Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
E-tol: ‘Gauteng, verklaar dispuut met staat’

Die Gautengse regering glo steeds dat e-tol in die stedelike gebiede verwerp moet word, sê David Makhura, ANC-premier in die provinsie.

David Makhura

“Ons verwerping van stedelike e-tol het nie verander nie,” het Makhura Donderdag in Johannesburg gesê.

Daar is die afgelope week gegis dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) – wat verlede naweek oor vier dae vergader het – van Gauteng verskil oor e-tol.

Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie waar die NUK-besluite oorgedra is, gesê die party se topleiers steun die gesprekke oor e-tol tussen die nasionale en provinsiale regering.

Hy het gesê die NUK bevestig die “gebruiker-betaal”-beginsel om groot infrastruktuur-projekte te finansier.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê die ANC kan nie die “volumes getuienis” ignoreer dat e-tol misluk het nie.

Wayne Duvenage, hoof van Outa, sê daar is bewyse dat vier uit vyf motoriste hul onbetaalde e-tolskuld ignoreer.

“Verklarings, beleid en regulasies is een ding, maar wat saak maak, is die vermoë om wette en beleid te implementeer. As die regering nie kan nie, moet praktiese en werkbare oplossings gevind word.”

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeg verlede maand ingegryp by ’n Twitter-twis tussen Tito Mboweni, minister van finansies, en Makhura wat gedreig het om die ANC nog verder te verdeel. Die president het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Mboweni en Makhura versoek om teen einde Augustus ’n voorstel aan die kabinet voor te lê om die dooiepunt op te los.

Mbalula het Woensdag in ’n voorlegging aan parlementslede gesê die skrapping van e-tol is een van die voorstelle wat bekyk word.

“Die werklikheid is dat die e-tol-skuld betaal moet word. Ons moet die samelewing voorberei op ’n oplossing wat goed vir die regering en die burgers sal wees,” het hy aan die gekose komitee oor vervoer, staatsdiens en administrasie en openbare werke en infrastruktuur gesê.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter, sê as die provinsiale regering ernstig is oor die afskaffing van e-tol, moet hy ’n formele dispuut met die nasionale regering verklaar –en as dit onsuksesvol is, moet die hof genader word.

Meer oor:  David Makhura  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.