SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Politiek
EFF kla Pravin Gordhan by OB aan
Pravin GordhanFoto: Vida Booysen

Pravin Gordhan moet net soos Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, “op sy swaard val” as daar bevind word dat hy vir die parlement leuens vertel het oor sy ontmoeting met die Guptas, eis die EFF.

Die party het Donderdagmiddag aangekondig dat hy om dié rede die openbare beskermer (OB) amptelik versoek het om vas te stel of Gordhan, minister van openbare ondernemings, oneerlik daaroor was.

Dié dramatiese verwikkeling kom nadat Gordhan in ’n uitgelekte beëdigde verklaring aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping erken dat hy vroeg in sy eerste termyn as minister van finansies tussen 2009 en 2014 op versoek van oudpres. Jacob Zuma amptelik met die Guptas in Pretoria vergader het.

Hy was luidens die verklaring daarna ook by drie ander geleenthede waar die Guptas was, maar hy het nie op die geleenthede met hulle gepraat nie.

Gordhan voer in die verklaring van 68 bladsye, waarin hy Zuma as ’n sentrale figuur by verskeie beweringe van staatskaping betrek, aan hoe hy vergeet het van nog ’n voorval waar een van die Guptas teenwoordig was op ’n vergadering in 2010 met Anil Ambani, ’n miljardêr- Indiese sakeman. Hy onthou egter nie die besonderhede daarvan nie.

Dit is egter dié vergadering wat die EFF letterlik rooi laat sien omdat Gordhan volgens Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, in ’n antwoord op ’n parlementêre vraag van die EFF in 2016 oor of hy ooit die Guptas ontmoet het, “doelbewus” nie die vergadering met Ambani en Ajay Gupta – oor ’n moontlike belegging in MTN – in sy antwoord ingesluit het nie.

“Deur nie die vergaderings en skakeling te verklaar as hy as minister daaroor uitgevra word nie, is ’n ernstige skending van die etiese kode vir kabinetslede.” Die EFF meen Gordhan het daarom ook sy ampseed en die Grondwet geskend.

“Toe dit aan die lig gekom het dat Nene leuens vertel het oor sy Gupta-bande, het hy op sy swaard geval (en bedank),” het Ndlozi gesê.

Deur nie die vergaderings en skakeling te verklaar as hy as minister daaroor uitgevra word nie, is ’n ernstige skending van die etiese kode vir kabinetslede.

Die EFF beweer verder dat Gordhan kort ná Nene se verskyning voor die Zondo-kommissie versoek het dat sy getuienis uitgestel word en dat hy “dié tyd gebruik het om sy oorspronklike beëdigde verklaring (oor die Ambani-vergadering) te wysig”.

Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, het bevestig dat hulle die EFF se klag teen Gordhan ontvang het.

Intussen het Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, Donderdag in reaksie gesê die Zondo-kommissie is juis geskep om onder meer die omvang van ministers se verbintenisse met die Guptas bloot te lê.

“Om met iemand te vergader is nie ’n misdaad nie. Die uitdaging het egter gekom toe Nene nie eerlik daaroor was nie.”

Volgens haar sal pres. Cyril Ramaphosa die kommissie toelaat om sy werk te doen.

Gordhan is veronderstel om eers volgende week, 15 November, oor sy beëdigde verklaring (wat intussen uitgelek het) voor die kommissie te getuig.

Adrian Lackay, Gordhan se woordvoerder, het Donderdag in ’n kort verklaring gesê dit is “onverklaarbaar” hoe dit aan die media uitgelek is. “Ons is egter, gegewe die regulasies wat die kommissie reguleer, nie in ’n posisie om daarop kommentaar te lewer nie,” het hy gesê.

Ons is egter, gegewe die regulasies wat die kommissie reguleer, nie in ’n posisie om daarop kommentaar te lewer nie.

Eerw. Mbuyiselo Stemela, die kommissie se woordvoerder, het Donderdag gesê die kommissie is besig met ’n interne ondersoek om vas te stel hoe presies die beëdigde verklaring uitgelek het, en sal eers daarna kommentaar daaroor kan lewer.

Dr. Somadoda Fikeni, ’n politieke ontleder, sê gegewe die Guptas “se nabyheid aan Zuma, was dit byna onmoontlik vir kabinetsministers om nié met hulle te vergader nie”.

Volgens hom is die kwessie egter of sulke ministers op die vergaderings met die Guptas hul eie of die Guptas se belange bevorder het.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.