Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Duisende wat Ace steun by hof verwag
Ace Magashule
Ace Magashule

Tussen 8 000 en 10 000 ondersteuners van Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, word Vrydag by die landdroshof in Bloemfontein verwag, waar hy op verskeie aanklagte oor die asbesdak-skandaal van R255 miljoen sal verskyn.

Dié inligting is op voetsoolvlak van die ANC bekom. Dit blyk dat Vusimusi Tshabalala, hoofsweep van die Vrystaatse wetgewer en voormalige burgemeester van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Kestell, Harrismith en Qwaqwa), glo in beheer staan van al die reëlings met ondersteuners, wat glo uit al nege provinsies met busse aangery gaan word.

Maar toe Tshabalala, ’n vriend van Magashule wat die radikale ekonomiese transformasie (RET-)plan vir hom in die Vrystaat help dryf het, hieroor gebel is, het hy gesê: “Nee, nee, ek organiseer niks nie. Ek sien maar op Facebook daar word gesê dat ’n groot klomp mense na Bloemfontein in busse onderweg is. Maar nou weet ek nie of dit die waarheid is nie. Jy weet ’n mens kan nooit vooraf sê hoeveel mense sal opdaag nie. Ons het gesê die wat kom, moet op hulle eie kom. Ons organiseer niks nie.”

Netwerk24 het ook verneem dat Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Siwe (MK)-veteranevereniging en ’n Magashule-vertroueling, al Donderdagoggend uit Fichardtpark in Bloemfontein reëlings vir Vrydag se hofverrigtinge begin tref het.

Carl Nieuhaus het die foto van hom en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, op Twitter geplaas. Foto: Twitter

Niehaus het ook vroeër in ’n twiet gesê:

“On my way to Mangaung to support comrade @Magashule_Ace tomorrow. He is my leader, friend and comrade. Loyalty is the foundation of life. I am not a fair weather friend. I stand by my friends in good & bad times. One soldier does not leave another behind on the battle field!”

Vusi Tshabalala, hoofsweep van die Vrystaatse wetgewer.Foto: Twitter

Volgens ingeligtes is hier ’n bloedstreep in die sand getrek en is dit nou oorlog binne die ANC teen pres. Cyril Ramaphosa en sy regering, wat verantwoordelik gehou word vir die inhegtenisneming van Magashule.

Die inligting op grondvlak sê egter die hele proses word gekoördineer deur Tshabalala, maar hy ontken dit.

Thabo Meeko, woordvoerder van die Vrystaatse ANC, sê hulle is ook nie besig om reëlings te tref nie en mense woon die verrigtinge as individue by.

“So ons as die Vrystaatse ANC weet nie hoeveel mense by die hof gaan opdaag nie.”

Netwerk 24 verneem egter besoekers uit al nege provinsies word verwag en uit Mpumalanga is glo “tientalle busse op pad. Daar is selfs die getal van 80 genoem, wat onwaarskynlik klink.”

Daar is glo ook vrese dat geweld en plundery kan uitbreek.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, sê die inhegtenisneming van Magashule is ’n waterskeidingsoomblik in die politieke konflik binne die ANC en veral tussen die Ramaphosa-groep en die RET-groep van Magashule.

“My inligting is dat die Ace-ondersteuners hier ’n bloedstreep in die sand getrek het en dat dit die begin van ’n revolusie is.

“Ongeag die hoeveelheid mense wat opdaag, gaan daar steun getoon word vir Magashule, met die MK-veterane en Carl Nieuhaus duidelik in die prentjie. Onstabiliteit en plundery kan nie uitgesluit word nie.”

* Pres. Brand straat tussen Pres. Boshoff-en St. Andrewstraat, en St. Georgesstraat tussen Markgraaff-en Wes-Burgerstraat, gaan vanaf middernag tot Vrydag ná die hofverrigtinge in Bloemfontein vir verkeer gesluit word, sê Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro. Dit is om die groot getalle mense te hanteer wat moontlik gaan opdaag by Magashule se hofverskyning.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Bloemfontein  |  Duisende  |  Korrupsie  |  Ondersteuners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.