Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF ‘fascisties’, sê Zille oor Vodacom-aanval

Helen Zille, Wes-Kaapse premier, het die EFF van “fascistiese gedrag” beskuldig nadat ’n Vodacom-winkel die naweek bestorm en verniel is.

Zille het Woensdagoggend getwiet dat dit “eintlik nie toevallig is” dat die aanvalle op Vodacom se winkel met herdenkings van die Kristallnacht in Nazi-Duitsland saamval nie.

Helen Zille, Wes-Kaapse premier.Foto: Malherbe Nienaber

Sy het ’n verklaring getwiet wat die EFF en Vodacom Dinsdag uitgereik het en bygelas dat dit “duidelik ’n verklaring deur die EFF en nie ’n gesamentlike verklaring” is nie.

“Ek hoop Vodacom sal ’n reguit verklaring van sy eie uitreik en klagtes aanhangig maak teen die boewe wat sy winkel verniel en mense geïntimideer het,” sê Zille in haar twiet.

Kristallnacht verwys na die vervolging van die Jode in Duitsland toe die vensters van hul ondernemings op die nag van 9 en 10 November 1938 flenters geslaan is. Vermoedelik honderde mense het gesterf en sowat 1 400 sinagoges is verwoes. Verlede maand was die 80ste herdenking daarvan.

Zille het Woensdagmiddag, ná ’n mediavergadering van die provinsiale regering, bevestig dat sy by haar opmerking en vergelyking van die EFF met die Nazi’s in 1938 hou.

“Jy kan nie net gaan en ’n privaat eiendom vernietig omdat jy nie saamstem met iets wat iemand heeltemal anders gesê het nie. Waar kom sulke fascistiese gedrag vandaan? Dis fascisties!”

Vodacom en die EFF het Dinsdag in ’n verklaring bevestig dat die “misverstand” wat tot die skade aan ’n winkel in Polokwane gelei het, opgelos is, berig News24.

Ondersteuners van die EFF het Sondag die winkel in die Mall of the North bestorm.

Dit het glo gevolg nadat Mavuso Msimang, voorsitter van Corruption Watch, as gasspreker op die Vodacom Joernalis van die Jaar-geleentheid na die EFF as “mishandelaars van demokrasie” verwys het.

’n Foto van EFF-leiers, Julius Malema en Floyd Shivambu, is op die spoggeleentheid in Midrand vertoon.

In die verklaring van Dinsdag het Vodacom benadruk dat hy “polities neutraal” is.

“Vodacom en die EFF besef die kwessie kon beter gehanteer gewees het wat die misverstand sou voorkom het.

“Albei partye voel bemoedig deur die reg tot vryheid van spraak en die wisselwerking tussen standpunte.”

Meer oor:  Vodacom  |  Helen Zille  |  Mall Of The North  |  Politiek  |  Eff  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.