Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF-beleid om te beset sy ‘bybel’

Ondanks die feit dat die EFF al harde kontant moes uithaal omdat hy mense aanhits om grond onwettig te beset, gaan dié beleid nie verander nie.

Mandisa Mashego, EFF-voorsitter in Gauteng, praat by die sitting van die Menseregtekommissie. Langs haar is dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder. Foto: THEMBA MAKOFANE

“Dis soos die bybel van die EFF, selfs ons komende konferensie kan dit nie wysig nie,” het Mandisa Mashego, EFF-voorsitter in Gauteng, Donderdag by ’n sitting van die Menseregtekommissie (MRK) in Johannesburg gesê.

Die MRK ondersoek tans betogings in Alexandra, Johannesburg, waartydens inwoners onder meer kapsie gemaak het teen swak dienslewering, die invloei van buitelanders, ’n behuisingstekort en misdaad.

Die EFF is versoek om voor die kommissie te getuig nadat getuies beweer het die party hits mense steeds aan om grond in dié dig bewoonde gebied onwettig te beset.

Mashego het beskryf hoe beangs inwoners was nadat hul huise twee weke gelede gesloop is deur die Rooimiere, ’n private veiligheidsmaatskappy wat onwettige strukture afbreek.

163 gesinne is geraak. Tussen 30 en 40 strukture was nog in aanbou toe dit platgestoot is, het Mashego gesê.

MRK kyk na party se aanhitsing.

Op ’n vraag van Princess Ka-Siboto, ’n kommissielid, of die EFF bereid is om sy beleid van grondbesettings te hersien in die lig van die pyn en leed waardeur armes gaan as hulle van grond afgesit word, het sy gesê dit is deel van die stigtingsmanifes van die party.

Hoewel die EFF wel later vanjaar sy nasionale konferensie hou, sal dié beleid nie sommer verander nie.

Die EFF voel egter die gevolge van dié strategie aan sy sak. Die party het Vrydag ’n uitstaande kostebevel van sowat R109 000 aan AfriForum betaal. Dit was die derde kostebevel (altesaam R344 000) aan AfriForum wat die EFF moes opdok en wat spruit uit ’n regstryd wat in Maart 2017 begin het.

AfriForum het in dié tyd ’n interdik teen Julius Malema, EFF-leier, en die EFF bekom wat hulle verbied om mense aan te hits om grond onwettig te betree. Die hooggeregshof in Pretoria het in AfriForum se guns beslis en die interdik met koste toegestaan.

Mashego het gesê daar is reeds in die eerste jaar van samewerking met die DA in Johannesburg en Tshwane besluit om weg te doen met die Rooimiere. “Hule tree arbitrêr en ongrondwetlik op. Hulle teiken en destabiliseer swart gemeenskappe. Die Rooimiere het nog nooit ’n wit persoon se huis platgestoot nie.”

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gister gesê ’n onafhanklike ondersoek is aan die gang oor wie besluit het die huise moet gesloop word. Hy was in die buiteland.

“Ek kan bevestig die strukture is onwettig afgebreek. Daar sál gevolge wees vir diegene wat dit gemagtig het,” het hy vroeër die week gesê.

Sy belofte om die strukture op die oewer van die Jukskeirivier te herbou, het die inwoners egter omgekrap. Hulle dreig om die toegang tot die township weer soos in Maart te versper.

Dié keer word net gewag dat die skole eerskomende Vrydag sluit, het organiseerders Vrydag ná ’n gemeenskapsvergadering Donderdagaand gesê.

Die Alex Total Shutdown-beweging het juis ontstaan vanweë die voortdurende toevloei na dié oorvol gebied.

Kenneth Mgaga, een van die organiseerders van die eerste Alex Total Shutdown-beweging, het Vrydag gesê die inwoners is erg omgekrap.

“Mashaba maak die beloftes, want hy wil die wyk (109) wen in die komende tussenverkiesing.

“Hy dink die mense wat daar bly, gaan in dié wyk registreer. Hulle bly in elk geval onwettig daar.”

Die setel het vakant geword ná die bedanking van Werner Smit, DA-raadslid, wie se gesondheid begin ly het onder die komplekse probleme, het Smit in sy bedankingsbrief erken.

Mashaba het gister aan Rapport gesê in die proses van herbouing sal eers tydelike strukture opgerig word met die plan om mense later te hervestig.

Meer oor:  Mrk  |  Eff  |  Grondbesetting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.