Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
E-tol: Só word gate toegestop

Miljarde rande wat die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) weens swak bestuur nie bestee nie, gaan onder meer na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) vir e-tol-skuld geskuif word.

Dié stap sal waarskynlik dienslewering aan die armes raak, het dr. Dumisani Jantjies van die parlementêre begrotingskantoor Dinsdag gesê. Die begrotingskantoor het die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se staande komitees oor toedelings toegespreek.

Sfiso Buthelezi

Sfiso Buthelezi, voorsitter van die NV se staande komitee oor toedelings, het gesê Prasa se toedeling gaan vanjaar veral verklein word.

Dit sal volgens die begrotingskantoor met R4,2 miljard of 51% krimp.

Nelia Orlandi van die begrotingskantoor het verduidelik dit blyk dat Prasa heelwat geld het wat net daar lê en wat hy nie bestee nie. Dis beter as dié geld geskuif word na plekke waar dit wel nuttig gebruik kan word.

Maar parlementslede het gekla dit maak nie sin om geld van “ongetolde” dienste te skuif na ’n diens waarop tolgeld gehef word nie.

Dipuo Peters, ’n vorige minister van energie en vervoer en nou ’n lid van die NV se staande komitee oor toedelings, meen die geld wat na die Gautengse e-tol-dienste oorgedra word, is ’n tydelike maatreël wat nie probleme oplos nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag in sy begrotingsdebat bevestig dat daar oorweeg word om Gauteng se e-tolstelsel te skrap. ’n Gesamentlike komitee is gestig om dit te ondersoek, het hy gesê en herhaal dat pres. Cyril Ramaphosa teen Augustus ’n aankondiging hieroor sal doen.

Onlangs was daar ’n hewige Twitter-debat tussen Tito Mboweni, minister van finansies, en David Makhura, premier van Gauteng, oor die skrap van e-tol.

Die R2 miljard in Prasa se begroting wat nou bestem is om e-tol-skuld te help betaal, word na Sanral oorgeplaas omdat dié geld weens swak bestuur by Prasa nie bestee is nie.

“Die geld is geskuif weens Prasa se onvermoë om sy begroting te bestee, wat noodsaaklik is vir die opgradering en modernisering van die spoornetwerk.

“Dit is deels weens ’n gebrek aan kapasiteit, maar hoofsaaklik slegte korporatiewe bestuur in die verlede,” het die nasionale tesourie in antwoord op vrae gesê.

Prasa het volgens die tesourie teen Mei onbestede kapitaal van R18 miljard op sy balansstaat gehad. Die tesourie sê dit maak bloot nie sin om geld ongebruik in Prasa se begroting te los terwyl Sanral onder groot finansiële druk is nie.

Die tesourie het ook bevestig dat hy R3 miljard op ’n soortgelyke manier in die vorige boekjaar ook van Prasa na Sanral geskuif het.

Sanral skuld bykans R11 miljard vir e-tol. Die vernaamste rede vir dié skuld is dat motoriste weier om hul tolgeld te betaal.

Wat van die SAUK?

Sfiso Buthelezi het gister gesê hoewel die ekonomie wat nie groei nie ’n enorme probleem is, is afleggings in die staatsdiens nie noodwendig die antwoord nie. 

Afleggings werk dalk in die private sektor, maar staatsamptenare skuif bloot van ’n produktiewe werk na ’n tou vir maatskaplike toelae, sê hy. 

Die regering moet dan steeds vir hulle sorg. 

Yunus Carriem, ANC-LP,  sê toedelingskomitees moenie stilbly oor die geldkrisis by die SAUK en ander staatsondernemings nie.

Meer oor:  Prasa  |  Sauk  |  Sanral  |  Sfiso Buthelezi  |  E-Tol  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.