Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF bring Brackenfell Vrydag ‘tot stilstand’

Die EFF gaan Brackenfell Vrydag tot stilstand bring en sal toesien dat “niks daar werk nie” het die party Dinsdag getwiet.

“Ons het mos gesê dat die terreuraanvalle in Brackenfell nie onbeantwoord gelaat gaan word nie. Hulle het ons te ver gedryf en hulle moet daarop voorbereid wees dat ons dit nie gaan duld nie.”

Die EFF in die Wes-Kaap het die polisie en die Kaapstad-metro die afgelope week ingelig dat sowat 100 van hul lede Vrydag aan ’n vreedsame protesbyeenkoms voor die Hoërskool Brackenfell gaan deelneem.

Wandile Kasibe, EFF-woordvoerder, sê die protesoptog is teen die “inherente rassisme” by die skool.

Die EFF beplan om Vrydag by die Hoërskool Brackenfell te betoog.

Hy sê die protesoptog sal om 10:00 begin, waarna die leierskap van die EFF in die Wes-Kaap ’n memorandum gaan voorlees oor hoekom hulle voor die skool betoog en wat hulle verwag die skool aan die beweringe van rassisme moet doen.

Op die vraag hoeveel EFF-lede hulle Vrydag verwag, het Kasibe gesê “genoeg”.

Hy sê hulle sal alle Covid-19-regulasies volg en dat die protes vreedsaam gaan wees, soos wat die Grondwet toelaat. “Maar as daar rassiste is wat ons wil aanval, moet hulle nie vir een oomblik dink dat ons nie onsself gaan beskerm nie.”

Hy sê ook hulle gaan nie na Brackenfell om die skool of die matriekeksamen te ontwrig nie, maar dat mense nie langer oor rassisme mag stilbly nie.

Intussen het Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Dinsdag die beplande protesaksie van die EFF beskryf as ’n poging om die skool te intimideer.

Sy sê dit maak inbreuk op die regte van leerlinge, veral die matrikulante wat eksamen skryf.

“Ons leerlinge is hierdie jaar aan ongekende gebeure onderwerp en angs- en stresvlakke is hoog. Hierdie gedrag sal die druk verhoog.”

Sy sê hoewel die EFF die reg het om te betoog as hulle ’n geldige permit het, verwag sy dat hulle dit vreedsaam doen, dat hulle wegbly van die skoolgronde en dat hulle Covid-19-regulasies soos die handhawing van ’n veilige afstand en die dra van maskers nakom. “Doen hulle dit nie, verwag ek dat die polisie hulle onmiddellik in hegtenis sal neem.”

Schäfer sê haar departement is in kontak met die skool, die polisie en wetstoepassers om seker te maak dat orde gehandhaaf word. Daar sal ook private veiligheidsdienste wees.

Wes-Kaapse polisie hoop om Vrydag ’n situasie soos dié op 9 November te vermy toe inwoners en ouers van Brackenfell en lede van die EFF handgemeen geraak het. Foto: Jaco Marais

Volgens Schäfer is reëlings getref dat die matrikulante wat fisiese wetenskappe skryf, dit sonder enige onderbreking kan doen. Die matrikulante gaan glo by ’n ander lokaal as die skool skryf. Eksamen vir gr. 8 tot gr. 11-leerlinge is herskeduleer, maar die skool gaan normaalweg voort, sê Schäfer.

Sy het ’n beroep op inwoners van Brackenfell gedoen om nie Vrydag na die skool te gaan nie en om nie eie reg te gebruik nie.

“Dit is belangrik dat die wettige bekommernisse van mense by die skool, veral mense van kleur, aandag kry.” Volgens Schäfer het die skool hom daartoe verbind, lank voor die onlangse gebeure.

Sy vergader glo ook Donderdag met die EFF se provinsiale verteenwoordigers om hul bekommernisse aan te hoor en in ’n poging om ’n middeweg te vind oor hoe pad vorentoe.

Die bestuur van die Laerskool Brackenfell het Dinsdag in ’n omsendbrief aan ouers gesê die skool sluit Vrydag om 11:00, maar dat hulle dit sal begryp as ouers hul kinders Vrydag weens die “veiligheidsituasie” tuis hou.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê hul lede sal Vrydag in Brackenfell ontplooi word om wet en orde te handhaaf.

“Ons doen ’n beroep op diegene wat aan die optog deelneem om dit binne die raamwerk van die wet te doen. Mense wat nie deel is van die optog nie, word gevra om nie by die proses in te meng nie.”

Meer oor:  Hoërskool Brackenfell  |  Eff  |  Wandile Kasibe  |  Brackenfell  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.