Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
E-posse weerlê Cyril se CR17-storie

Die ANC behoort in die lig van die toenemende korrupsie in sy geledere in twee te skeur: dié teen korrupsie en dié wat daarteen gekant is, het Mmusi Maimane, DA-leier, Saterdag gesê nadat News24 berig het oor gelekte e-posse wat oënskynlik pres. Cyril Ramaphosa se weergawe oor skenkings aan sy CR17-veldtog weerlê.

Die e-pos-kommunikasie tussen Ramaphosa en van sy veldtogbestuurders toon dat hy én Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ten nouste betrokke was by die geldinsameling.

Ramaphosa het vroeër te kenne gegee dat hy nie ingelig is oor wie wat aan sy veldtog geskenk het nie. Maar die e-posse bewys skynbaar die teendeel.

... dit wys dat hy geweet het?.?.?.
Busisiwe Mkhwebane

Daar is ook ’n e-pos waarin Ramaphosa self opdrag gee dat R20 miljoen van een rekening na ’n ander oorgeplaas word.

News24 het die e-posse – wat onder die president se politieke vyande en op Twitter versprei is – geverifieer en bevind dit is eg.

Dit volg teen die agtergrond van Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se onlangse verslag waarin sy bevind het Ramaphosa het die parlement mislei oor die skenking van R500 000 van African Global Operations (AGO), (voorheen Bosasa).

Sy glo ook dat hy en lede van sy CR17-veldtogspan by geldwassery betrokke was omdat die skenkergeld tussen rekeninge oorgeplaas is.

Sy het gesê Rama­phosa het die etiese kode vir uitvoerende amptenare oortree deur nie die skenkings aan sy CR17-veldtog te verklaar nie.

Mkhwebane het in haar verslag gesê die speaker van die nasionale vergadering moet die president se skending van die etiese kode vir ampsdraers na die nasionale vergadering se etiekkomitee verwys.

Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, is versoek om verder ondersoek in te stel na die “prima facie-bewys” van geldwassery nadat geld van die veldtog tussen rekeninge oorgeplaas is.

Die president voer aan die OB het haar mandaat oorskry deur die politieke skenkings te ondersoek.

Sy aansoek om ’n interdik teen dié “remediërende stappe” – ook dat sy skenkers se name bekend gemaak word – word Maandag 12 Augustus aangehoor.

Mkhwebane het gewaarsku Ramaphosa kan deur sy skenkers gekaap word en drie skenkings ter waarde van R200 miljoen uitgewys, insluitende drie bedrae (sowat R121 miljoen) van dieselfde skenker.

In ’n onderhoud twee weke gelede met Sizwe Mpofu-Walsh, seun van Dali Mpofu van die EFF, het Mkhwebane op ’n vraag geantwoord dat sy op ’n tyd geglo het dat Ramaphosa werklik nie geweet het van die skenkings nie.

“Maar nou, met al my bewyse wat ek het, wys dit dat hy geweet het.”

Die e-posse is vermoedelik deel van die “bewyse” waarna sy verwys het.

Lede van die CR17-veldtog het vir News24 gesê hulle vermoed iemand het onwettig toegang tot hul interne e-posse gekry. Hulle het egter nie die bestaan of inhoud daarvan ontken nie.

Maimane het Saterdag getwiet: “Laat die regerende party skeur sodat dié wat verbind is tot korrupsie saamwerk en in ’n verkiesing staan en dié wat gekant is teen korrupsie en ’n grondwetlike demokrasie wil bou, kragte saamsnoer. Ons moet verandering bring.”

Hy het bygevoeg: “Verwag meer hiervan soos die regerende party ineenstort soos die ontplooides en die staat teen mekaar veg. Ons grootste uitdaging is dat ons ’n ekonomie het wat sukkel en ’n land wat op werkskepping en die toekoms moet fokus. Laat ons ons politiek hervorm sodat dié met dieselfde waardes saamwerk.”

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het nie gister op navrae oor die e-posse gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.