Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
HAMBA ZUMA
'Ek is nie bang om uit te tree'

“Ek bedank onmiddellik as president.”

Met dié paar woorde het Jacob Zuma laat Woensdagaand op ’n mediakonferensie by die Uniegebou in Pretoria sy bedanking aangekondig ná ’n termyn van nege jaar.

Sy laaste woorde as president was: “Baie dankie”. In Afrikaans.

Dit was net sowat ’n uur voordat die spertyd sou verstryk wat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) aan hom gestel het.

Met sy bedanking het adj.pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, outomaties die waarnemende president geword.

Ek bedank onmiddellik as president.

Dit bring ook mee dat die mosie van wantroue in Zuma wat Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering (NV) aangehoor sou word, nie meer nodig is nie.

Die kabinet hoef nie te bedank nie, wat wel die geval sou wees na ’n geslaagde mosie van wantroue. Zuma het gesê om president te wees, was ’n eer wat hy sal koester so lank as wat hy leef.

“Maar ek moet dit aanvaar as my party en my landgenote my uit die amp wil hê.

“Ek vrees geen mosie van wantroue of om in ’n staat van beskuldiging geplaas word nie. Dit is die wettige meganismes vir die mense van Suid-Afrika om hul president te verwyder.

Maar ek moet dit aanvaar as my party en my landgenote my uit die amp wil hê.
Aan die einde van sy toespraak het hy die volk met ’n wuif gegroet. Foto: Deaan Vivier

“Ek het die land tot die beste van my vermoë gedien,” het Zuma gesê.

“Ek is nie bang om uit te tree nie. Ek het net my party gevra om my oortredings en redes waarom ek die amp moet verlaat, te verduidelik.

“Ek vrees dit nie om my politieke amp te verlaat nie.

Geen leier moet ’n maklike uitweg soek omdat hy nie sonder die voordele van sy amp kan klaarkom nie.

“Moet geen fout maak nie. Geen leier moet verby die tyd dien wat bepaal word deur die mense nie.”

Zuma het Suid-Afrikaners bedank dat hy hulle sedert 2009 as president kon dien.

Ek het nie die politiek betree vir die voordele daaraan verbonde nie.
Die oudpresident verlaat vir oulaas die podium in die Uniegebou in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

In Zoeloe het hy gesê: “Ek het nie die politiek betree vir die voordele daaraan verbonde nie.”

Hy het die ANC en die nasie gevra om sy regte te respekteer.

“Toe ek my ontplooiing as president aanvaar het, het ek verstaan en onderneem om myself te onderwerp aan die Grondwet. Ek is ewig dankbaar dat hulle my vertrou het met die hoogste amp in die land.

“Ek respekteer die voorskrifte van die Grondwet.”

Dit is waar dat daar ’n ooreenkoms was “vir ’n oorgangstydperk waar ek sommige van my funksies aan die adjunkpresident sou oordra”, sê Zuma.

“Ek het ook nie ingestem om te dien omdat daar nie beter kamerade is nie. Ek het nie ingestem om te dien om met voordele uit te tree nie.

“Dit is my party wat my voor die verteenwoordigers van die mense in die Nasionale Vergadering (NV) geplaas het.

“Die grondwetlike lyn tussen party en staat word dikwels vergeet in normale partystruwelinge.

“Ons wil dikwels die party as die oppergesag van die land plaas.

“Niemand van ons, maak nie saak hoe perfek ons is, kan sê die bou van ’n nuwe samelewing en die verandering van ’n bevrydingsbeweging in ’n moderne party is maklik nie.

“Ek het ingevolge die Grondwet gedien in my kapasiteit as president van die Republiek. Ek verstaan ten volle ek moet dien waar dit die party, die ANC, behaag.

“Ek het my lewe lank die ANC gedien.”

Ek het my lewe lank die ANC gedien.

Vroeër Woensdag het ’n uitdagende Zuma egter gedreig dat die kwessie rondom sy herroeping as staatshoof die ANC in ’n krisis sal dompel “waaroor ek seker is my kamerade, my leiers, spyt sal wees omdat sommige mense nie daarvan sal hou nie en kan voel dat iets verkeerd is”.

Zuma het in ’n televisie-onderhoud met die SAUK gewaarsku as die ANC-leiers nie versigtig is nie, kan sy herroeping groter probleme skep as met die herroeping van oudpres. Thabo Mbeki.

Zuma was destyds die hoofargitek om Mbeki te laat herroep.

“Moet nie jul gesag toepas op ’n manier wat uiteindelik probleme vir die organisasie sal skep nie,” het hy sy kamerade in die ANC gewaarsku.

Die plan is dat Ramaphosa Vrydag om 19:00 die staatsrede sal lewer. – Llewellyn Prince, Philda Essop, Sarel van der Walt en Selloane Khalane.

Meer oor:  Zuma  |  Jacob  |  Cyril Ramapahosa  |  Pretoria  |  Uniegebou  |  Politiek  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.