SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Ek is jammer, ek het nou die lig gesien, sê Mzwanele

Hy is jammer oor die seer wat bruin gemeenskappe aangedoen is toe hy agt jaar gelede op kykNET gesê het dat senior bruin bestuurders buite die Wes-Kaap werk moet gaan soek. So sê Mzwanele Manyi, voormalige DG van arbeid, wat nou as kandidaat vir die African Transformation Movement (ATM) deelneem aan die verkiesing op 8 Mei.

Mzwanele Manyi

Manyi sê die opmerkings is eintlik in Maart 2010 gemaak, en daar was geen negatiewe reaksie nie. Mense wat die uitsending gesien het, was bewus van die konteks en gees daarvan.

“Die reaksie het eers ’n jaar later, in Februarie 2011, gekom, toe ek by die regering se kommunikasiediens aangesluit het. Ek blameer Solidariteit en veral Trevor Manuel (oudminister van finansies) vir die verpolitisering en rasse-toon daarvan buite konteks.”

Manuel het Manyi destyds as ’n “eersterangse rassis” bestempel.

Manyi sê die konteks was dat hy as DG van arbeid verantwoordelik was vir die normalisering van die arbeidsmark en het bruin bestuurders – nie alle bruin mense nie – aangemoedig om na provinsies te gaan waar hulle die minste verteenwoordiging op topvlak het. Dit sou maatskappye help met hul rasseteikens ingevolge die Wet op Diensbillikheid.

“Daar was geen kwaadwilligheid in my verklaring nie. Rasseklassifisering is regeringsbeleid, nie myne nie. Dis die beleid wat Manuel in 20 jaar in die kabinet nooit uitgedaag het nie.

“Ek vra om verskoning en erken die pyn wat bruin gemeenskappe aangedoen is weens die direkte verdraaiing van my verklaring.”

Iets waaroor Manyi geen rede sien om berou te toon nie, is sy vurige ondersteuning van oudpres. Jacob Zuma en die Gupta-familie, wie se mediabelange hy in Augustus 2017 oorgeneem het. Die maatskappy TNA Media het later tot niet gegaan.

Ondanks die talle aantygings teen die Guptas voor die Zondo-kommissie – insluitende korrupsie en omkopery - sê Manyi hy wag steeds op tasbare bewyse dat hulle skuldig is.

“Ek het die Zondo-kommissie dopgehou en gehoop om duidelikheid te kry oor die misdade van die Guptas. Pleks daarvan het sleutelgetuies hulself in die verleentheid gestel,” sê hy.

Hy was as ANC-lid deel van die “RET- (Radical Economic Transformation) magte” – ’n faksie van Zuma-lojaliste.

Maar Manyi sê hy het nou die lig gesien. “Ek was vir jare deur die ANC betower. Deur die ingryping van God het ek nou ’n party gevind wat glo in diensbaarheidsleierskap waar die belange van die gemeenskappe heel belangriker is as dié met mag.

“Ek is na die waardes van die ATM getrek, veral die waarde van ubuntu en verantwoordbaarheid.”

Hy ontken vroeëre berigte dat Zuma agter die stigting van die party sit en sê ATM is “God-geïnspireerd”.

Onder meer stel die ATM die doodstraf voor vir ernstige oortreders in gru-misdade soos verkragting en moord. Veroordeelde misdadigers gaan nie meer “driester-hotelbehandeling” kry “asof hulle beloon word vir hul afskuwelike dade nie”, maar sal onder toesig aan terugploegprojekte werk om hul skuld aan die gemeenskap te betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.