Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Einde van Ace se politieke loopbaan, of nie!

Ace Magashule se tydelike skorsing hangende die uitslag van sy korrupsieverhoor is werklik die einde van sy onmiddellike politieke loopbaan.

Dít was Woensdag die reaksie van ’n regskenner nadat pres. Cyril Ramaphosa en die ANC die party se omstrede sekretaris-generaal, wat tot die bitter einde geweier het om sy amp vrywillig te ontruim, tydelik geskors het.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Woensdagaand bevestig die party is besig om alle ANC-lede wat weier om opsy te staan, skriftelik oor hul onmiddellike tydelike skorsing in te lig.

Magashule se skorsing is reeds sedert die afgelope Maandag van krag.

Al wat Magashule Woensdag in reaksie op navrae om kommentaar oor sy tydelike skorsing aan Marietjie Gericke wou sê, was dat hy nie met die media gaan praat nie, “want die media skryf net leuens”.

Hy staan tereg op aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog weens die sogenaamde asbesdak-tenderskandaal van R255 miljoen in sy termyn as Vrystaatse premier.

Politieke kenners meen hoewel Magashule se skorsing ’n “belangrike oorwinning” vir die Ramaphosa-faksie in die ANC is, is dit ’n riskante “dobbelskuif” vir die party aan die vooraand van die munisipale verkiesing op 27 Oktober vanjaar.

Luidens die brief aan Magashule, wat deur Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, onderteken is en Woensdag uitgelek is, sal Magashule vir die duur van sy skorsing steeds sy salaris en ander ampsvoordele ontvang.

Die brief, gedateer 3 Mei, lui onder meer dat die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) Maandag op sy vergadering opdrag gegee het dat briewe aan alle geraakte lede, “waarby jy ingesluit is”, geskryf word om hulle in te lig dat hul tydelike skorsing in die beste belang van die ANC is.

Die brief lui verder dat Magashule tydens sy tydelike skorsing geen pligte of verantwoordelikhede as sekretaris-generaal van die ANC mag uitvoer nie.

Hy mag ook nie die ANC in die openbaar of op enige platform verteenwoordig nie of hom oor enige ANC-kwessies uitlaat nie.

“(Magashule) mag ook nie deelneem aan die mobilisering van ANC-strukture, enige ander organisasie of individue nie, insluitende dié oor jou opsystaan- en verwante kwessies nie,” lui die brief.

Hy moet ook die ANC maandeliks op die hoogte hou van die vordering in sy hofsaak.

Ramaphosa en die ANC moet alle dwingende getuienis tot hul beskikking oor Ace se korrupte handelinge aan die wetstoepassingsagentskappe oorhandig en verseker dat hy agter tralies beland. Die inwoners van die Vrystaat verdien geregtigheid.
John Steenhuisen, DA-leier

Die ANC sal ook sy tydelike skorsing elke ses maande, of van tyd tot tyd op sy versoek, hersien.

Magashule se skorsing kom nadat die ANC se nasionale werkkomitee Dinsdag bekend gemaak het dat hy op sy vergadering Maandag die opsystaan-besluit van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) van einde Maart vanjaar herbevestig het.

Ingevolge die besluit moet alle ANC-lede wat weens korrupsie of ander ernstige misdaad in ’n hof teregstaan, binne 30 dae hul poste ontruim. Indien nie, sal hulle tydelik geskors word totdat die hofsaak teen hulle afgehandel is.

Mabe het Woensdag, nadat die Magashule-skorsingsbrief uitgelek is, in ’n verklaring bevestig dat die ANC begin het om bepaalde individue skriftelik van hul skorsings in kennis te stel.

Die NWK sal die NUK op sy vergadering die komende naweek daaroor inlig.

John Steenhuisen, DA-leier, het Woensdag in reaksie op Magashule se skorsing getwiet dat sy skorsing nie genoeg is nie.

“Ramaphosa en die ANC moet alle dwingende getuienis tot hul beskikking oor Ace se korrupte handelinge aan die wetstoepassingsagentskappe oorhandig en verseker dat hy agter tralies beland. Die inwoners van die Vrystaat verdien geregtigheid.”

Intussen vermoed dr. Llewelyn Curlewis, regskenner aan die Universiteit van Pretoria, dat Magashule die ANC se besluit om hom te skors, deur ’n hof sal laat hersien.

“Dit sal basies die einde van sy onmiddellike politieke loopbaan beteken as hy die skorsing net gelate aanvaar. Dit is veral so omdat dié soort hofsake jare lank kan sloer.”

Prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, meen hoewel Magashule se skorsing “simbolies” ’n belangrike oorwinning vir die Ramaphosa-faksie is, gaan dit ’n “geweldige skok” vir die Magashule-faksie wees.

Bekende Magashule-ondersteuners was Woensdag ook tjoepstil op sosialemediaplatforms, waar hulle gewoonlik erg uitgesproke oor ANC-kwessies is.

Duvenhage meen die waarskynlikheid vir Magashule en sy lojaliste om hul eie party te stig, word nou al hoe sterker.

Dit sal basies die einde van sy onmiddellike politieke loopbaan beteken as hy die skorsing net gelate aanvaar. Dit is veral so omdat dié soort hofsake jare lank kan sloer.
dr. Llewelyn Curlewis

Die Magashule-kamp sal egter polities voortveg en sterker mobiliseer en organiseer in die lig van die ANC se komende provinsiale verkiesingskonferensies, die nasionale hoofraadsvergadering en volgende jaar se nasionale verkiesingskonferensie.

Duvenhage meen Magashule se skorsing sal simbolies ook ’n groot verlies wees vir oudpres. Jacob Zuma, wat Magashule as ’n belangrike politieke bondgenoot vir hom in die ANC beskou.

Prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê Magashule se skorsing is ’n “dobbelskuif” vir die ANC kort voor die munisipale verkiesing.

“Die tydsberekening is ongemaklik. Hoewel die publiek dit kan beskou as dat die ANC ernstig is om korrupsie in sy geledere te beveg, beskou Magashule-ondersteuners dit as vervolging van hom en sy volgelinge in die party. In die aanloop tot die verkiesing is dit ’n resep vir ’n ramp.”

Intussen het die FW de Klerk-stigting Magashule se skorsing Woensdag beskryf as die konsolidering van Ramaphosa se mag in die party, sowel as ’n “belangrike en langverwagte stap om korrupsie te takel en om sterk teen vooraanstaande ANC-amptenare op te tree wat van ernstige misdaad beskuldig word”.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Opsystaan  |  Anc  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.