Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Duduzile, Pappa se geliefkoosde revolusionêr

Sy’s haar pa se lieflingkind, maar Duduzile Zuma-Sambudla is skynbaar besig om haar familie te vervreem deur gewelddadige optogte aan te hits ten einde haar pa bevry te kry.

Die foto van Duduzile Zuma en haar pa, oudpres. Jacob Zuma, wat sy Vrydagaand getwiet het. Foto: Twitter/ @DZumaSambudla

Onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, wat verlede Vrydag begin het nadat oudpres. Jacob Zuma tot 15 maande tronkstraf gevonnis is vir minagting van die hof, het die afgelope week tot anargie gelei in groot dele van die land se twee digsbevolkte provinsies.

Rapport verneem by gesaghebbende bronne dat Zuma-Sambudla se optrede op Twitter, waarin sy gewelddadige betogings geprys het, egter nie deur haar nabye familie ondersteun word nie.

Die naaste wat een van hulle egter daaraan gekom het om Duduzile openlik te repudieer, was haar tweelingbroer, Duduzane, wat Donderdag aan Rapport gesê het dat “die reg sy gang moet gaan” wanneer dit by sy suster se optrede op sosiale media kom (lees die volledige onderhoud hier).

Zuma-Sambudla het die laaste jaar saam met haar pa in Nka­ndla in KwaZulu-Natal gewoon.

Terwyl sy as de facto-woordvoerder op Twitter vir haar pa opgetree het, was sy volgens ingeligtes haar pa se steunpilaar.

Toe Bheki Cele, die minister van polisie, haar pa in Februarie besoek het, was dit Zuma-Sambudla wat op Twitter geskryf het hoe lekker die twee saam gelag het. Dit was nadat Zuma op 15 Februarie ’n opdrag van die konstitusionele hof geminag het om voor die Zondo-kommissie van ondersoek te getuig.

Duduzile het só die geweld in KwaZulu-Natal geprys.

Sy het ook die besoeke van Julius Malema, EFF-leier, Tony Yengeni, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, en Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, met foto’s op haar Twitter-profiel gedokumenteer.

En wanneer haar pa in die hooggeregshof in Pietermaritzburg moes verskyn, waar hy saam met die Franse wapenvervaardiger Thales teregstaan op 16 aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog en rampokkery, was dit Zuma-Sambudla wat reggestaan het met haar foon om kiekies van haar pa te neem en met die wêreld te deel.

Toe haar pa op 29 Junie tot 15 maande tronkstraf gevonnis word weens sy versuim om voor die Zondo-kommissie te verskyn, was Zuma-Sambudla aanvanklik kalm.

“Amandla! Ek het pas met my pa gesels en sy gemoedstoestand is goed. Hy is nie bang nie.

“Ons het ’n keuse om ons tyd (in die tronk) in Nkandla of Johannesburg uit te dien.

“Natuurlik het ons gekies om nader aan die huis te wees (Nkandla). Inperking of geen inperking, ons sal jou vergesel om jou tyd uit te dien,” het sy verklaar.

Selfs toe haar pa hom verlede Woensdagaand kort voor middernag oorgegee het, het Zuma-Sambudla grappies gemaak: “Sopas met oudpres. Jacob Zuma op pad (na die tronk) gesels, en sy gemoed is nog goed. Hy sê hy hoop hulle het nog sy Robbeneiland-oorpak en dat hy hierdie keer darem nie met Afrikaans hoef te sukkel nie.” Haar deuntjie sou binnekort verander.

Op 8 Julie, toe onluste in KwaZulu-Natal begin vlamvat het, het Zuma-Sambudla ondersteuners van haar pa opgesweep om hul “struggle verder te verskerp”.

Toe die eerste voertuie by Mooirivier brand, het sy gesê: “Mooirivier, ons sien julle. Amandla!”

Daarna het sy met gereelde inskrywings die geweldenaars in Durban, Empangeni, Diepkloof, Richardsbaai, Inanda, Harri­smith, Mtubatuba, Eshowe, Cliffdale, Ladysmith en Newcastle aangemoedig en geprys.

In een twiet is selfs ’n video gewys van ’n man wat op ’n plakkaat van pres. Cyril Ramaphosa losbrand. Dit is later verwyder.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het oplaas Dinsdagoggend aangekondig die ANC eis dat Zuma-Sambudla “aanspreeklik gehou word vir haar twiets”.

“Ons is baie bekommerd oor Duduzile,” het Duarte gesê.

Rapport verneem by ingeligte bronne dat haar familielede en vertrouelinge ook so voel, veral nadat die DA strafregtelike klagte teen haar, Duduzane en Malema aanhangig gemaak het vir die aanhitsing van geweld.

“Oortreders wat geweld aanhits, moet vervolg word . . . Die reg moet sy gang gaan,” het haar broer gesê.

Hy het ook ontken dat ’n Twitter-profiel in sy naam (@Duduzane__Zuma) waarmee geweld aangehits is, aan hom behoort.

Zuma-Sambudla is glo bitter ontsteld oor die dood van haar oom, Michael Zuma, verlede Sondag ná ’n lang siekbed.

“Ons kinders was almal baie na aan hom,” het Duduzane Donderdag gesê. Die oom se roudiens en begrafnis vind eerskomende Donderdag plaas.

Duduzane en Duduzile het hul pa se noue bande met die Gupta-familie gedeel.

Lank voordat Duduzane in 2014 naam gemaak het as ’n direkteur van minstens 11 maatskappye met Gupta-bande, is Zuma-Sambudla in 2009 aangestel as direksielid van die Guptas se Sahara Computers.

Zuma-Sambudla deel ook haar broer se aptyt vir ’n lekker lewe.

In 2011 het sy op ’n private wildreservaat, Inkwenkwezi naby Oos-Londen, met die sakeman Lonwabo Sambudla getrou. Daar was 600 gaste, wat in die duurste motors aangekom het.

Die troue is deur die tenderpreneur Kenny Kunene gereël.

Die sakeman Khulubuse Zuma, ’n neef van die tweeling, was ’n eregas.

Dieselfde jaar is Zuma-Sambudla se man betrek by ’n tender van R1,1 miljard van die departement van openbare werke.

Nadat haar en haar man se huwelik in 2015 op die rotse beland het, was Zuma-Sambudla meesal uit die kollig. Haar broer het al die aandag gekry.

Eers in Februarie het Duduzile weer die nuus gehaal toe sy in die bresse sou tree vir haar pa.

Rapport verneem sy is een van verskeie mense wat deur die polisie ondersoek word weens hul rol in die aanhitsing tot geweld op sosiale media.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Geweld  |  Protes  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.