Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF-lid van Rustenburg gepos ná ‘magsmisbruik, omkopery’

Noordwes se provinsiale regering het ’n EFF-raadslid in Rustenburg die trekpas gegee omdat hy glo die voorgeskrewe gedragskode oortree het deur toe te laat dat ’n plaaslike sakeman hom omkoop.

Gordon Kegakilwe, LUR vir plaaslike regering in Noordwes, het in ’n onlangse brief aan die speaker van die plaaslike munisipaliteit geskryf dat hy die munisipaliteit se aanbeveling aanvaar dat Johannes Motswane van sy amp as raadslid onthef word.

“Ek is tevrede dat hy voldoende kans gehad het om sy kant van die saak te stel, en dat hy die gedragskode weens magsmisbruik en korrupsie verbreek het.”

Motswane hou egter vol dat hy onskuldig is en beweer dat hy nooit ’n behoorlike tugverhoor of die geleentheid gehad het om sy kant van die saak te stel nie. Hy meen hy is geteiken omdat hy korrupsie aan die kaak wou stel en win nou regsadvies in om sy skorsing te beveg.

De Wet Nel van die VF Plus, wat die fluitjie geblaas het oor die beweerde omkopery van raadslede in die Rustenburg-munisipaliteit.Foto: Stephen Roberts

Matshidiso Botswe, die EFF se voorsitter in Noordwes, staan bankvas agter Motswane en sê hulle het meer besonderhede van die LUR vir plaaslike regering oor die redes vir sy skorsing gevra.

Bevindings wat in Maart verlede jaar bekend geword het ná ’n onafhanklike ondersoek na die bewerings, skets ’n verdoemende prentjie. Die munisipaliteit het die ondersoek laat doen nadat De Wet Nel, VF Plus-raadslid, die fluitjie geblaas het oor die bewerings dat Motswane en Agnes Tsamai, ’n DA-raadslid, by die omkopery betrokke was. Nel het ook klagte van korrupsie hieroor by die Valke ingedien.

“Dit is ’n goeie bewys dat die VF Plus opstaan teen korrupsie, en ons sal voortgaan om daarteen te baklei,” het Nel Woensdag oor Motswane se skorsing gesê.

In die ondersoek was daar sterk prima facie-getuienis teen sowel Tsamai as Motswane dat hulle die munisipale gedragskode oortree het. Die twee het glo onbehoorlike druk op die munisipaliteit geplaas om Gustav Clappen, wat van die munisipaliteit se voertuie herstel het, te betaal. Hy skryf in ’n beëdigde verklaring, wat ’n bewysstuk in die ondersoek was, hy het munisipale amptenare by verskeie geleenthede omgekoop. Dít omdat hy glo gesukkel het dat die munisipaliteit hom vir sy dienste betaal.

Die regslui wat die onafhanklike ondersoek vir die munisipaliteit gedoen het, het ook na bandopnames geluister en onderhoude gevoer. Van die bewerings wat na vore gekom het, is dat Motswane tussen

R30 000 en R60 000 ontvang het omdat hy druk help plaas het dat Clappen betaal word. Clappen het glo ook gratis herstelwerk aan Motswane se rooi Hyundai, asook aan sy meisie se Mercedes-Benz gedoen.

Clappen het vroeër teenoor Netwerk24 erken hy wou betaal vir vakansies vir Tsamai en Motswane, maar dit het nooit gerealiseer nie.  

Clappen het toe gesê die munisipaliteit het hom in ’n stadium meer as R3 miljoen geskuld, maar ’n skikkingsooreenkoms is later bereik ingevolge waarvan die geld in twee paaiemente aan hom betaal is.

Motswane ontken egter dat hy ooit geld van Clappen ontvang het. Hoewel Tsamai aanvanklik beweer het dat sy onskuldig is en binne haar mandaat opgetree het, het sy uiteindelik toegegee dat sy ontoepaslik opgetree het.

Luidens ’n amptelike dokument van die DA het Tsamai in ’n tugverhoor oor die omkoopbewerings erken dat sy Rustenburg se munisipale bestuurder van Mei tot September 2017 herhaaldelik en op ’n onwettige wyse geteister en gedruk het om Clappen te betaal. Tsamai is gevolglik skuldig bevind daaraan dat sy die party se gedragskode oortree het.

Tsamai kon nie vandeesweek vir kommentaar bereik word nie. Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, het Woensdag gesê Tsamai is nie meer ’n lid van die DA of Rustenburg se raad nie nadat sy uit albei bedank het.

Meer oor:  Noordwes  |  Eff  |  Omkopery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.