Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eerste plase onteien

Die regering het plase eensydig begin onteien waar onderhandelings oor die koopprys vasgeval het.

Die wild-en-jagplaas Akkerland. Foto: Facebook

Twee wildplase in Limpopo is die eerste eiendomme wat summier onteien is sonder ’n hofproses, en die afgelope week is nóg twee finale bevele oor onteiening onderteken. Die eienaars van die twee wildplase is vroeër vanjaar al R20 miljoen aangebied terwyl hulle R200 miljoen wil hê en die geldigheid van die grondeis betwis.

“Kennis word hiermee gegee dat ’n terreininspeksie gehou sal word op 5 April 2018 om 10:00 op die plase vir ’n oudit van die bates, reëlings vir toesighouding en ’n oorhandiging van plaassleutels aan die staat,” lui die brief wat die eienaars vier maande gelede ontvang het.

Mashile Mokono, hoof van grondhervorming in die kantoor van die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het aan Rapport gesê Maite Nkoane-Mashabane, die minister, is vasbeslote om grondhervorming te bespoedig. Sy het net die afgelope week nóg twee finale bevele van onteiening ingevolge art. 42(e) van die Wet op die Herstel van Grondregte onderteken waar onderhandelings vasgeval het, sê Mokono.

‘Daar is nie ’n krisis op hande nie.’

Nkoane-Mashabane se hernude drif kom nadat die ANC se topstrukture drie weke gelede by sy lekgotla besluit het die regering moet so gou moontlik voortgaan om toetssake oor “onteiening sonder vergoeding” te dryf.

Mokono benadruk dat daar glad nie sprake daarvan is om eiendom sonder vergoeding te onteien nie, maar in die toetssake moet die howe duidelikheid gee oor wat “billike en regverdige” vergoeding is wat art. 25 van die Grondwet voorskryf.

Verskeie regskenners meen dit kan in uitsonderlike gevalle billik wees om geen vergoeding aan te bied nie en dat die Grondwet daarom nie gewysig hoef te word nie, maar howe het nog nie uitsluitsel hieroor gegee nie.

Akkerland Boerdery (Edms.) Bpk., eienaar van ’n luukse jagplaas waar ’n Livingstone- eland en -trofee vir sowat R120 000 stuk gejag kan word, het ’n dringende interdik in die grondeisehof bekom om sy afsetting van die twee plase te keer. Die interdik geld totdat die hof oor die regmatigheid van die ont­eiening kan beslis.

Die departement staan Akkerland se aansoek om die onteiening ongedaan te maak, teë.

Annelize Crosby, regsadviseur van Agri SA, het by navraag gesê hulle het met kommer kennis geneem van die Akkerland-saak. Sy sê hulle is net bewus van een saak waar ’n grondeistwis al op ’n onteiening uitgeloop het en dit was nadat die grondeisehof dit beveel het in 1997.

“Wat (die Akkerland-saak) uniek maak, is dat hulle blykbaar nie die geleentheid gegun is om die eis eers in ’n hof te betwis soos die wet vereis nie.”

Louis Meintjes, TLU-president

Louis Meintjes, president van TLU SA, sê dié organisasie is ook nie bewus van gevalle waar die regering deurgedruk het met onteienings-dreigemente nie.

Bertus van der Merwe, ’n prokureur van KwaZulu-Natal wat in grondhervormingsake spesialiseer, sê daar is ’n “besliste verskil in benadering van die departement”.

“Ek verteenwoordig baie boere – honderde of selfs duisende in verskillende dele van die land. Daar was nog nie direkte onteiening nie. Daar is maar ’n handvol wat baie naby aan die spits is waar ek vermoed hulle probeer om die geleentheid te skep, maar daar is beslis nie onteiening sonder vergoeding nie. Daar is nie ’n krisis op hande nie.”

Linda Page, woordvoerder van die departement van grondhervorming, sê art. 42(e) van die wet maak voorsiening daarvoor dat die minister mag ingryp om plase te koop, bekom of onteien vir grondhervorming. Sy sê 23 sulke sake is sedert 2007 afgehandel: een in KwaZulu-Natal, sewe in Limpopo, 14 in Mpumalanga en een in die Noord-Kaap.

Dis onduidelik in hoeveel van dié gevalle boere uiteindelik ingestem het om die vergoedingsbedrag te aanvaar.

Luidens hofstukke in die Akkerland-saak het die minister in Oktober verlede jaar ingevolge art. 42(e) ’n “kennisgewing van voorneme om te onteien” aan Akkerland gestuur. Die grondeienaars het voorleggings gemaak waarin hulle die geldigheid van die eis en die voorgestelde onteieningsbedrag betwis, maar Nkoane-Mashabane het op 28 Maart – net ’n maand nadat sy as minister in dié portefeulje aangestel is – die onteiening bekragtig.

Theon Smith, prokureur van Akkerland, het by navraag gesê hulle betwis wel die prys wat die regering vir die plase aangebied het, maar soveel te meer die geldigheid van die Musekwa-gemeenskap se eis vir die plase.

Smith sê die ontstellende deel van sy kliënte se saak is dat die minister wetgewing geïgnoreer het wat Akkerland eers ’n geleentheid moes gun om hul saak voor die hof te stel.

In hofstukke voer Akkerland aan die grondeisekommissie self het aanvanklik bevind die Musekwas se eis is net met betrekking tot een van die twee plase, Lukin 643 van 1 649 hektaar, bewys. Ná bykomende navorsing het die kommissie die eis ook toegestaan oor Akkerland se tweede plaas, Salaita 188, van 1 505 hektaar.

Hulle sê dié eis is nooit bewys nie.

Die onderhandelinge het luidens hofstukke in 2013 begin en Akkerland was volgens die departement gewillig om die plase te verkoop.
Hulle het egter ook ’n aanbod van R20 miljoen gehad van Coal of Africa, wat die plaas wou koop vir die omstrede Makhado-steenkoolmynprojek, maar dit was onderhewig aan goedkeuring van die grondeisekommissie omdat daar ’n hangende grondeis was.

Die regering het DDP Valuers, ’n bekende private waardasiegroep, gevra om die plase te waardeer. DDP se waardeerder, Tinus Nel, het die waarde van die grond en al die verbeteringe in 2015 op R20,75 miljoen gewaardeer.

Die waardeerder-generaal het dié waardasie bekragtig asof dit sy eie is en dit is die bedrag wat die regering as vergoeding aanbied.
Akkerland het herhaaldelik die regering se aanbod verwerp omdat hulle meen die eis is nie geldig nie en die vergoeding is nie billik nie.
Luidens Akkerland se hofstukke het hulle ’n onafhanklike waardasie in 2011 laat doen wat die waarde van die plase op R200 miljoen geskat het.

In ander korrespondensie wat by die hof ingedien is, sê Akkerland egter hulle het in 2011 ’n waardasie van R50 miljoen bekom en dit was boonop indien die plase ontwikkel word tot ’n ekolandgoed met 300 erwe.

Smith wou by navraag nie oor dié oënskynlike teenstrydigheid uitwei nie.

* In nóg ’n toetssaak waarby Van der Merwe en Agri SA betrokke is, daag eienaars spesifiek die waardeerder-generaal se bepaling van vergoedingsbedrae vir onteiening uit.

Rapport het verlede week berig onteiening staar meer as 30 grond­eienaars in KwaZulu-Natal in die gesig omdat hulle nie die waardeerder-generaal se waardasies wil aanvaar nie.

Hulle meen hul grond is gesamentlik R760 miljoen werd terwyl die regering R460 miljoen aanbied.

Dié boere sê die waardeerder-generaal gebruik ’n onregmatige formule om die waardes te bepaal. Volgens hulle lê die formule te min klem op die markwaarde van grond, verbeterings en die bestaande gebruik van die grond.

Die ander drie faktore wat die Wet op Eiendomswaardasie voorskryf, is hoe die eiendom bekom is, hoeveel staatshulp die grondeienaar oor die jare ontvang het en wat die doel van die onteiening is. Dié doel kan grondhervorming insluit.

Meer oor:  Annelize Crosby  |  Linda Page  |  Louis Meintjes  |  Onteiening  |  Akkerland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.