Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Einde van pad vir Zuma en Magashule’

Dit lyk of die einde van die pad aangebreek het vir oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voormalige Vrystaatse premier.

Só het dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, Saterdag op ’n DA-Kerspartytjie vir bejaardes van Fichardtpark en Pellissier in Bloemfontein gesê.

Jankielsohn sê Zuma, wat uit die Zondo-kommissie se sitting weggestap het sonder om te getuig, probeer hom uit elke beskuldiging wikkel. Daarby moet hy in die hof verskyn op die klagte wat die DA teen hom ingedien het.

Op die Kerspartytjie vir bejaardes van Fichardtpark en Pellissier in Bloemfontein was van links dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat, Dolly Stander, predikantsvrou, ds. Bennie Stander, afgetrede leraar van die NG gemeente in Wesselsbron, en Rossouw Botes, DA-raadslid van die wyk wat die Kersgeselligheid aangebied het. Foto: Marietjie Gericke
Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier van die Vrystaat, saam met Juliana Kraft en Sarie van Rensburg van Bloemfontein op die Kerspartytjie wat die DA vir bejaardes van Fichardtpark en Pellissier aangebied het.Foto: Marietjie Gericke
Op die DA in wyk 24 se Kersgeselligheid in Bloemfontein Saterdagoggend in Pellissier, was van links dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, die sanger Deon de Jager, ds. Charles James, predikant van die NG gemeente Pellissier, Rossouw Botes, DA-raadslid vir wyk 25 wat die geleentheid aangebied het, en Hardie Viviers, koukusleier van die DA in die Mangaung-metro.Foto: Marietjie Gericke

Jankielsohn meen meer inligting gaan nog uitkom, en Magashule, wat in die hof verskyn het in verband met die asbesdak-skandaal, kan moontlik ook op ander aanklagte – onder meer oor die Vrede-suiwelprojek – in hegtenis geneem word.

Jankielsohn het gesê hy is bekommerd oor die Vrystaat wat politiek, ekonomies en sosiaal-maatskaplik op ’n kantelpunt is.

Inwoners moet besef hulle sal self bepaal na watter kant die pendulum gaan swaai, ook deur hul reaksie wanneer hulle by betogings soos in Senekal en Brackenfell in Kaapstad uitgedaag of getart word.

Sulke betogings is nie die plek vir populistiese politiek nie, het hy gesê.

“Ons sit met ’n Grondwet waarin mense se regte verskans is en waarin godsdiensvryheid beskerm word. Nou sit ons met ’n klomp mense wat ’n ander idee het van hoe Suid-Afrika behoort te lyk.”

Jankielsohn sê die DA gaan Julius Malema vroeg aanstaande jaar by die gelykheidshof verkla oor haatspraak. Malema het in September verlede jaar onder meer ’n uitspraak van oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe aangehaal dat enigste wit mens wat vertrou kan word, ’n dooie een is en daaroor getwiet.

Oudpres. Jacob Zuma.Foto: Sidwell Guduka

Die DA wag op ’n uitspraak van die Grondwethof oor haatspraak voordat hulle Malema gaan aankla, want dit sal hul saak versterk, sê Jankielsohn.

“Almal moet saamwerk om die Grondwet en die regstaat te versterk teen ’n populistiese grondwetlike bedeling,” het hy gesê.

Hy het ook die regering gekap oor die R1,5 miljard wat weggevat is by die begroting van die polisie om te help betaal aan die reddingsboei vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Jankielsohn voorspel met staatstoelae wat verminder en munisipaliteite wat steier, kan meer betogings oor dienslewering en watertekorte in die Vrystaat verwag word.

Ace Magashule
Ace Magashule Dinsdagmiddag op ’n mediakonferensie van die ANC in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Jankielsohn het ook verwys na staatstoelaes wat verminder word en munisipaliteite wat sukkel. Hy voorsien baie meer optogte in die Vrystaat oor die swak dienslewering en watertekorte.

“Die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit is nie eens in staat om ’n diensterekening uit te stuur nie. Inwoners in dié gebied moet met vyf liter water per dag oor die weg kom.”

Oor veiligheid op die platteland het hy gesê boere het hulle goed georganiseer om saam te staan om hulself te beskerm. Toe daar onlangs varke by hom gesteel is, was daar gou ses bakkies op die toneel.

“Ek hoop inwoners van dorpe en stede in die Vrystaat gaan hulle ook so organiseer om saam te staan teen misdaad en om mekaar te beveilig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.