Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF en DA bespreek magsdeling, sê Malema

Die EFF het bekend gemaak dat dié party en die DA in twee Gautengse metropolitaanse munisipaliteite oor magsdeling onderhandel.

Julius Malema, EFF-leier, sê dit kan daartoe lei dat ’n EFF-lid burgemeester word in die Tshwane-metro in Pretoria terwyl Herman Mashaba van die DA sy pos as burgemeester van Stad Johannesburg behou.

Die EFF het 10,79% van die nasionale stemme in die pasafgelope verkiesing op hom verenig teenoor die 6,35% steun wat die party in 2014 behaal het.

In Gauteng het die EFF se steun van 10,3% in 2014 tot 14,69% gestyg.

Julius Malema (middel), EFF-leier, praat Donderdag op ’n nuuskonferensie in Johannesburg. Van links is Dali Mpofu, voorsitter, Leigh-Ann Mathys, tesourier, Floyd Shivambu, onderleier, Malema, Godrich Gardee, sekretaris-generaal, Hlengiwe Mkhaliphi, Gardee se adjunk, en Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder. Foto: Bonolo Selebano

Malema het op ’n nuuskonferensie in Johannesburg gesê die EFF en DA voer nou gesprekke oor ’n magsdelingooreenkoms.

“Ons praat reeds met die DA; ons deel die mag in Johannesburg en Tshwane. Kom ons doen dit op ’n manier wat nie ontwrigtend is nie. Tot dusver praat ons en ons sien geen vyandigheid oor die moontlikheid van magsdeling nie,” sê hy.

“Indien hulle instem, sal ons ’n burgemeester in Tshwane hê met DA-lede op die burgemeesterskomitee. Hulle sal ’n burgemeester in Johannesburg hê en ons sal lede op die burgemeesterskomitee hê.

“Ek is onwillig om die burgemeester van Johannesburg te verwyder. Waarom? Die ANC haat Mashaba en ek is bly. Waarom iemand verwyder wat ’n groot probleem vir die ANC is? Ons steun Mashaba. Hy moet bly.”

Hy sê Stevens Mokgalapa, wat maar die afgelope paar maande burgemeester van die Tshwane-metro is, sal ’n slagoffer wees wat die DA moet hanteer.

“Ons ken nie eens die nuwe ou van die DA nie. Ek dink hyself het goed geweet dat hy net ’n opsigter is. Daar gaan verkiesings wees en elke verkiesing bring veranderings mee.”

Thomas Walters, adjunk-voorsitter van die DA se federale raad, sê in reaksie dit sal “voortydig” wees om in dié stadium kommentaar op moontlike magsdeling te lewer.

'n Bron in die Tshwane-metroraad wat anoniem wil bly, het Donderdagaand aan Netwerk24 gesê dat al word daar so ooreenkoms bereik, sal ‘n groot groep DA-raadslede in Tshwane nooit vir ‘n EFF-burgemeester stem nie, berig Sarel van der Walt.

*Malema het op dieselfde nuuskonferensie gesê wie ook al die speaker van die parlement gaan wees, moet hulle op 44 EFF-parlementslede in rooi uniforms voorberei. Die EFF het ná die verkiesing in 2014 25 LP’s gehad.

“Hulle sal meer uitsmyters moet huur,” het Malema spottend bygevoeg.

Oor pres. Cyril Ramaphosa se verwagte kabinet sê Malema daar moet weggedoen word met adjunk-ministers om koste te besnoei.

“Ons het nie adjunk-ministers nodig nie. Daar is nie eens ’n enkele een wat ons nodig het nie. Die president moet die land in sy vertroue neem en verduidelik hoekom ons adjunk-ministers nodig het. Daardie mense doen niks, hulle hou net toesig oor die administrasie.”

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Julius Malema  |  Eff  |  Magsdeling  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.