Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ek het nog werk te doen in Jhb’ – Mashaba
Herman Mashaba

Hy het onafgehandelde werk van toe hy nog burgemeester van Johannesburg was, sê Herman Mashaba, Action SA se burgemeesterskandidaat vir dié stad in die komende plaaslike verkiesing.

Mashaba, leier van Action SA, was vir drie jaar DA-burgemeester van Suid-Afrika se grootste stad voordat hy uit die DA bedank en sy eie party gestig het.

“In die drie jaar wat ek burgemeester van Johannesburg was, het ek agtergekom hoe wanfunksioneel dié stad was. Ek het nog werk om af te handel,” het Mashaba op ’n mediakonferensie gesê.

Hy het ook aangekondig dat Abel Tau, ’n voormalige DA-burgemeesterskomiteelid in die Tshwane-metroraad, Action SA se burgemeesterskandidaat vir Tshwane in die plaaslike verkiesings sal wees, terwyl die party hoop Letlhogonolo Moseki sal ná die verkiesing Ekurhuleni se burgemeester wees.

Oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het Dinsdag by die Verkiesingskommissie (OVK) aanbeveel dat die verkiesing, wat op 27 Oktober moet plaasvind, in die lig van die Covid-19-pandemie tot nie later nie as die einde van Februarie 2022 uitgestel word.

Moseneke het, nadat hy wyd gekonsulteer het, gesê onder die huidige omstandighede sal dit nie moontlik wees om ’n vrye en regverdige verkiesing te hou nie.

Abel Tau

Michael Beaumont, nasionale voorsitter van Action SA, het gesê die party het die name van 116 kandidate aan die OVK voorgelê. Een van hulle is die 18-jarige Chinedu Edward, ’n matrikulant.

David Tembe, ’n voormalige metropolisiehoof van Johannesburg, sal ook ’n kandidaat in die verkiesing wees.

Beaumont sê meer as 22 000 mense in die gemeenskap het aan die verkiesing deelgeneem om Action SA se kandidate aan te wys.

Mashaba het 94% van die stemme in Johannesburg op hom verenig, Tau 79% in die Tshwane-omgewing en Moseki 58% onder die mense van Ekurhuleni.

Onder die ander kandidate tel ook voormalige parlementslede, oud-burgemeesterskomiteelede, entrepreneurs, regslui en eertydse staatsamptenare, soos die 73-jarige Michael Tshishonga.

Beaumont sê Action SA se verkiesingsveldtog sal “positief en oplossingsgerig” wees.

Mashaba sê hy sal – soos toe hy DA-burgemeester was – fokus op onder meer die blaas van nuwe lewe in die middestad, die stryd teen korrupsie, om die stad se strukture meer vaartbelyn te maak en die daarstelling van ’n professionele en verantwoordbare amptenary.

Tau sê op sy beurt die inwoners van Tshwane verdien beter dienslewering as wat hulle tans onder die DA en sy “spook-burgemeester”, Randall Williams, kry.

Moseki sê hy glo onder ’n Action SA-bewind kan in Ekurhuleni ’n omgewing geskep word waarbinne ondernemings en entrepreneurs kan floreer en broodnodige werksgeleenthede vir dié metro se mense geskep kan word.

Meer oor:  Action Sa  |  Herman Mashaba  |  Verkiesing  |  Kandidaat  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.