Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF se gedrag teenoor FW onnodig, sê Ace

Hoewel apartheid destyds as misdaad teen die mensdom verklaar is, was dit “onnodig” van die EFF om te eis dat oudpres. FW de Klerk die parlement tydens pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede moet verlaat, sê Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal.

Só sê Magashule Donderdagaand ná afloop van die erg ontwrigte staatsrede buite die Nasionale Vergadering.

Hy is gevra of hy die voorstel van die EFF dat daar gestem moes word of De Klerk moes aanbly of nie, sou gesteun het.

Die EFF het die aanvang van die staatsrede vir sowat ’n uur vertraag. Eers het hulle geëis dat De Klerk die verrigtinge moes verlaat en later dat Ramaphosa vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, moes afdank voordat hy met sy staatsrede kon begin. Albei eise is egter deur die voorsittende beamptes verwerp, voordat Julius Malema, EFF-leier, en die res van sy LP’s die raadsaal verlaat het.

Magashule het verder buite die parlement gesê dat Suid-Afrika as ’n land versoen het en dat “alle landsburgers, swart en wit, saamwerk om die nasie te bou”.

“Die EFF het sy eie standpunt hieroor en die ANC syne. Ons respekteer egter alle Suid-Afrikaners. Ons Grondwet verseker dat ons die samelewing moet harmoniseer," sê Magashule.

“Dit is wel so dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was soos die Verenigde Nasies destyds verklaar het, maar om vir De Klerk te sê dat hy die Nasionale Vergadering moet verlaat, was onnodig.”

Mzwanele Nyhontso, PAC-president, sê dat sy party, en nie die EFF nie, eerste die kwessie oor De Klerk se bywoning van staatsredes bevraagteken het.

“Verlede jaar het ek hom twee keer ’n moordenaar in die Nasionale Vergadering genoem. Hy hoort nie hier nie. Hy moet tronk toe gaan, veral omdat hy destyds vyf kinders in Mthatha laat doodmaak het en hulle Apla-kaders genoem het," sê Nyhontso.

“Vir die EFF om dit nou iets nuuts te noem, is skynheiligheid van die hoogste graad. Ons het dit verlede jaar al versoek, maar niemand het ons gesteun nie. Maar as ons vanaand moes gestem het oor De Klerk, sou ons gestem het dat hy verwyder moes word."

Mangosuthu Buthelezi, voormalige IVP-leier en -LP, het kort nadat die EFF-LP’s die gesamentlike sitting verlaat het, gesê het dat hy, soos baie ander, glo dat De Klerk ’n goeie ding gedoen het toe hy destyds vir Nelson Mandela vrygelaat en bannelinge na Suid-Afrika laat terugkeer het.

“Daarom steun ons nie hierdie gedrag om De Klerk so te mishandel ná wat hy gedoen het nie,” sê Buthelezi.

Meer oor:  Staatsrede2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.