Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Duurder TV-lisensies moet dalk SAUK red

Die regering oorweeg dit om die prys van televisielisensies te verhoog as deel van sy plan om die SAUK se geldsake gesond te dokter.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het Dinsdag op ’n debat in die parlement gesê die regering het verskeie planne op kort tot lang termyn om die SAUK om te keer.

Die staatsonderneming het onlangs sy beoogde art. 189-afleggingsproses tot in die nuwe jaar uitgestel nadat werkers verlede maand afleggingsbriewe ontvang het.

Sowat 400 werkers sal na verwagting geraak word.

Ndabeni-Abrahams en Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het verlede week met die SAUK-raad vergader om ander oplossings te bespreek.

As deel hiervan het Ndabeni-Abrahams Dinsdag gesê die regering oorweeg dit om die prys van televisielisensies, wat tans R265 per jaar kos, te verhoog ingevolge die Wet op die Openbare Uitsaaier hangende die verbetering van die proses om gelde te verhaal.

As regering kan ons nie wegkyk wanneer die SAUK finansiële uitdagings het nie, en as regering kan ons nie wegkyk wanneer die uitsaaier deur onrus van werkers weens ’n afleggingsproses in die gesig gestaar word nie.

Verdere beoogde stappe sluit in die herskep van die SAUK se befondsingsmodel, finansiële hulp deur die regering met die vervaardiging van programme, en die wysiging van sy model vir die verskaffing van sein om by veranderende kykerspatrone aan te pas.

“As regering kan ons nie wegkyk wanneer die SAUK finansiële uitdagings het nie, en as regering kan ons nie wegkyk wanneer die uitsaaier deur onrus van werkers weens ’n afleggingsproses in die gesig gestaar word nie.”

Phumzile van Damme, DA-LP, het beweer Ndabeni-Abrahams en Nxesi het ingegryp deur die afleggingsproses te staak.

“Die SAUK is nie die Stella Ndabeni-Abrahams-vertoning nie. Dit word deur die wet teen politieke inmenging beskerm,” het Van Damme gesê.

Sy het gedreig met hofaksie sou Ndabeni-Abrahams by die mediasie-proses betrokke raak en het bygevoeg dat afleggings onvermydelik is.

“Sowat 45% van die SAUK se befondsing gaan aan salarisse en dit is ’n feit dat die SAUK te veel werknemers het. Die feit is dat daar R700 miljoen opgedok sal moet word om die werkers te behou en die tesourie het nie die geld daarvoor nie,” het Van Damme gesê.

Die regering het verlede jaar ’n reddingsboei van R3,2 miljard aan die SAUK toegestaan op voorwaarde dat hy onder meer die personeel moet “optimaliseer”.

Die probleem is dat ons nie ontslae moet raak van die mense wat nog die skip se enjinkamer aan die gang hou nie. Ons kan nie ontslae raak van nuuslesers of nuus-skrywers nie, want hulle laat die skip se skroewe nog draai. Raak eerder ontslae van die uitvoerende struktuur en topstruktuur en verminder salarisse.

Dit beteken egter volgens Ndabeni-Abrahams nie noodwendig dat afleggings moet plaasvind nie, maar dat onder meer ’n oudit van werkers se vaardighede en opleiding van werkers moet geskied.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê die geldsake van die SAUK, nes die geval is met ander staatsondernemings, het tot so ’n mate versleg dat “ons op die punt is waar ons die prys moet betaal”.

“Die probleem is dat ons nie ontslae moet raak van die mense wat nog die skip se enjinkamer aan die gang hou nie. Ons kan nie ontslae raak van nuuslesers of nuus-skrywers nie, want hulle laat die skip se skroewe nog draai. Raak eerder ontslae van die uitvoerende struktuur en topstruktuur en verminder salarisse,” het Groenewald gesê.

Zandile Majozi, IVP-LP, het gesê die swye van die nasionale tesourie oor die pad vorentoe vir die openbare uitsaaier is hoogs kommerwekkend.

Sy het beklemtoon dat daar nie toegelaat kan word dat die SAUK misluk nie omdat dit ’n belangrike rol in die land se demokrasie speel.

“Die SAUK is die enigste uitsaaier wat Suid-Afrikaners in al 11 amptelike landstale bedien. Dit is die enigste uitsaaier wat op die mees afgeleë plattelandse plekke uitsaai,” sê Majozi.

Meer oor:  Stella Ndabeni-Abrahams  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.