Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF 1ste om FW se apartheid-verskoning te verwerp

Oudpres. FW de Klerk het Maandagmiddag omgeswaai en onvoorwaardelik verskoning gevra vir die “verwarring, woede en pyn” oor sy uitlating dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie.

Die EFF was Maandagaand die eerste politieke party wat De Klerk se onvoorwaardelike verskoning verwerp het.

Die party sê De Klerk se verskoning “ontbreek aan opregtheid en relevansie” en hy het nie berou oor sy uitlatings nie.

Die EFF wil onder meer hê De Klerk se voorregte as oudpresident moet teruggetrek word en so ook die Nobelprys vir vrede, wat in 1993 aan hom toegeken is.

Kragtens die reëls van die Nobel-stigting kan ’n Nobelprys nie herroep word nie.

Die EFF het Donderdagaand met die staatsrede in die parlement ’n striemende aanval op die oudpresident gedoen en gesê hy het “bloed aan sy hande” weens apartheid.

Oudpres. FW de KlerkFoto: Argief

Die aanval het gevolg nadat De Klerk op 2 Februarie in ’n onderhoud met die SAUK, ter herdenking van sy besluit 30 jaar gelede om die ANC te ontban, gevra is of hy saamstem met die Verenigde Nasies se verklaring in 1973 dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Hy het toe gesê hy stem nie heeltemal daarmee saam nie.

Die FW de Klerk-stigting het Vrydag in ’n verklaring verder olie op die vuur gegooi en die vraag gevra of apartheid werklik ’n misdaad teen die mensdom was.

Dit het die naweek tot ’n stortvloed van kritiek gelei. Onder dié wat hom skerp gekritiseer het, is die ANC, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, die SAKP, die voormalige DA-leier Tony Leon en Bantu Holomisa, leier van die UDM.

Die ANC het selfs ’n beroep op die parlement gedoen om De Klerk nie meer na die opening van die parlement en die staatsrede te nooi nie.

Laat Maandagmiddag het die South African National Civic Organisation (Sanco) se Noordwes-tak dieselfde gevra en geëis en in ’n staat van beskuldiging geplaas word oor sy uitlatings.

Die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom sê al het De Klerk onvoorwaardelik verskoning gevra vir sy uitlatings, is die FW de Klerk-stigting in ’n legitimiteitskrisis gedompel.

Venter meen De Klerk het van die begin af die situasie verkeerd hanteer. “Dit was die juris in FW de Klerk wat gepraat het, terwyl hierdie ’n morele kwessie is. Hy het sy fout agtergekom en om verskoning gevra.

“Die gevolg is dat die FW de Klerk-stigting nou ’n legitimiteitskrisis het wat hy baie fyn sal moet bestuur en hard aan sal moet werk.

“Ongelukkig vir die stigting was dit die oudpresident self wat die krisis veroorsaak het,” sê Venter.

De Klerk se verklaring het gevolg ’n paar uur nadat News24 berig het Sello Hatang, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-stigting, wou met dr. Dayne Morkel, sy eweknie by die FW de Klerk-stigting, praat oor die stigting se uitlatings.

De Klerk het in sy verklaring gesê hy stem saam met die Desmond en Leah Tutu-gedenkstigting dit is nie nou die tyd om hare te kloof oor die graad van die aanvaarbaarheid van apartheid nie. “Dit is totaal onaanvaarbaar.”

De Klerk sê onder sy leierskap is die apartheidstelsel afgebreek en dit het die weg gebaan vir die aanvaarding van die land se huidige nierassige, demokratiese Grondwet.

“Nietemin het die internasionale misdaad van apartheid nie verdwyn met die ondergang van apartheid nie.

“In 1998 is dit ingesluit in die Statuut van Rome waarmee die Internasionale Strafhof tot stand gekom het. Die statuut verklaar dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is.

“Die FW de Klerk-stigting ondersteun dié bepaling,” sê De Klerk.

Regter Navi Pillay, ’n Suid-Afrikaner wat vroeër die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir menseregte was, het aan die radiostasie 702 gesê omdat die Internasionale Strafhof eers in 1998 tot stand gekom het, kan dié hof nie apartheidsake ondersoek nie, want hy het nie terugwerkende magte nie.

De Klerk sê hy stem ook saam met oudpres. Nelson Mandela se uitlating op die dag van sy inhuldiging (11 Mei 1994) dat dit “nooit, nooit weer” in dié land sal gebeur dat een groep deur ’n ander oorheers word nie.

De Klerk sê sy stigting bly verbind tot nasionale versoening en die stigting se waardes – menswaardigheid, gelykheid, die bevordering van menseregte en vryheid, nierassigheid en nieseksisme, die oppergesag van die Grondwet en die reg en ’n veelpartyregeringstelsel.

Diegene wat die meeste onder apartheid gely het, is dié wat vandag steeds die swaarste kry.

Die Desmond en Leah Tutu-gedenkstigting het Sondag in ’n verklaring gesê Suid-Afrika moenie dit wat die land sedert die einde van apartheid bereik het ongedaan maak nie.

“Die land is by ’n ekonomiese afgrond. Die land is beleër deur radikale armoede en ongelykheid.

“Diegene wat die meeste onder apartheid gely het, is dié wat vandag steeds die swaarste kry.

“Daar word van leiers en voormalige leiers in veral die wit gemeenskap gevra om die moed, grootmoedigheid en deernis te toon wat nodig is om by te dra tot die genesing van die samelewing. D

‘Daarom is apartheid ’n misdaad’ – VN-konvensie

Die Verenigde Nasies (VN) se apartheid-konvensie van Oktober 1973 verklaar apartheid tot ’n misdaad teen die mensdom.

Die konvensie verklaar ook die “onmenslike dade” weens die beleid en praktyke van apartheid en soortgelyke beleide en praktyke van rassesegregasie en diskriminasie is internasionale misdade.

Apartheid se doel was ingevolge die konvensie die oorheersing van een rassegroep of mense oor ander rassegroepe en mense en die sistemiese onderdrukking van dié mense.

Die misdade waarmee apartheid vereenselwig is, sluit in moord, marteling, onmenslike behandeling, die willekeurige inhegtenisneming van lede van ’n bepaalde rassegroep, die doelbewuste skep van lewensomstandighede wat gemik is op fisieke vernietiging en wetgewende maatreëls wat diskrimineer op politieke, maatskaplike, ekonomiese en kulturele gebied en die bevolking volgens rasse- skeidslyne verdeel deur die stigting van afsonderlike woongebiede vir verskillende rassegroepe, die verbod op huwelike oor rassegrense heen en die vervolging van mense wat gekant is teen apartheid.

Die VN het in 1980 besluit om ’n spesiale strafreghof op te rig om mense te vervolg weens die misdaad van apartheid, maar dit is nooit gedoen nie.

it is ook belangrik dat voormalige Nobel-vredespryswenners bydra tot vrede en eenheid.”

Meer oor:  Apartheid-Verskoning  |  Verwerping  |  Fw  |  Eff  |  Misdaad  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.