Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF reg om hoogste hof te nader oor Gordhan en OB

Julius Malema, EFF-leier, sê sy party sal die konstitusionele hof nader as die hooggeregshof in Pretoria in Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se guns beslis in die saak teen adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB).

Malema het ondersteuners voor die hof toegespreek nadat die regter in die saak, Sulet Potterill, Dinsdag gesê het sy sal later uitspraak lewer.

Julius Malema, EFF-leier, Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Christiaan du Plessis

Mkhwebane het vroeër die maand die verslag bekend gemaak waarin sy bevind Gordhan, destyds die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het die parlement mislei en dat hy die Grondwet oortree het met die stigting van ’n geheime ondersoekeenheid in die SAID. Sy het aanbeveel pres. Cyril Ramaphosa moet binne 30 dae ’n plan aan haar voorlê oor hoe Gordhan gedissiplineer gaan word. Nadat die plan goedgekeur is, sal Ramaphosa dit ook binne die voorgeskrewe spertyd moet uitvoer.

Malema het Gordhan Dinsdag daarvan beskuldig dat hy by staatskaping baat gevind het, onder meer omdat hy as minister van finansies onder oudpres. Jacob Zuma aangestel is. Sy party is een van die respondente in die saak wat Mkhwebane steun.

“Ons is nie hier om Mkhwebane te beskerm nie, eerder die kantoor van die openbare beskermer. Ons is hier om haar teen haarself te beskerm,” sê Malema.

EFF-ondersteuners betoog Dinsdag buite die hof. Hulle ondersteun die OB se bevindinge rakende Pravin Gordhan. Foto: Christiaan du Plessis

Adrian Lackey, Gordhan se woordvoerder, sê hy wil nie op Malema se uitsprake kommentaar lewer nie.

“Ons lewer slegs kommentaar voor ’n regter van die hooggeregshof,” sê hy.

Gordhan se aansoek in die hooggeregshof is tweeledig. Enersyds wil sy regspan hê die hof moet Mkhwebane se verslag hersien om te bepaal of haar bevindinge bindend is. Andersyds het sy regspan die hof gevra om ’n tussentydse bevel uit te reik wat sal keer dat Mkhwebane se aanbevelings binne 30 dae toegepas word, hangende die hof se bevindinge.

Adv. Wim Trengrove, Pravin Gordhan se regsverteenwoordiger. Foto: Christiaan du Plessis

Gordhan se regsverteenwoordiger, adv. Wim Trengove SC, het aan die hof gesê dit is onredelik om te verwag dat daar voor 4 Augustus teen Gordhan opgetree moet word.

“Ons soek ’n bevel om die aanbevelinge, wat uit die bloute gekom het, van die hand te wys hangende die hof se finale besluit. Haar bevindinge is irrasioneel en foutief. Gordhan en ander in Mkhwebane se verslag is ook nooit die kans gegun om hul kant van die saak te stel nie en dit op sigself is ’n goeie rede om die bevel toe te staan,” sê Trengove.

“Hoewel teenstanders glo dit is nie die hof se plek om in te meng nie omdat dit die aansien van die OB kan skade berokken, is die mens wat die meeste skade aan die OB se kantoor aangerig het Mkhwebane self.”

Ramaphosa is ook ’n respondent in die saak. Adv. Matthew Chaskalson SC, sy regsverteenwoordiger, sê hy kan nie sien hoekom Mkhwebane se aanbevelings dringend toegepas moet word nie. Volgens hom is die president se magte om kabinetslede te “dissiplineer” beperk.

“Die enigste mag wat hy oor kabinetslede het, is om hulle af te dank. As Mkhwebane se aanbeveling deurgevoer word, kan onherroeplike skade aangerig word,” sê Chaskalson.

Potterill het in die lig van die naderende spertyd onderneem om so gou moontlik haar uitspraak te lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.