Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘E-tol-stelsel bly totdat kabinet anders besluit’

Totdat die kabinet ’n besluit oor die toekoms van Gauteng se e-tol-stelsel neem, bly die stelsel in plek.

So het Ayanda-Allie Paine, woordvoerder van Fikile Mbalula, minister van vervoer, Maandagmiddag gesê.

Dit volg ná kritiek teen die besluit van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) om sy kontrak met Electronic Toll Collections (ETC), wat op 2 Desember tot ’n einde gekom het, met nóg ’n jaar te verleng.

Veral die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die DA het skerp teen dié besluit te velde getrek.

Die e-tol-stelsel is baie omstrede en het vroeër al tot groot spanning gelei – selfs tussen die nasionale en die Gautengse regering.

Die regering van premier David Makhura en die ANC in Gauteng wil hê die stelsel moet geskrap word, maar die nasionale regering het tot nou toe vasgeskop.

Daar was die laaste tien jaar ook al verskeie betogings en optogte teen e-tol, asook hofsake.

Paine het Maandag gesê totdat die kabinet ’n besluit neem, bly die e-tolstelsel in Gauteng ’n amptelike regeringsprogram.

Daar is steeds nie ’n oplossing oor Gauteng se e-tol-stelsel nie. Foto: Argief

Daarom kan Sanral nie sonder ’n diensverskaffer klaarkom om e-tol namens hom in te samel nie en is die kontrak verleng.

Dit is die tweede keer dat die kontrak met ETC verleng is.

Outa het vroeër in ’n verklaring gesê Sanral was nie by magte om dit te doen nie.

Daar is ’n regsgeding in die hooggeregshof in Pretoria aan die gang oor die tenderproses vir die kontrak. Die saak is in November aangehoor, maar uitspraak is voorbehou.

Die tenderproses het in Augustus 2019 begin, maar is gekanselleer. Die hofgeding gaan oor die tweede tenderproses wat in Julie vanjaar begin is.

Die maatskappy Kusa Kokutsha het die aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring waarin hy vra dat die tenderprosesse hersien moet word.

In die tweede ronde van die proses het Sanral tenders vir twee kontrakte uitgereik. Kusa Kokutsha, Phambili JV Gijima en South African E-Toll Operator (SAeTO) is op die kortlys geplaas vir die eerste en SAeTO en die Phambili-vennootskap vir die tweede ronde.

Dit het later aan die lig gekom Kusa Kokutsha is eintlik ETC wat net onder ’n nuwe naam aan die proses deelneem.

’n Woordvoerder van Sanral het Maandag by navraag gesê terwyl die hofproses voortduur, word daar van Sanral vereis om die ETC-kontrak vanaf 2 Desember te verleng.

“Dit sal die kontrak dan aan die einde bring van ’n maksimum tydperk van agt jaar waarvoor daar in die oorspronklike kontrak voorsiening gemaak is. Die kontrak het ook voorsiening daarvoor gemaak dat die kontrak vir ’n korter tydperk kan wees as ’n nuwe kontrakteur voor die einde van die maksimum tydperk aangestel word.”

Dit is nou al meer as ’n jaar sedert pres. Cyril Ramaphosa gesê het die kabinet sal ’n besluit oor die e-tol-stelsel neem, maar ons wag steeds op ’n besluit.

Fred Nel, DA-woordvoerder oor paaie en vervoer in Gauteng, sê in ’n verklaring die DA is bekommerd dat die kontrak met ETC weer hernu is.

Dit wys die regering het geen plan om die e-tol-stelsel binnekort te skrap nie.

Nel sê die regering maak leë beloftes wanneer hy sê die saak is in ’n kritieke stadium en daar word aandag daaraan gegee.

“Dit is nou al meer as ’n jaar sedert pres. Cyril Ramaphosa gesê het die kabinet sal ’n besluit oor die e-tol-stelsel neem, maar ons wag steeds op ’n besluit.”

Nel sê dit is onaanvaarbaar dat die regering voortgaan om mense oor die stelsel te mislei.

Hy sê die ANC het dié kwessie voor verlede jaar se algemene en provinsiale verkiesing as ’n verkiesingsfoefie gebruik, terwyl hy geweet het hy het geen voorneme om ’n werkbare oplossing vir die e-tol-stelsel te vind nie.

Die VF Plus wil ook hê e-tol moet onmiddellik afgeskaf word.

Hoewel Makhura al sedert 2014, toe hy premier geword het, teen e-tol was, was al vyf ministers van vervoer onder oudpres. Jacob Zuma ten gunste van die stelsel.

Makhura se kantoor het nog nie onmiddellik gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

Gautengse e-tol-stelsel kom ’n lang pad

• Gauteng se snelweë (’n totale afstand van 186 km) is in 2006 tot tolpaaie verklaar. Die stelsel het R21 miljard gekos om op te rig, nadat daar aanvanklik gesê is dit sal tussen R11,8 en R11,9 miljard kos.

• Die kontrak om die stelsel te bedryf, is in 2009 toegeken aan Electronic Toll Collection (ETC), ’n Oostenrykse maatskappy, en sy plaaslike vennote. Die kontrak om die stelsel vir vyf jaar te bestuur, het R6,2 miljard beloop.

• Openbare ongelukkigheid het in 2010 begin toe daar begin is met die oprigting van e-tol-installasies.

• Toe die kontrak met ETC in 2011 onderteken is, was die waarde R9,9 miljard, wat 60% hoër was as waarvoor hy aanvanklik getender het.

• In 2012 is die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) gestig deur ’n konsortium van ondernemings en burgerlike organisasie teen die stelsel van e-tol. Verskeie hofsake het gevolg.

• In September 2012 het Sanral aan die hof gesê hy is gereed om die stelsel binne twee weke operasioneel te hê, maar dit was 15 maande later steeds nie die geval nie.

• Op 3 Desember 2012 het die stelsel in werking getree.

Daar was dadelik groot teenkanting teen die betaal van e-tol.

• In November 2015 het Sanral 60%-afslag aangebied om mense sover te kry om hul agterstallige skuld te betaal. Hulle het net sowat R189 miljoen ingesamel, wat slegs 2% van die geld was wat aan hom verskuldig was.

• In 2016 het Sanral begin om dagvaardings te laat uitreik teen niebetalers. Outa het begin om namens dié mense op te tree.

• In 2019 het Sanral opgehou om mense te dagvaar.

• Dr. Blade Nzimande wat in Februarie 2018 in pres. Cyril Ramaphosa se eerste kabinet minister van vervoer was, was die eerste minister van vervoer wat aangedui het ’n alternatiewe oplossing moet gevind word. Fikile Mbalula, wat in Mei 2019 by Nzimande oorgeneem het, was ook van mening dat daar herbesin moet word.

• In November 2019 het Mbalula aangekondig ’n interministeriële komitee het ’n reeks voorstelle oor e-tol aan die kabinet gedoen. Daar is aan die komitee gesê nog werk is nodig en hy moet binne twee weke terugrapporteer, waarna die kabinet ’n besluit sou neem. – Bron: Outa

Meer oor:  Outa  |  Sanral  |  Fikile Mbalula  |  Kabinet  |  E-Tolstelsel  |  Kritiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.