Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF waarsku Gordhan, Ramaphosa ‘sal saam val’
Pravin GordhanFoto: DAILY SUN

Die EFF het pres. Cyril Ramaphosa gewaarsku dat as hy vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings verdedig, hulle twee “saam sal val”.

Dié uitspraak in ’n verklaring Saterdag kom nadat Julius Malema, EFF-leier, verlede week gedreig het om Ramaphosa se staatsrede op 13 Februarie in die Nasionale Vergadering te ontwrig as hy nie vir Gordhan in die pad steek nie.

Ook Cosatu en die metaalwerkersvakbond Numsa het vroeër Gordhan se kop geëis weens die Eskom-krisis.

Die EFF se uitspraak die naweek volg nadat 20 swaargewig ANC-veterane verlede week in ’n verklaring vir Gordhan in die bres getree en gesê het Ramaphosa is die ware teiken agter die aanvalle.

Om vir Gordhan te blameer en te beledig vir die toedrag van sake by Eskom is volgens hulle oneerlik en vals aangesien die mislukkings by die kragverskaffer oor dekades vererger is deur “misdadige staatskaping” en aangemoedig is deur ’n reeks ministers in Jacob Zuma se rampspoedige administrasie sowel as ’n “groep diewe” wat aangestel is op agtereenvolgende Eskom-direksies.

julius malema
Julius Malema. Foto: Felix Dlangamandla

Hulle glo dit is Ramaphosa wat eintlik in die visier is. ’n “Samevloeiing of eenheid” van individue en organisasies is volgens die groep onderweg en dit is “duidelik daarop gemik om te lei tot die verwydering van ’n president” wat verbind is tot die rehabilitasie van die land se instellings en om korrupsie te elimineer.

Die EFF het egter dié “vrotsige” verdediging van Gordhan deur “sogenaamde” struggleveterane in hul verklaring verwerp en hulle daarvan beskuldig dat hulle Gordhan verdedig selfs te midde van sy “skouspelagtige onbevoegdheid” in die oorsig en leiding van staatsentiteite. Voorbeelde hiervan sluit volgens die EFF in Eskom se reuseskuldlas van meer as R400 miljard en probleme by die SAL, Transnet, SA Express, Alexkor, Safcol en Denel.

“Ons eis dat Pravin Gordhan moet val bly ferm,” lui die verklaring, en die party waarsku “mnr. Cyril Ramaphosa dat as hy Gordhan verdedig, hulle saam sal val”.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais

“Die EFF maak nie dreigemente wanneer dit kom by die verdediging van staatsentiteite en instellings nie, maar verbintenisse.”

Volgens die party sal hy nie stilbly en toeskouers wees wanneer die land afgebreek word nie.

“Ons maak die meeste geraas omdat ons die rol van staatsentiteite verstaan en verstaan watter rol hulle behoort te speel in die groei van die ekonomie van enige land.

“Ons herhaal ons beroep dat mnr. Gordhan onmiddellik verwyder moet word van hierdie baie belangrike bate van die nasie,” lui die verklaring.

Meer oor:  Julius Malema  |  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.