Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF, ANC trek tou oor steun van 5% tot 10% van verlore kiesers

Die EFF kan heelwat steun by die ANC afrokkel in die komende verkiesing, het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) in ’n peiling bevind.

Die EFF is volgens dié peiling die rede vir die ANC se “algemene agteruitgang” wat steun betref. Die ANC se steun kan met 7,4 persentasiepunte daal van sy 62,1% in 2014 af, terwyl die EFF se steun met 5,7 persentasiepunte van 6,5% in 2014 tot 12,2% vanjaar kan styg.

“Die ANC en die EFF is in ’n stryd gewikkel oor tussen 5% tot 10% van die ANC se verlore swart kiesers,” het Garth van Onselen, hoof van die IRV se afdeling vir politiek en regering, Woensdag gesê toe die uitslag van die peiling bekend gemaak is.

VERKIESING 2019
Grafika24

Die DA se landwye steun kan van 22,2% vyf jaar gelede daal tot 21,8% vanjaar.

Die regerende partye in Gauteng en die Wes-Kaap kan moontlik albei op hul neus kyk.

In die Wes-Kaap hang die DA aan ’n draadjie met 50,1% van die steun teenoor 59,4% in 2014.

Die ANC kan sy steun in die Wes-Kaap verbeter van 32,9% tot 33,9%.

In Gauteng kan die ANC se steun tot onder 50% val, van 53,6% af tot 41,6%, terwyl die EFF se steun van 10,3% in 2014 tot 18,2% vanjaar kan toeneem. Die DA kan 32,4% van die steun kry teenoor 30,8% in 2014.

As die ANC se steun in Gauteng tot laer as 50% daal, sal ’n koalisie die provinsie moet regeer.

Veronica Mente, die EFF se woordvoerder oor die verkiesing, sê hulle sal eers ná die verkiesing oor moontlike koalisies in Gauteng praat.

“Die besluit oor moontlike koalisies sal deur die uitslag bepaal word. Die politieke landskap is onvoorspelbaar. Ons kan nie vandag besluit dat ons dieselfde sal doen as in 2016 nie.

Solly Malatsi, woordvoerder van die DA, sê die party neem kennis van die IRV se peiling oor sy steun in die Wes-Kaap, maar die party se eie peilings dui daarop dat sy steun min of meer dieselfde as in 2014 is.

“Ons erken ons het verlede jaar probleme gehad, maar nou het ons ’n nuwe burgemeester in Kaapstad en ’n nuwe kandidaat vir die premierskap van die Wes-Kaap."

Dakota Legoete, woordvoerder van die ANC, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Piet Croucamp, ’n politieke analis, sê ’n koalisie tussen die ANC en die EFF in Gauteng sal ’n ramp vir Suid-Afrika wees.

“As ek Mmusi Maimane was, het ek na pres. Cyril Ramaphosa gegaan en gesê daar is geen ideologiese verskille tussen ons nie. Ek is bereid om die mag in Gauteng te deel.

“Die stabielste koalisie sal een tussen die ANC en DA wees,” sê Croucamp.

Meer oor:  Anc  |  Eff  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.