Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF wil góú grond in Vrystaat gryp

Die EFF gaan sy program van grondonteiening sonder vergoeding verskerp en wil nou plase in die Vrystaat begin vat om vir sy raadslede te gee.

Dié party glo dit is hoog tyd dat elkeen van sy 70 EFF-raadslede in die provinsie ’n plaas kry en asook elke gemarginaliseerde lid, sê Mandisa Makesini, Vrystaatse leier van die EFF.

Mandisa Makesini, Vrystaatse EFF-leier, wat sê die EFF wil plase vat sonder vergoeding en gaan sy programme verskerp ná Donderdag se staatsrede. Foto: EFF

Die wiele is glo aan die rol gesit en die Vrystaatse EFF hou Saterdag ’n groot beraad waar onder meer die grondkwessie en die onteiening van grond in die Vrystaat bespreek sal word.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-universiteit in Potchefstroom, sê “die plan van die EFF kan lei tot grootskaalse onstabiliteit in die land en die boere sal begin skiet. Hulle sal nie net hul plase laat vat nie.”

Hy sê die EFF wil ’n radikaler rigting inslaan ná die staatsrede Donderdag.

“Die groot risiko is nie die verandering van wetgewing nie, maar die feit dat mense eie reg wil gebruik wat hul eie begrip of vertolking van die wysiging van art. 25 van die Grondwet betref.”

Prof. André Duvenhage. Foto: Argief

Duvenhage sê hy verwag dat die staatskapers in die ANC, die EFF, Black First Land First en die nuwe groep RET (Radical Economic Transformation) wat die naweek by Klipfontein gestig is om oudpres. Jacob Zuma te beskerm, sal wil voorloop met die vat van plase sonder vergoeding.

Dit is ’n Robert Mugabe-strategie om die grondkaart vir populisme te speel. Dis ’n Zim-kaart om staatskapers te beskerm,” sê hy.

Duvenhage sê toe Mugabe in 1999 die referendum verloor het, het hy die grondkwessie die sentrale politieke kwessie gemaak. Só het hy steun gemobiliseer om aan die bewind te bly.

“Suid-Afrika wil nou ’n parallelle populistiese grondvat-program kry om staatskapers te beskerm. Die staatskapers soos Zuma, Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat en nou sekretaris-generaal van die ANC, en Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, is dominant in die ANC en die grondkwessie word hul redding.

Die feit dat die EFF sy programme vir grondgrype sonder vergoeding wil intensifiseer, maak ’n mens bekommerd, omdat die boere nie sal terugsit en toekyk nie.

Makesini sê in die Vrystaat wil die EFF besette grond en onbesette grond in al die munisipale gebiede in die Vrystaat vat.

“Dit is wat ons wil doen. As plase onbenut staan en nie gebruik word nie, sal ons daarop beslag lê. Is dit reg dat een plaaseienaar vyf plase besit, wyl ons mense niks het nie? Ons mense moet grond kry wat hulle kan bewerk en kos daarop kan produseer.”

Makesini sê hulle sal Saterdag op ’n strategiese sessie van die EFF in die Vrystaat daaroor praat en Maandag ’n nuuskonferensie hou.

“Ons sal ons planne en program in die volgende week bekend maak.”

Sy sê die EFF wil soveel as moontlik plase vat.

* Sy sê dit is ook waar dat die EFF vir al sy lede landwyd sê om bakkies te koop.

“Ons wil self by munisipaliteite begin inklim en skoonmaak. Dit is ons mandaat. Die Mangaung-metro is veral verskriklik vuil.”

Makesini kla ook oor die begraafplase van Vrystaatse dorpe wat vuil en met onkruid begroei is.

* Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaat, sê die EFF se kommentaar is uiters populisties, baie gevaarlik en onwettig.

“Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het reeds aangedui dat hulle nié onwettige grondvergrype in die Vrystaat gaan toelaat nie. Ons verwag dat sy ter wille van vrede in die platteland sal seker maak dat wetstoepassingsagentskappe dié besluit in werking sal stel.”

Hy sê die EFF moet ook in ag neem terwyl sekere munisipaliteite traag is om op te tree, is die landbou-gemeenskap goed georganiseerd. Hulle sal grondvergrype hanteer soos plaasaanvalle en daarvolgens reageer.

Dr. Roy Jankielsohn. Foto: Netwerk24
Meer oor:  Mandisa Makesini  |  Roy Jankielsohn  |  André Duvenhage  |  Vrystaat  |  Grond  |  Grondonteiening  |  Plase  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.