Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Einde van Gariepfees – dis te wit en Afrikaans

Ná 18 jaar het die gordyn finaal vir die Gariep-kunstefees gesak.

Bernice Versluis, uitvoerende bestuurder van dié Afrikaanse kunstefees, het Maandag aangekondig dat die direksie besluit het om nie meer voort te gaan met dié jaarlikse skouspel van die kunste in Kimberley nie.

Dit is glo omdat die finansiële, ekonomiese en politiese omgewing eenvoudig nie meer bevorderlik vir so ’n fees is nie.

“Hoewel die fees in die vroeë 2000’s erkenning gekry het as instansie van die jaar en met toerismepryse beloon is, het die omgewing so verander dat dit nou haas onuithoudbaar is om in dié omstandighede voort te gaan,” lui ’n verklaring wat vandeesweek deur die Gariep Kunstefees uitgereik is.

Die aankondiging dat die fees nou halt roep, volg kort op die hakke van ’n ontstuimige raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit in 2017 waartydens die ANC en EFF gevra het dat befondsing aan die fees gestaak word.

Tydens die vergadering het Francis Thulo, EFF-raadslid, die Gariep-kunstefees as ’n “wit fees” bestempel en hulle daarvan beskuldig dat hulle nie deursigtig genoeg is nie.

Ronney Morwe, ’n ANC-raadslid en lid van die burgemeesterskomitee, het op dieselfde raadsvergadering gedreig dat die raad se geldelike steun aan die Gariep-kunstefees gestaak gaan word en dat daar voortaan op die Diamonds en Dorings-musiekfees, ’n ander fees in die gebied, gekonsentreer sal word.

Die Gariep-kunstefees is 'n “wit fees” nie deursigtig genoeg is nie.
Francis Thulo, EFF-raadslid

Selfs die burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, Mangaliso Matika, het tydens die vergadering na die fees as ’n “Volkstaat” verwys.

Die fees het in 2017 ’n bedrag van R1,6 miljoen van die Sol Plaatje-munisipaliteit ontvang op die voorwaarde dat daar vir die munisipaliteit gewys moet word hoe daar ekonomies uit die fees gebaat word, hoe die fees ekonomiese transformasie bevorder, hoe die fees die stad en sy inwoners tot voordeel strek en by watter korporatiewe maatskaplike ontwikkelingsprojekte die fees betrokke is.

Die Gariep-kunstefees het in ’n volledige verslag ná die fees ingedien oor die omvang en invloed van die fees.

“Hoewel die feeskomitee nie bereid is om verder beledig en valslik beskuldig te word nie of dat ongegronde agterdog oor hulle gesaai word ten spyte van totaal deursigtige bestuursmodelle en jaarlikse skoon ouditverslae nie, is hulle beslis nie kwaad nie,” sê Versluis in die verklaring.

Ná soveel feesvreugdes weet die direksie dat hulle in die stigtingsdoel van die Gariep-kunstefees geslaag het en stap hulle met “vreugde en vrede weg”.

Die Gariepfees is jaarliks deur mense van alle rasse en tale besoek en geniet. Dis een van die dinge wat die fees juis so uniek gemaak het, dat daar iets vir almal was en wat bygedra het tot nasiebou.
Bernice Versluis, uitvoerende bestuurder van die kunstefees

Volgens die verklaring is die fees “primêr, dog nie-uitsluitlik, in Afrikaans omdat die groter meerderheid van die inwoners in die Noord-Kaap Afrikaans is.

“Die Gariepfees is jaarliks deur mense van alle rasse en tale besoek en geniet. Dis een van die dinge wat die fees juis so uniek gemaak het, dat daar iets vir almal was en wat bygedra het tot nasiebou.”

Volgens ’n toerisme-impakstudie deur die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein is daar bevind dat plaaslike inkopiesentrums veral uit die fees gebaat het.

Sharon Steyn, DA-raadslid en uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse kamer van koophandel en nywerheid (Nokki), sê die Gariep Kunstefees het jaarliks geld vir Kimberley inbring.

Die fees het in 2017 sowat 45 000 besoekers na Kimberley gelok en ses permanente en 408 tydelike poste geskep.

Daarbenewens is 187 stalletjiehouers, 127 nasionale kunstenaars, 171 plaaslike kunstenaars, 16 produksies, 69 items op die feesprogram en drie uitreikprojekte met meer as 1 000 minderbevoorregte kinders, asook verstandelik gestremde volwassenes van die gemeenskap bevoordeel.

Agt instansies – Kansa, Caritas, Reach for a Dream, SANBS, Sanparke, SABR, die Orgaanskenkingstigting en die DBV – is deur die fees ondersteun.

Die fees is in 2000 deur Theuns Zimmermann, Marius Nagel en Corné Thompson, drie waaghalse wat passievol is oor die kunste, gestig.

Volgens Versluis kan feesgeesdriftiges wel uitsien na ’n afskeidskonsert later vanjaar.

Meer oor:  Kimberley  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.