Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eet meer vis en boer daarmee, sê minister
Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye.

Die regering moedig mense aan om met vis te boer omdat Suid-Afrikaners, veral diegene in die binneland, meer van hierdie “proteïenryke voedselbron” moet eet.

Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, het Dinsdag op ’n perskonferensie oor sy departement se vordering met akwakultuur, onder die vaandel van Operasie Phakisa, by die OR Tambo-lughawe gesê 35 akwakultuurprojekte is sedert 2014 geïdentifiseer.

Die projekte is sowel aan die kus as in damme in die binneland.

Volgens Zokwana “besit” die regering meer as 300 damme in die land waarin met vis geboer kan word. Tans is die Nandonidam in Limpopo, Disaneng in Noordwes en die Vanderkloofdam in die Noord-Kaap vir loodsprojekte geïdentifiseer.

Nader aan die kus is nuwe akwakultuurprojekte by Saldanhabaai aan die Wes-Kaapse kus, Qolora in die Oos-Kaap en Koega by Port Elizabeth geïdentifiseer. By Algoabaai in die Oos-Kaap en Amatikulu in KwaZulu-Natal is die projekte reeds in ’n gevorderde stadium en word omgewingsimpakstudies tans gedoen.

Die akwakultuurprojek by Algoabaai word tans heftig teengestaan, veral omdat die beoogde visplaas intussen tot langs die Addo- mariene bewaringsgebied “geskuif is”.

Volgens Asanda Njobeni, direkteur van volhoubare akwakultuurbestuur by die departement, is sommige aktiviste teen die projek gekant omdat dit so naby aan ’n mariene bewaringsgebied (MBG) is. Vyf verskillende liggings is aanvanklik geïdentifiseer, maar omdat die see in daardie gebied so rof is, moes dit nader aan die kus geskuif word.

“Die departement van omgewingsake het egter bevestig solank daar ’n buffer tussen die visplaas en die MBG is, is dit lewensvatbaar,” het hy gesê.

Katvis, kurpers en varswatergarnale is van dié wat reeds geïdentifiseer is en sal in die damme gekweek word.

Met verwysing na die omstrede projekte by die Langebaan-strandmeer het Njobeni gesê dit is nog op koers, maar weens “mense wat verwarring veroorsaak oor die sogenaamde negatiewe impak daarvan” is dit nou vertraag. “Wat die departement betref, gaan dié projek egter voort.”

Siphokazi Ndudane, adjunk-direkteur-generaal van visbestuur by die departement, het gesê die departement moedig mense aan om met inheemse vis te boer sodat die integriteit van die ekologie behoue kan bly. Studies is tans aan die gang om te bepaal watter soort vis in die land se geïdentifiseerde damme sal aard.

Babers, kurpers en varswatergarnale is van dié wat reeds geïdentifiseer is en sal in die damme gekweek word, terwyl mossels, oesters en seekat op die visplase aan die kus geweek sal word.

Ndudane het gesê by Saldanha sal mense met forel by 'n visplaas kan boer, "omdat dit in die koue water van die Atlantiese Oseaan floreer".

Forel is egter 'n indringer-varswatervis. 

Volgens hom sal “baie streng regulasies” geld wanneer mense met visplase aan die kus, sowel as in die binneland, wil begin.

Volgens Zokwana het die 35 akwakultuurprojekte die potensiaal om jaarliks tussen 5 000 en 25 000 ton vis te lewer. Dit gaan ’n bykomende 3 000 werkgeleenthede in dié bedryf skep en meer as R1 miljard per jaar tot die land se bruto binnelandse produk bydra.

Die departement sal visboere bystaan met die verskaffing van vingerlinge, viskos en opleiding.

Die Wetsontwerp op Akwakultuur gaan tans deur alle parlementêre prosesse. ’n Openbaredeelnameproses oor dié wetsontwerp is verlede jaar gevolg, waarna dit op 15 Junie aan die parlement voorgelê is.

Die departement is tans ook besig om ’n nasionale varswaterbeleid te ontwikkel vir vis wat in die natuur gevang word met die oog daarop om op visplase daarmee te teel. Die departement begin in Julie met ’n openbaredeelnameproses vir die beleid.

Zokwana het gesê sy departement en ander relevante departemente het ’n interdepartementele komitee saamgestel wat goedkeuring vir aansoeke vir akwakultuurprojekte van die oorspronklike twee jaar na agt maande tot een jaar sal verkort.

’n Fonds vir opkomende boere, die Akwakultuurontwikkelingsfonds, is ook gestig.

’n Fonds vir opkomende boere, die Akwakultuurontwikkelingsfonds, is ook gestig.

236 potensiële visboere is die afgelope jaar deur die Akwakultuur-instituut by die Universiteit van Stirling in Skotland opgelei.

Zokwana het daarop gewys dat Suid-Afrikaners se visinname sowat 8 kg per persoon per jaar is, terwyl die wêreldgemiddeld 19 kg per persoon per jaar is.

“Ons wil mense aanmoedig om meer vis te eet, daarom gaan ons binnekort met ’n aggressiewe bemarkings- en bewusmakingsveldtog begin om dié proteïenryke bron van voedsel te bemark.”

*Oor kritiek dat sy departement nie die vermoë het om wetgewing in die see toe te pas nie, het Zokwana gesê die departement is besig om sy vloot skepe te herstel en het onlangs kwotas aan plaaslike gemeenskappe gegee om perlemoen te oes.

Volgens hom het sy departement, juis weens grootskeepse perlemoenstropery, onder hewige kritiek deurgeloop oor dié besluit, maar hy glo deur plaaslike gemeenskappe by visbronne te betrek, sal stropery hokgeslaan word.

Hy het ook verwys na Chinese vissersbote wat gedurig in Suid-Afrika se viswaters opgemerk word en gesê sy departement het met China in gesprek getree daaroor.

“Die Chinese het aan ons ’n onderneming gegee dat hulle ons sal waarsku as hulle deur ons gebiedswaters beweeg,” het Zokwana gesê.

Die Chinese teiken glo veral tuna in Suid-Afrikaanse gebiedswaters.

Meer oor:  Senzeni Zokwana  |  Sa  |  Vis  |  Bosbou En Visserye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.