vroeër daarteen vasgeskop het.
Sy regsverteenwoordiger het in ’n brief aan die kommissie van ondersoek na staatskaping gesê Zuma wil sy weergawe gee oor die gebeure waaroor Mcebisi Jonas, voormalige adjunk-minister van finansies, getuig het. Hy wil Jonas ook onder kruisverhoor neem.

Duduzane Zuma. Foto: News24
Jonas het getuig Zuma was by toe die Guptas hom wou omkoop om minister van finansies te word.
Regter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê hy sal Donderdag uitspraak lewer oor versoeke van geïmpliseerdes om getuies te kruisondervra. Hy sal Zuma se versoek saam met dié van ander getuies oorweeg.
Jan Gilliland, ’n amptenaar van die nasionale tesourie, het bewyse van ’n geldspoor van R260 miljoen tussen 2011 en 2018 vanaf die regering se kommunikasiediens (GCIS) na die Guptas se mediamaatskappye The New Age en Infinity Media gelewer.
Hy het ook onthul dat die Vrystaatse provinsiale regering in dié tyd R79,3 miljoen – meer as enige ander provinsiale regering – aan advertensies in publikasies van die Guptas bestee het. Hiervan het die kantoor van die premier R53 miljoen bestee.
Die regering in KwaZulu-Natal het met R25 miljoen die tweede meeste bestee, en Noordwes die derde meeste met R23,8 miljoen.
Levy Ndou, ’n politieke ontleder, sê dit verbaas hom nie dat dié drie provinsies soveel geld na die Guptas laat vloei het nie, omdat hulle gelei is deur oudpres. Jacob Zuma se ondersteuners, soos Supra Mahumapelo en Ace Magashule.
“Dit is die mense wat aan die hoof staan van pogings om terug te veg teen pres. Cyril Ramaphosa.”